VSA, Japan veroordeel Noord-Korea se grootste kerntoets

Deel op

Washington en Tokio dring daarop aan die “sterkste moontlike” maatreëls teen Noord-Korea ingestel word nadat dié land Vrydag sy grootste en kragtigste kerntoets ooit uitgevoer het, het ‘n top Amerikaanse gesant oor die naweek gesê.

Meteorologiese agentskappe het vroeg Vrydagoggend ’n seismiese skudding naby Noord-Korea se kerntoetsterrein waargeneem.

Volgens Amerikaanse, Europese en Chinese agentskappe het dit volgens die Amerikaanse geologiese opname 5,3 geregistreer.

Noord-Korea se optrede is uit verskeie oorde skerp veroordeel. Die VN-veiligheidsraad het sedert 2006 ’n aantal belangrike resolusies aanvaar wat sanksies teen Noord-Korea instel en verskerp omdat die land voortgaan om sy kernwapenprogram te ontwikkel.

Sung Kim, die Amerikaanse departement van buitelandse sake se spesiale gesant vir Noord-Koreaanse beleid, het ook laat blyk dat die VSA moontlik sy eie sanksies gaan instel in reaksie op Noord-Korea se “uitdagende en onaanvaarbare” optrede.

“Ons sal ten nouste binne die VN-veiligheidsraad en daarbuite saamwerk om met die sterkste moontlike maatreëls teen Noord-Kore se jongste optrede vorendag te kom,” het hy aan joernaliste in Tokio gesê ná afloop van ‘n vergadering met sy Japannese ampsgenoot, Kenji Kanasugi.

“Bykomend tot sanksies deur die VN-veiligheidsraad, sal beide die VSA en Japan in samewerking met Suid-Korea ook kyk na eensydige sanksies,” het Kim gesê sonder om verdere besonderhede daaroor te verstrek.

Noord-Korea hou ondanks vyf verskillende stelle sanksies sedert 2006 deur die VN-veiligheidsraad vol dat hy met kerntoetse sal voortgaan.

Die internasionale gemeenskap het die naweek langs allerlei diplomatieke kanale probeer om China sover te kry om Pyongyang te oorreed om die VN-sanksies te gehoorsaam.

China het gesê hy “verwerp die toetse ten sterkste”, maar ontleders meen Beijing probeer die val van Noord-Korea voorkom ten einde te verhoed dat die magsbalans in die Koreaanse skiereiland na die VSA oorhel.

Volgens Kim sal Washington egter volhou met die gesprekvoering met China oor die jongste krisis. “Ons sal voortgaan om China te probeer oorreed om die bestaande sanksies te implementeer en met ons saam te werk ten einde te verseker dat Noord-Korea se gedrag en optrede verander,” het hy gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.