Selfmoordbom ontplof in hoofstad van Kirgistan

Deel op

‘n Selfmoordbomaanvaller het Dinsdag met ’n motor deur die ingang van die Chinese ambassade in Bisjkek, die hoofstad van Kirgistan, gejaag en ’n bom laat ontplof.

Dié insident het opspraak gemaak omdat die plofbare Sentraal-Asië en die Kaukasus-gebied as ‘n brandpunt vir Moslemgeweld beskou word.

Die ambassade is langs die Amerikaanse ambassade in Bisjkek se suidelike voorstede geleë.

Dit het die lewe van die aanvaller geëis en drie personeellede van die ambassade, twee 17 jaar oue tuiniers en ’n onbekende vrou, gewond.

Almaz Kubatbekov, die hoof mediese beampte van Bisjkek se nasionale instituut vir trauma en ortopedie, sê die drie slagoffers het harsingskudding en veelvuldige kneusplekke opgedoen.

Foto’s van die toneel toon die binnehof van die ambassade wat met puin besaai is. Vensters van die gebou is ook uitgeruk en die gepleisterde mure is deur skrapnel beskadig.

Die ministerie van binnelandse sake het die voorval as ’n terroriste-aanval bestempel.

Die adjunkpremier, Zhenish Razakov, het aangedui dat hy ’n vergadering sal lei om veiligheidsmaatreëls te verskerp met die oog op vandag se viering van onafhanklikheidsdag en ’n spitsberaad van voormalige Sowjet-lande wat in middel September sal plaasvind.

Kirgistan, ’n voormalige Sowjet-­republiek, grens aan China en het ’n oorwegend Moslem-bevolking.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.