ANC slaan Gordhan- en bankvure dood

Deel op

Die ANC-vroueliga het die “skielike belangstelling” uit verskeie oorde bevraagteken om die minister van Finansies, Pravin Gordhan te beskerm.

“As jy ‘n lid van die ANC is en tot verantwoording geroep word, moet jy net gaan en rekenskap gee, soos die kwessie van die minister van Finansies. Ons is baie bekommerd oor die skielike belangstelling van almal, jou NRO’s en die burgerlike samelewing om die minister van Finansies te beskerm,” het die vroueliga se sekretaris-generaal Meokgo Matuba Sondag gesê.

Die Vroueliga het hul steun aan president Jacob Zuma herbevestig, gevra dat ‘n vrouepresident hom opvolg en dat dissipline binne die party gehandhaaf word.

Matuba het gepraat ná die Vroueliga sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) se vergadering hierdie naweek gehou het.

Sy het gesê Gordhan “moet rekenskap gee” aan die relevante strukture.

Matuba het Gordhan gevra om gehoor te gee aan die Valke se versoek om voor hulle te verskyn en vrae oor ‘n beweerde spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te beantwoord.

Die volgende president van die ANC moet ‘n vrou wees, het die Vroueliga ook Sondag verklaar.

Die voorsitter van die Afrika-Unie se Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, word glo tans voorberei om oor te neem van haar voormalige man Jacob Zuma.

Hulle het voorgestel dat die top ses van die ANC 50/50 verteenwoordig word deur beide mans en vroue: “Vroue moet die 50/50 verteenwoordigingsbeleid van die ANC afdwing in al ons strukture.”

Die Vroueliga het ook hul kommer uitgespreek oor politieke moorde.

In die Oos-Kaap ondersoek die polisie tans ‘n saak van brandstigting nadat die huis van die ANC-burgemeester van die Enoch Mgitjima-munisipaliteit in Tarkastad aan die brand gesteek is.

Die burgmeester, Lindiwe Gunuza-Nkwentsha, haar man en vier kinders was tydens die voorval in die huis.

Intussen het die organiseerders van die veldtog “Beset Luthuli-huis” gesê senior leiers van die ANC het die jeug in die steek gelaat.

Hulle sê in ‘n verklaring die groep wil red wat nog van die bevrydingsorganisasie oorgebly het.

Senior ANC-lui stel net belang in wie watter posisies binne die party moet beklee, sê hulle. Die groep beplan om vandag ‘n optog te hou na die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis.

Hulle sê hulle voer ‘n stryd teen teen gebrekkige intellek en morele waardes.

Die voormalige studenteleier van Wits, Mcebo Dlamini, ‘n ANC-lid van Johannesburg, Sasa Mananye en ‘n voormalige lid van die uitvoerende komitee van die ANC-Jeugliga, Ntibi Modise, is deel van die organiseerders.

Die organiseerders van die optog het ook die hotelbestuur in Pretoria om verskoning gevra waar hulle nuuskonfrensie Vrydag deur streekleiers van die ANC-Jeugliga ontwrig is.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe het ook ‘n beroep op ANC-lede gedoen om hulle te weerhou van kommentaar in die media oor die opskudding rondom die minister van Minerale Hulpbronne, Mosebenzi Zwane.

Die presidensie en die ANC het hul gedistansieer van Zwane se verklaring dat ‘n interministeriële komitee aanbeveel het dat ‘n regterlike ondersoek na banke gedoen moet word oor hul besluit om bande met die Gupta-maatskappy, Oakbay Investments, te verbreek.

Mantashe sê dié soort verklarings benadeel die party. Hy het in Bloemfontein gepraat ná ‘n vergadering met ANC takke in die Vrystaat. Mantashe het beklemtoon dat dit nie ‘n verklaring van die kabinet was nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.