Die Vatikaan se openbare betrekkinge kom in rat: St Theresa van Kolkata

Deel op

Anjezë Gonxhe Bojaxhiu, wêreldwyd bekend as Moeder Teresa, is tot heilige verklaar. Sy sal nou as St. Theresa van Kolkata bekendstaan.

NUUT!

Met ‘n Nobelprys onder die blad en ‘n nalatenskap van media-aandag wat ander supersterre in die skadu stel, is daar egter reeds aanduidings dat alles nie pluis was met die ontslape non nie.

Die Vatikaan se openbare betrekkinge oefening om haar as ‘n rolmodel voor te hou, terwyl sy twyfelagtige metodes gebruik het om haar werk te doen, moet ‘n mens tot nadenke stem.

Wat kan beter wees as saligverklaring gevolg deur kanonisering om die Kerk te vernuwe en lidmate te inspireer, veral op ‘n tydstip wanneer hul kerke besig is om leeg te loop en die Roomse owerheid paniekerig raak daaroor?

Saligverklaring is die derde stap in die rigting kanonisering. In kort, sal Moeder Teresa nou ‘n amptelike heilige van die Rooms-Katolieke Kerk word.

Wyle pous Johannes Paulus II het ‘n “wonderwerk” aan haar toegeskryf in 2003, buiten die twee ander wat ook moes plaasvind ten einde haar as ‘n heilige te erken.

‘n Vrou met abdominale pyn het herstel toe dokters en moderne medisyne nie die knoop kon deurhaak nie, het die pous destyds verklaar.

As die Vatikaan só ‘n saligverklaring aankondig, is daar gewoonlik ‘n vyf-jaar wagperiode.

Gerugte van Moeder Teresa se “goddelike heling” is daarna in die bekwame hande van Malcolm Muggeridge geplaas, ‘n joernalis met dieselfde Rooms-Katolieke ywer as sy.

Albei, en natuurlik die Roomse Kerk, wou ‘n bevolkingsontploffing in die Derdewêreld sien gebeur om hulle invloed te probeer herstel. Om daardie rede het sy en Muggeridge aktief teen alle vorms van voorbehoeding en geboortebeperking in die reeds oorbevolkte Indië gepreek.

Sonder Muggeridge, sou daar ongetwyfeld geen Moeder Teresa gewees het nie. Hy het sy bes gedoen om enige kritiek teen Moeder Theresa te smoor en haar aanhoudend buitenissige lof toegeswaai.

Die Duitse tydskrif Stern het vroeër nietemin ontbloot dat slegs 7 persent van skenkings aan haar organisasie wat gebruik is vir liefdadigheid eintlik daar beland het.

Die res is in geheime bankrekeninge weggesteek. Daar is berigte dat die missies wat met die geld gebou is, nie eens brood gekoop het om hul inwoners te voed nie, maar steeds staatgemaak het op plaaslike skenkings, terwyl daar oorgenoeg geld beskikbaar was.

In 2010, het Forbes aan die lig gebring dat die eerste huis ter beskerming van die armes, ‘n sterftesyfer van meer as 40 persent gehandhaaf het, nie veel beter as die ellende wat daagliks in Indië sigbaar is nie.

Dié soort onthullings is eerste deur ‘n Indiese dokter, Aroup Chatterjee gemaak wat ook gesien het hoe pasiënte by Moeder Theresa se sorgsentrums met besmette naalde ingespuit word.

‘n Britse joernalis, Christopher Hitchens het daarna ‘n program vir Channel4 gemaak. Hy het verder op Chatterjee se ondersoek voortborduur maar nie veel toegevoeg nie.

Die non is in 1997 in ‘n moderne Amerikaanse hospitaal oorlede met die beste sorg denkbaar, en is nie self onderwerp aan haar eie kultus van “lyding vir Christus” nie.

Meer as ‘n miljoen mense leef steeds op straat in Kolkata, Indië, byna ‘n vyfde van die bevolking.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.