Die Mosambiekse weermag het ‘n basis wat gebruik word deur Renamo-rebelle, die hoof opposisie in die land, vernietig, het die polisie Sondag gesê.
Renamo (foto), wat voorheen ‘n 16-jaar lange burgeroorlog gevoer het tot en met 1992, het geweier om die resultate van 2014-verkiesing te aanvaar.
Hulle beweer die regerende Frelimo-party wat sedert onafhanklikheid 40 jaar regeer, bly deur korrupsie aan bewind.
Die basis in die sentrale distrik Morrumbala is gebruik om vragmotors vol goedere, busse en ander teikens aan te val, het die polisie gesê.
Renamo het in afgelope paar jaar ‘n reeks dodelike aanvalle in die land geloods om sy stem te laat hoor.
“Verdediging- en veiligheidsmagte het die hoofkwartier van Renamo in Zambezia (in distrik Morrumbala) Saterdagoggend bestorm en daarin geslaag om goedere wat gesteel is in die gebied terug te vind,” het die polisiewoordvoerder Jacinto Felix aan AFP gesê.
‘n Onafhanklike uitsaaier STV berig dat agt mense gedood is in Saterdag se botsing, maar nie die polisie of Renamo kon die dodetal bevestig nie.
Maandag sal vredesgesprekke tussen die regering en Renamo voortgaan in die hoofstad Maputo in die teenwoordigheid van internasionale bemiddelaars.
Die vredesgesprekke is in Augustus gestaak toe die partye nie kon ooreenkom oor ‘n skietstilstand nie.