Valke oorhandig Gordhan-dossier aan NGV

Deel op

Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat ‘n dossier van die Valke ontvang is oor Pravin Gordhan, minister van finansies, se moontlike vervolging.

Die saak teen Gordhan is dus in die hande van adv. Shaun Abrahams, die nasionale vervolgingshoof, nadat die dossier Vrydag aan hom oorhandig is.

Die NVG het gesê dat staatsaanklaers nog besig is om deur dokumente te sif om vas te stel of hul bewyse sterk genoeg is, het ‘n woordvoerder, Luvuyo Mfaku gesê.

Maar ingeligte bronne binne die NVG, die Valke en die SAID sê die minister gaan beslis aangekla word. Dagvaardings of lasbriewe sal glo binne die volgende twee weke uitgereik word.

Gordhan staan onder verdenking dat hy ‘n sogenaamde geheime spioenasie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op die been gebring het wat met die buiteland geskakel het.

Die Valke het Gordhan verlede week ontbied, maar die voormalige minister het die versoek geïgnoreer. Na wat berig word was lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, die Valke se hoof, glo woedend omdat Gordhan geweier het om ook by die kantoor aan te meld.

Daar heers groot kommer by Zuma se vyande dat ‘n groep binne die ANC wat hom simpatiek gesind is, beheer oor die Nasionale Tesourie sal verkry as hulle van Gordhan ontslae raak.

Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Blade Nzimande het vir Gordhan in die bres getree en gesê dit is duidelik dat die bewerings rondom die minister van finansies “polities gemotiveerd” is.

Nzimande het tydens ‘n nuuskonferensie in Kempton Park aan die Oos-Rand gepraat. Nzimande sê dit waaraan Pravin Gordhan tans onderwerp word, grens aan “teistering”.

Wat Blade versuim het om te noem is dat die daling van die Rand eweneens polities gemotiveerd is om Gordhan se posisie te probeer red.

Met meer as 30 getuies wat gereed staan om teen Gordhan te getuig, asook drie voormalige amptenare van die Inkomstediens (SAID), sal die Suid-Afrikaanse geldeenheid wipplank ry.

Hulle het almal reeds beëdigde verklarings afgelê wat in die dossier vervat is.

Die amptenare is Ivan Pillay, gewese adjunkkommissaris van die SAID, Oupa Magashula, kommissaris van die SAID, en Johann van Loggerenberg, gewese uitvoerende groephoof vir ondersoeke.

Nog ‘n amptenaar, Helgard Lombaard, wat meeluisteringstoerusting by die NVG-hoofkantoor geïnstalleer het, is nou ‘n staatsgetuie in ruil vir vrywaring teen vervolging.

Die getuies sluit ondermeer ook die Chinese ANC-skenker Jen-Chih Huang in. Jen-Chih se bates is twee jaar gelede bevries gedurende ‘n saak oor belasting waar ten minste R541 miljoen ter sprake is.

Adv. Gerrie Nel van die NVG het Lombaard na bewering destyds R1,1 miljoen betaal om die toerusting in die NVG se kantore te installeer.

Indien Gordhan aangekla word, waarsku sy ondersteuners dat Suid-Afrika se kredietgradering spoedig tot rommelstatus verlaag sal word omdat sukkelende staatsondernemings nie meer toepaslik is binne die ontwikkelingsagenda nie.

Dit is die mening van ‘n aantal ekonome wat deur Reuters genader is oor Gordhan se toekoms.

Ontleders het toegee dat dit nie alleen langtermyn ekonomiese oorwegings is wat ‘n rol sal speel by die land se kredietgradering nie. Die inmenging deur die staatshoof “kan tot disinvestering van kapitaal lei” meen hulle.

Die rand het die afgelope week met byna 6% teenoor die dollar verswak. Engelse koerantopskrifte vanoggend het ‘n verdere skerp daling voorspel om druk op Zuma te plaas, maar die geldeenheid was vanoggend bestendig.

Die daling in die Rand kan ook wees omdat Janet Yellen, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad gesê het dat rentekoerse in die VSA binnekort sal begin styg.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal daardeur dalk genoop word die plaaslike rentekoers ook op te skuif omdat die wisselkoers ‘n risiko vir inflasie inhou.

Die Rand het vroeër herstel van die vorige skerp daling toe Zuma sy minister van finansies, Nhlanhla Nene, met Des van Rooyen vervang het.

Gordhan se heraanstelling in Van Rooyen se plek, het egter tot die versterking in die Rand gelei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.