Die vlieg in die vrugtebedryf se salf

Suid-Afrika is die tuiste van verskeie vrugtevliegspesies, waarvan drie van ekonomiese belang is as gevolg van hul vermoë om vrugteproduksie te ontwrig en uitvoerbeperkings te veroorsaak. Die drie spesies wat as ontwrigtend beskou word vir vrugteproduksie, is die Mediterreense vrugtevlieg (Ceratitis capitata); die maroelavrugtevlieg (Ceratitis cosyra) en die Natalse vrugtevlieg (Ceratitis rosa). Oesverliese en plaagbeheerkoste as gevolg van vrugtevlieë beloop na raming meer as R20 miljoen per jaar net in die Wes-Kaap.

As gevolg van die vrugtehandel het die Mediterreense vrugtevlieg die grootste verspreiding van alle vrugtevlieë in die wêreld. Hierdie vlieg het homself in verskeie klimate gevestig, van gebiede soos die Wes-Kaap met ‘n tipies Mediterreense klimaat, tot tropiese streke in Oos-Afrika, dwarsoor Afrika suid van die Sahara en nog verder in die noordelike woestyne. Mediterreense vrugtevlieë blyk uitdrogingsverdraagsaam te wees, wat beteken dat hulle uiters droë weerstoestande kan verdra. Dit blyk dat solank daar die een of ander bron van water is, die Mediterreense vrugtevlieg kan oorleef.

Navorsing toon dat klimaatverandering hierdie plae se verspreiding beïnvloed – en nie op ‘n voordelige manier nie. Dr Chris Weldon van die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van Pretoria doen navorsing oor die voorkoms van vrugtevlieë en hoe sekere spesies sekere weerstoestande beter as ander kan verdra, veral baie warm, droë toestande as gevolg van klimaatverandering. Dr Weldon se studie is gemik op beter begrip van hoe hierdie vlieë sulke toestande kan verdra; hy ondersoek hoe Mediterreense vrugtevlieë aangepas het en doen ‘n vergelykende studie van die drie inheemse Suid-Afrikaanse vrugtevlieë.

Vrugtevlieë lê hul eiers in spesifieke soorte vrugte. Die kommersieel gekweekte vrugte wat die meeste deur hierdie vlieë aangetas word, sluit sitrus en sagtevrugte in. Die Mediterreense vrugtevlieg het ‘n baie groter gasheerverskeidenheid as die ander twee Suid-Afrikaanse vrugtevlieë, en dit dra by tot sy groot verspreidingsgebied.

Sy gasheerbestek dek na bewering meer as 300 verskillende vrugtesoorte. Interessant genoeg het dr Weldon bevind dat die maroelavrugtevlieg net so uitdrogingsverdraagsaam as die Mediterreense vrugtevlieg is, maar hy is baie meer uitsoekerig wat gasheervrug betref en lê sy eiers meesal in die maroelavrug en mango’s. Die maroelavrugtevlieg se verspreiding word dus beperk deur sy gasheerbestek eerder as deur sy vermoë om droë toestande te verdra. Die Natalse vrugtevlieg het die kleinste verspreidingsbestek; hy verkies natter toestande en het baie beperkte verdraagsaamheid vir droë toestande.

Dr Weldon se navorsing het ‘n interessante rede gekry vir die Mediterreense vrugtevlieg se vermoë om droë toestande te verdra: die vlieg kan sy opgebergde liggaamsvet afbreek en metaboliseer, en sodoende water vrystel. Dr Weldon vermoed hierdie vrygestelde water word gebruik om die vlieg te help om droë toestande te hanteer en vir langer tydperke te oorleef sonder toegang tot ander waterbronne. Hy kon dit nog nie by die ander twee spesies vasstel nie.

Dr Weldon het ook bevind dat die Mediterreense vrugtevlieg meer waterverlies relatief tot sy liggaamsgrootte kan verdra as ander spesies. Hy hoop om hierdie navorsing uit te brei om te kyk na die roetes waarlangs insekte water verloor en hoe Suid-Afrikaanse vrugtevlieë in hierdie opsig verskil.

Navorsing soos dié van dr Weldon is baie belangrik omdat vrugtevlieë groot finansiële verliese kan meebring. Vrugtevlieë hou ‘n groot bedreiging vir vrugteproduksie in en verlaag produktiwiteit aangesien besmette vrugte nie verkoop kan word nie. Produksiekoste styg aangesien bestuurstegnieke duur is, en dit lei tot hoër vrugtepryse. Lande waar daar nie vrugtevlieë voorkom nie, is huiwerig om vrugte in te voer uit lande waar daar wel vrugtevlieë is omdat hulle nie die risiko wil loop om vrugtevlieë saam met die vrugte in te voer nie. Dit bly vir vrugteboere ‘n groot uitdaging om te voorkom dat vrugte besmet word, sodat dit uitgevoer kan word.

Daar is verskeie opsies vir die beheer van vrugtevlieë, maar in Suid-Afrika is die vernaamste metodes lokaasbespuiting, die manlike-uitwissingstegniek en die steriele-insektegniek. Dr Weldon merk op dat Suid-Afrika se beheerstrategieë goed werk, met die gevolg dat die land se vrugteproduksie baie doeltreffend is. Aangesien die insekte egter ‘n merkwaardige vermoë het om by veranderinge in die omgewing aan te pas, is dit belangrik om die stelsels deurlopend te verbeter.

‘n Nuwe vrugtevlieg is onlangs in Suid-Afrika ontdek, naamlik die Oosterse vrugtevlieg (Bactrocera dorsalis). Hierdie vlieg, wat eers in Kenia ontdek is, het oor die grootste deel van Afrika suid van die Sahara versprei en kom nou ook in die noordelike dele van Suid-Afrika voor. Sy teenwoordigheid is besonder sorgwekkend omdat hy nie net vrugte nie maar ook groente teiken.

Dr Weldon se navorsingsgroep, FliES (Flies of Economic Significance Research Group), het begin om Bactrocera dorsalis na te vors ten einde sy verspreiding en die vatbaarheid van plaaslike kommersieel geproduseerde vrugte beter te verstaan. Dit is kommerwekkend dat namate die gevolge van klimaatverandering sterker na vore tree, nuwe produksiegebiede van vrugteboerdery daartoe kan lei dat meer vlieë na nuwe gebiede versprei.

Bron: UP Nagraadse Studentevereniging vir Natuur- en Landbouwetenskappe (NSNLW)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Betzie van Rensburg

    Interessante leesstof. Dankie vir hierdie plasing.