Steve Hofmeyr het ‘n verdere uitdaging aan die linkse hoofstroommedia gerig deur Saterdagaand net ná nege-uur “Die Stem” aan die einde van sy vertoning by die Kaboem-fees net buite Nylstroom te sing. Die skare van sowat 7 000 mense (sommige het dit op 10 000 geskat) het spontaan op aandag gestaan en saamgesing in ‘n viering van Afrikanersamesyn en -protes teen kulturele en taalverdrukking. Ook Bok van Blerk (foto hier bo), wat ‘n dekade gelede bekendheid met sy De la Rey-lied verwerf het, het ‘n vurige vertoning van “Sing, Afrikaner, sing” gelewer. Dit bevat sinspelings op die sensuur waaronder Afrikaans en Afrikaners tans gebuk gaan, met die woord:
Jy mag niks meer sê
Jy is klaar gepraat
Dis ‘n hartseer saak
Wat ons almal raak
Want die groot verraad
Kom vanuit ons eie mense…
Sing, Afrikaner sing
Laat jou stem gehoor word
Laat jy nooit verdwyn
O, sing, Afrikaner sing
Die Kaboemfees (Kranskop- Boerekos- en Musiekfees) is juis deur Steve Hofmeyr en sy aanhangers gereël omdat hy weens sy sing van “Die Stem” en ander volksliedere by Innibos en elders verbied is om op te tree. Tydens sy geselsies met die gehoor tussen liedjies het Hofmeyr insgelyks geen doekies omgedraai nie en gesê dat die Kaboemfees “ware kulturele vryheid” moontlik maak en dat kunstenaars daar “kan sing wat hulle wil”.
Hofmeyr, wat vandag verjaar, het gister getwiet:
Ek ry met n swaar hart uit Nylstroom. My beste verjaarsdaggeskenk vir môre was die duisende wat kom #Kaboem het. pic.twitter.com/RsYvxWwbCn
— Steve Hofmeyr (@steve_hofmeyr) August 28, 2016
Die fees is vooraf en agterna deur die hoofstroommedia en veral Naspers en Netwerk24 doodgeswyg, maar kennelik het die sosiale media soos Twitter en Facebook gesorg dat almal daarvan bewus gemaak is. Die Kaboemfees het op ‘n plaas sowat 3 km buite Nylstroom plaasgevind, en sal hoogs waarskynlik aanstaande jaar weer gehou word. Benewens ‘n groot tydelike verhoog, biertent en ander geriewe, was daar dosyne kosstalletjies, asook ander stalletjies waar T-hemde, hoedens en allerlei snuisterye te koop aangebied is. Die fees het ook Afrikaanse skole in die omgewing, waaronder CVO-skole, toegelaat om stalletjies ter fondsinsameling op die feesterrein te bedryf.

Kaartjies vir die fees het R195 gekos, of R150 vir pensioenarisse, heelwat goedkoper as die R800 wat onlangs vir Oppikoppi gevra is. Na raming het die loketgeld anderhalf miljoen rand beloop, wat ‘n belowende debuut vir ‘n “alternatiewe” fees is.
Bok van Blerk het ook sy bekende lied oor die Angola-oorlog, “Die kaplyn” gesing, waarin die opofferinge wat jong blanke mans destyds gemaak het, geloof word.
Terwyl die hoofstroommedia gedurig poog om Afrikaneridentiteit en -patriotisme af te breek, asook sangers soos Arno Carstens of Karen Zoid bemark wat minagtend teenoor Afrikaans staan, is dit helder dat kunstenaars soos Hofmeyr en Van Blerk se aanhang net groei, soos wat die anti-Afrikaanse beweging in felheid toeneem.