Karel Combrinck: Ondermaanse manewales

Life’s but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more: it is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing

  • Skakespeare, Macbeth

Foto hier bo: Ontwerp van ‘n teaterstel vir Samuel Beckett se toneelstuk: Wagtend op Godot.

Loopgraaf tydens die eerste wêreldoorlog
Loopgraaf tydens die eerste wêreldoorlog

‘n Loopgraaf in die EWO. Miljoene mense het letterlik vir jare lank so gelewe. Miljoene het ook nooit weer teruggekom nie. Beelde soos hierdie, tesame met die vernietiging van die kultuurstad, Dresden, die atoombombardemente van Hirosjima en Nagasaki en die napalmaanvalle op die bevolking van Viëtnam is diep gegrafeer in die psige van die moderne mens. Ons kan sekerlik byvoeg die verskroeide-aardeprogram van die Britte gedurende die ABO en die volkeremoord in die konsentrasiekampe. Beskawings wat tot sulke gruweldade instaat is, kan net nie as beskaafd beskou word nie en daarom word die term “beskaafd” op sigself ook betekenisloos .

Wat kan meer absurd wees as mense van dieselfde ras, van dieselfde geloof en van dieselfde kultuur wat mekaar by die miljoene uitroei in rot- en rioolbesmette loopgrawe met kanonne, bomme, bajonette en gifgas sonder dat hulle hoegenaamd weet waarom hulle daar is of omdat hulle dink hulle is daar omdat ‘n halfgek student ‘n Oostenrykse operetteprins in Sarajewo vermoor het? As die mensdom na Nietzsche se verklaring van 1885 nog hoegenaamd in die sin van die lewe kon glo, was dit na hierdie kataklismes bykans nie meer moontlik nie.

In sy rubriek oor die haregedoente van 5 September praat dr Roodt van die “tragikomedie wat as die nuwe Suid-Afrika bekendstaan”. Tragikomies is dit inderdaad, oftewel teater van die absurde.

Dit is nou eenmaal in die aard van die mens dat hy sal vra na die sin van sy bestaan en van die lewe self. Die rakke van biblioteke staan vol bande deur filosowe, digters en ander denkers wat hierdie ewigdurende vraag probeer deurvors.

Die meeste normale mense sal seker die een of ander tyd voel dat hulle lewe geen sin het nie en meer nog, dat die lewe in sy geheel sonder sin is. Hoeveel sin is daar te make uit ‘n wêreld waar mense in die naam van God ‘n bom in ‘n hospitaal gooi of met ‘n vragmotor tussen ‘n massa feesvierendes injaag of waar ‘n twaalfjarige kind homself en ‘n honderdtal ander mense op ‘n bruilof aan flarde skiet? ‘n Gelowige mens sou sekerlik moeite hê om sulke gebeure te verklaar as die Wil van God. Tog is daar “gelowige” Moslems wat dit wel so verklaar, maar dit is Moslems. Die vraag is hoe verklaar óns dit ? Die meeste mense probeer nie om verklarings vir absurditeit te vind nie, maar om bloot so goed as moontlik daarmee saam te leef. (Hulle cope.)

Alledaagse voorbeelde van die absurditeit van ons bestaan is reeds in ‘n vorige stuk (Absurditeit is ons daaglikse brood van 5 Okt 2014) genoem en verskeie van hulle bevat die mengsel van komedie en tragedie wat so kenmerkend is van die teater van die absurde.

Die enkele belangstellendes wat tot hier gelees het, sou miskien kon raai dat die onderwerp van hierdie artikel die teater van die absurde is. Hulle het reg geraai. Dit gaan in hierdie stuk nie om die sinvolheid of andersins van die lewe in die algemeen nie, maar om die teater van die absurde as literêre vorm spesifiek.

Of ‘n mens die lewe sal beskou as sinvol of absurd sal, soos gesê, in ‘n groot mate saamhang met sy algemene lewensbeskouing. Is hy byvoorbeeld gelowig, of inteendeel ‘n ateïs? Vir ‘n gelowige mens om die lewe as sinloos te sien, is ‘n paradoks. Maar baie mense, waarskynlik die oorgrote meerderheid, is geen gelowiges nie, of bewys net lippediens daaraan.

Veral sedert Friedrich Nietzsche se nihilistiese uitsprake van laat in die negentiende eeu worstel skrywers en filosowe onverpoos (en tevergeefs miskien) met die probleem van watter sin gemaak kan word uit ‘n lewe sonder God. En dan, soos in die eerste paragraaf hierbo gestel, selfs gelowige mense vind dit soms moeilik om die wêreld konsekwent uit ‘n gelowige perspektief te verklaar.

