Steve Hofmeyr: Antwoord aan Max du Preez oor ‘Die Stem’

Die nuwe Suid-Afrika sal vir altyd aan die oue gemeet word, met of sonder “Die Stem”, Max du Preez. Jy weet, ná so 270 konserte vandat ek by Innibos verban is vir die sing van “Die Stem”, het ek die lewende bewys geword, nie van die dualiteit in Suid Afrikaanse patriotisme nie, maar die enormiteit daarvan. Mense, derduisende mense, soos ek, wat nie kan wag om “Die Stem” te sing nie. Kinders wat vorentoe hol, studente wat opspring en bejaardes wat orentkom en klein artritisvuiste teen hul bors slaan. ‘n Ma wat saggies huil terwyl ‘n Pa maak of hy nie dieselfde doen nie. Skoliere wat minstens afkeurend grinnik as geselekteerde geskiedenis op hul afgedwing word, natuurlik was Mandela nie ‘n terroris, juffrou, en ‘n hele volk wat diep skepties staan teenoor die verskraling van hul taalregte op kampusse en die rasmeriete van hul sportspanne.

Dit pla jou en die EFF geensins dat die volkslied en vlag wat julle oor ons wil, eendag terugskouend met minagting beskou sal word vir die verderf, verdriet en volumes bloed wat dit verteenwoordig het nie. Vir die bejaarde en kleuterverkragsyfer en die nasionale moordkoers onder sy burgers en veral sy plaasboere. Vir die geskiedkundige hoogtepunt in werkloosheid en ekonomiese verval, vir die rekordaantal gewelddadige betogings, skole in vlamme gehul, vir ongekende rassisme en wederkerige haat waarmee die huidige volkslied en vlag geassosieer sal word.

Versoening is skraps en al wat jy moet onthou, Max, is dat jy in hierdie tyd voorgestel het dat “Die Stem” geboikot moet word omdat die “oorweldigende meerderheid” glo dink bogenoemde verval is een hunky dory-standaard en die res ‘n handjievol bitterbekke was. Man, het ek nuus vir jou. Maar dankie Max. Ek skuld jou kommissie. Want daar gaan my telefoon weer…

* * *

Daarom die Kaboemfees. Ek sien jou Vrydag 26 Augustus by my FAK-saamsingaand en Saterdag by my konsert met Bok en kie. Kom ervaar, bo alles, ware kulturele vryheid. Boeresport, biltong en “Bobbejaan klim die berg”. Bring ‘n kombers.

* * *

My pêl laat weet dit pla hom glad nie dat hulle Nkosi Sikelel’ iAfrika uit die volkslied gaan haal nie….

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.