Iran verbied by hajj in Saoedi-Arabië

Deel op

Arabiese Golfstate het Iran daarvan beskuldig dat hulle probeer om die hajj te “verpolitiseer”, nadat die land se opperleier die Saoedi-owerhede oor die bestuur van die jaarlikse pelgrimstog gekritiseer het.

Ten minste 2426 mense, insluitend 464 Iraniërs, is dood in die stormloop by verlede jaar se pelgrimstog in Saoedi-Arabië (foto). Volgens Saoedi-owerhede, is net 769 dood.

Die Ayatollah Ali Khameini het die Saoediërs van moord beskuldig: “Die hartelose en moorddadige Saoediërs het die beseerdes saam met die dooies in houers opgesluit.

“In plaas daarvan om aan hulle mediese behandeling te gee, hulle te help of ten minste hul dors te les, is die oorlewendes almal vermoor.”

Die hoof van die sesnasie Golf Samewerkingsraad sê die Ajatolla se opmerkings waarin hy Rijad van die moord op Iranse pelgrims by verlede jaar se hajj beskuldig, is “onvanpas en aanstootlik.”

Abdoellatif al-Zajani sê die opmerkings is ’n “duidelike aanhitsing en ’n desperate poging om die hajj te verpolitiseer”.

Vanjaar is die eerste keer in byna drie dekades dat Iraniërs nie deel van die jaarlikse pelgrimstog na Moslem heilige plekke in Saoedi-Arabië sal wees nie, nadat gesprekke oor logistiek en veiligheid in Mei ’n dooie punt bereik het.

Die woordewisseling tussen die twee lande wat nie diplomatieke ­betrekkinge het nie, kom op die vooraand van die pelgrimstog wat Saterdag begin.

Saoedi-Arabië het Iran daarvan beskuldig dat hulle nie ware Moslems is nie, maar Zoroastrane, ‘n antieke pre-Islamitiese geloof. Sjeikh Abdul-Aziz Al-as-Sheikh het Woensdag gesê: “Ons moet verstaan dat hulle nie Moslems is nie.”

Saoedi-Arabië se bevolking is byna 90 persent Soenni en is lank reeds in stryd met die 95 persent Sjia Iran – twee denominasies wat sedert die 7de eeu in konflik verkeer, maar meer onlangs word Saoedi-Arabië daarvan beskuldig dat hulle Islamitiese fanatisme en terreur aanmoedig met ondersteuning aan ISIS.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.