Veral in die twintigste eeu was toneelskrywers soos die Ier Samuel Beckett en die Roemeen Eugène Ionesco eksponente van hierdie letterkundige genre as ons dit so kan noem. ‘n Goeie voorbeeld is die teaterstuk Wagtend op Godot van Beckett waarin die hoofkarakters in ‘n kloustrofobiese landskap rondwroeg op soek na iets wat nie bestaan nie. Die titel Wagtend op Godot is al vertolk as sou dit beteken wagtend op God, maar dis onseker.

teatervdabsurde2

Kenmerkend van die teater van die absurde is onder meer die vermenging van komiese en tragiese elemente, satire, oordrywing, karikatuur, die voorstelling van karakters as harlekyne of marionette, die dekonstruksie van logiese of samehangende taalgebruik en van elementêre logika wat soms so ver gaan as ‘n soort nagmerrie. Hoe sou ‘n bestaan sonder sin anders voorgestel kon word as deur onsamehangende dialoog en groteske situasies ? As ons nie wil huil oor die menslike lot nie, kan ons minstens daaroor lag, al is die lag dan ook hoe wrang.

Nou is dit egter nodig om te beklemtoon dat die teater van die absurde nie die gedagte van die sinneloosheid van ons bestaan geskep het nie, maar bloot in woord en handeling gestalte gegee het aan ‘n tydsgees. Dit is tog meesal die geval: die teater skep nie die wêreldorde nie, maar plaas dit bloot in ‘n min of meer konkrete vorm visueel ten toon. Shakespeare stel dit in die teaterstuk Hamlet so: “the purpose of playing whose end, both at the first and now, was and is, to hold as’t were the mirror up to nature”. “Nature” het hier die betekenis van die werklikheid, die natuurlike orde van dinge soos dit is.

Die twintigste-eeuse teater van die absurde is ook nie die eerste literêre verskynsel wat die sinneloosheid van ons bestaan probeer verwoord nie. Koning Lear en sy metgeselle se manewales op die verlate vlakte is ‘n sprekende voorbeeld van die teater van die absurde en so is ook die streke van Miguel Cervantes se Don Quijote, asook van die verspotte karakters van Molière.

Maar die ware bron van die literatuur van die absurde is nie letterkundig van aard nie. Dis die lewe self, die menslike komedie, waarvan die Suid-Afrikaanse samelewing ‘n uitmuntende voorbeeld is.

Ten spyte van die hansworsery is die teater van die absurde wesenlik pessimisties. Leef ons nie almal in pessimistiese tye nie? Almal sal nie saamstem met die nihlistiese onderbou van hierdie kunsvorm nie, maar geen moderne mens kan afsydig staan nie teenoor die doenighede wat op die verhoog voor hom afspeel en wat die verlorenheid van ons moderne wêreld so treffend weerspieël. Vandaar dan ook die vreemde impak van die teater van die absurde op ‘n moderne gehoor .

Die teater van die absurde hou ten nouste verband met die eksistensialisme. ‘n Mens sou kon sê die eksistensialisme verskaf die intellektuele raamwerk vir die teater van die absurde. Laasgenoemde gee visuele gestalte aan die gedagtegang wat eersgenoemde in woorde uitdruk. Daar is wel ook belangrike verskille. Waar die teater van die absurde selfs nie eers probeer om sin aan die wêreld te gee nie, meen die eksistensialis dat hy wel betekenis aan sy bestaan kan gee en die wêreld ‘n beter plek kan maak deur sy eie bemoeienis. Dit is waarom Jean-Paul Sartre gesê het “die eksistensialisme is ‘n humanisme”. Die humanisme trag by uitstek om van die wêreld ‘n “beter” plek te maak.

Vir ‘n duidelike en bondige uiteensetting van die wesenseienskappe van die eksistensialisme lees Leon Lemmer se artikel Selfmisleiding weens valse bewustheid en slegte geloof van 28 Augustus.

Onder die verlorenes en verdwaaldes wat die eksistensiële letterkundige wêreld bevolk, is goeie voorbeelde die karakters Joseph K in Franz Kafka se roman Der Prozesz (Die verhoor) en Meursault in Albert Camus se roman L’Etranger (Die buitestaander wat deur PRAAG uitgegee is.)

Franz Kafka
Franz Kafka

Die naam K lyk baie na ‘n verwysing na die skrywer self. K weet nie waarvan hy aangekla word nie en hy weet ook nie wie hom vervolg nie, miskien ‘n soort gesiglose totalitêre burokrasie. In Die buitestaander, ‘n roman van Albert Camus gaan dit om die amoraliteit van Meursault, ‘n onbetrokke, afsydige, emosioneel neutrale en ongeërgde figuur wat uiteindelik ‘n soort eie waarheid en outentisiteit probeer vind, vry van sosiale voorskrifte en konvensionele moraliteit.

