Die Joodse anti-apartheidsaktivis en ANC-lid, Ben Turok, sê ‘n landwye optrede deur ANC-lede wat openlik vra vir ‘n nuwe leier is nou nodig.
‘n Mislukte poging om president Jacob Zuma te kry om te bedank, is Maandag opnuut van stapel gestuur deur ‘n faksie in Gauteng by name “Occupy Luthuli House”. George Soros is klaarblyklik betrokke by die befondsing daarvan.
Maar die groepie lawaaimakers is uitgehou deur MK-veterane in kakie-klere wat gewapen was met stokke. Die optoggangers kon nie naby Luthulihuis kom nie.
Hulle moes hulle memorandum van griewe aan ‘n verteenwoordiger by Beyers Naudé-plein oorhandig.
Die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het Maandag die memorandum ontvang van die “Beset Luthulihuis” groepie wat eis dat Zuma en die hele Nasionale Uitvoerende Komitee bedank.
Turok het sy diep ontevredenheid uitgespreek oor die rol van die MK-veteranevereniging in die situasie gespeel het om die optog te fnuik.
Die veterane asook ander ANC-lede het Maandag opgeruk om Luthulihuis te verdedig teen die aanslag op Zuma wat volgens Turok “partydige” optrede was om die president te beskerm.
Turok het die veterane daarvan beskuldig dat hulle bevooroordeeld is teenoor diegene wat die ANC kritiseer. Hy sê hy steun die groepie se griewe maar hulle moet nie “wetteloos” optree nie.
‘n Optog-organiseerder vir die faksie, Bonolo Ramokhele, het gesê busse van Limpopo en Mpumalanga moes omdraai weens dreigemente van geweld.
Hy het gesê die organiseerders het oor die naweek verslae ontvang dat daar dreigemente van ernstige geweld is en net daar en dan besluit dat dit onveilig vir lede sal wees.
“Jy kan nie jou soldate uitstuur om te veg wetend dat hulle maklike teikens gaan wees nie.”