Noord-Korea voer vyfde kerntoets uit

Deel op

Noord-Korea het bevestig dat hy ‘n vyfde kerntoets uitgevoer het, ure nadat seismiese stelsels ‘n ontploffing naby sy kerntoetsterrein waargeneem het.

Dit is soortgelyk aan ‘n aardbewing van 5,3 op die Richterskaal.

Die staatstelevisie in Noord-Korea sê dié land het nou die kennis om kernplofkoppe op ballistiese vuurpyle te monteer.

Dit blyk ook dat daar geen lekkasie van kernmateriaal was tydens die toets nie en dat daar geen impak om die omgewing was nie.

Suid-Korea het intussen ‘n noodvergadering van sy nasionale veiligheidsraad belê.

Suid-Korea se intelligensiediens is bekommerd dat Noord-Korea vinniger vorder met die miniaturisering van kernkoppe vir missiele, het ‘n wetgewer by die vergadering gesê.

Kim Byung-Kee, ‘n lid van intelligensiekomitee in die Suid-Koreaanse parlement sê die Noorde se bedoeling is om ‘n sterk beeld van sy leier, Kim Jong Un (foto, heel regs) uit te straal ter die herdenking van die ontstaan van die Republiek in 1948 en om internasionale sanksies uit te daag.

Noord-Korea word deur die VN verbied om enige kern- of missieltegnologie te toets en bykomende sanksies is reeds ingestel ná sy vierde kerntoets in Januarie.

Die VN se waghondagentskap het hul “diep kommer” uitgespreek oor die toets.

Asiese markte het gedaal na die aankondiging van die toets. Na verwagting sal dit dieselfde uitwerking hê op Europese markte waar die FTSE 100, die DAX in Duitsland en die CAC 40 almal vanoggend laer geopen het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.