Die roman maak deel uit van ‘n groep van vier werke wat Albert Camus self beskryf het as sy “Siklus van die absurde” en wat ook nog insluit die essay, Die Sisyphusmite en die teaterstukke Caligula en Die misverstand. Die Sisyphusmite gee misien die duidelikste uiteensetting van wat Camus met eksistensialisme bedoel. Sisyphus is ‘n figuur uit die Griekse mitologie wat as straf vir oortredings van sosiale en morele kodes van die tyd, verdoem is om ‘n reuseklip tot in alle ewigheid teen ‘n berg op te rol. Telkens as hy ‘n bietjie vorder, rol die klip net weer terug. Camus beskou Sisyphus as ‘n gelukkige mens wat sy geluk put uit sy volgehoue poging om hierdie doelwit te bereik wat hy uit die staanspoor weet onuitvoerbaar is.

Die teater van die absurde stel ‘n hele versameling kultuurgoedere daar waarvan ‘n ingeligte en denkende mens graag sal wil kennis neem.

Enkele eksistentialiste en skrywers van die absurde:

Martin Heidegger
Karl Jaspers
Søren Kierkegaard
Jean-Paul Sartre
Simone de Beauvoir
Albert Camus
Maurice Merleau-Ponty
Feodor Dostojefski
Samuel Beckett
Eugène Ionesco
Arthur Adamof
Edward Albee
Tom Stoppard
Harold Pinter
Jean Genet

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Karel, baie dankie.
    Jy het ‘n uiters netelige en sensitiewe situasie wat tans in ons land heers op ‘n uiters besondere wyse aangevat om vir my en moontlik nog ‘n paar ander praag lesers toe te lig oor die dwalinge wat daar kan plaasvind in gemeenskappe van uiteenlopende kulture en die misplasings wat dan ontstaan daaruit, asook die belediging van mense se integriteit.
    Baie dankie. ‘n Mens sal dalk hierdie rubriek weer so ‘n dag later moet deurlees om dit net nog beter te “verteer”,

  • Ou Transvaal

    In hierdie wereld maar nie van hierdie wereld nie ???
    Ek sal graag wil verneem van die geleerde skrywers hierbo wat hulle woordomskrywing van “MENS” sal wees .

    • Johan

      Die tydsgees wat mens geword het.

      Dink aan die spieël – die tydsgees is die spieël en wat jy sien is die mens, geprogrammeer volgens die tydsgees.

      Die spieël weerspieël uiteindelik die dekadensie van die samelewing.

      Die dekadensie word beveg met moralisme. Geen wonder die skrywer stel dit [sinies] …. Maar baie mense, waarskynlik die oorgrote meerderheid, is geen gelowiges nie, of bewys net lippediens daaraan.
      Wat is makliker om voor te gee dat mens hoë morele standaarde handhaaf. Elke kommentator hier op Praag klim op die stomp van moralisme – myself ingesluit.
      Ons (die samelewing) het die boom van die lewe afgekap daarom staan ons op die stomp van moralisme, dekadensie, ens en vertel vir onsself en andere hoe wonderlik ons is.
      Selfbedrog, selfmisleiding – die blou pil.

  • leonlemmer

    Die huidige Suid-Afrika kan inderdaad as ‘n teater van die absurde beskou word. Lees bv ook Johannes Comestor se artikel, “Albert Camus se pes of plaag” (LitNet 7.03.2013), waarin beweer word dat die plaaslike “demokratiese rewolusie” goedskiks as ‘n pes of plaag, bv “iets wat voortdurend ergernis veroorsaak”, vertolk kan word.

  • Domkhonto

    Ek voel dat dit uiters absurd is dat instellings soos K-Affirmative Action, BEE en sulke Totalitariese Orwellianse goeters op ons afgedwing word ..en dan dink ons dis OK ?

  • eduard

    “Men never do evil as thoroughly or as joyfully as when they do it in the name of God”. – Blaise Pascal 1623-1662.

    • henkst

      Daar bestaan nie ‘n bonatuurlike wêreld nie, waarin daar gode, engele en bose duiwels leef wat inmeng in ons ondermaanse bestaan.

      • eduard

        Wat het dit met die prys van eiers te doen?

        • G

          Niks presies, maar henkst wil sy sienings aan mense opdring. Hy soek enige verskoning daarvoor.

      • eduard

        “I would rather live my life as if there is a God, and find out there isn’t, than to live my life as if there isn’t and find out there is.” – Clark Little

  • Arnaud Malan

    Ongelukkig wend die outeur nie die spieelbeeld metafoor op innerlike en uiterlike menslike natuur aan nie. Visuele absurde het hoodtyd gevier in Dadaisme en later Surrealisme, treffend die moderne psigose tussen hart en verstand openbaar

  • Karel Combrinck

    Ek moes terloops genoem het dat twee van Eugène Ionesco se teaterstukke, Die Kaalkop Primadonna en Die Les, reeds die afgelope sewentig jaar ononderbroke in ‘n Paryse teater opgevoer word, dikwels meer as een keer per dag en altyd voor stampvol gehore.