Tempelprostitusie

ImageTempelprostitusie is 'n duisende jare oue gebruik wat in heidense voor-Christelike gelowe voorgekom het. Dit was algemeen in die antieke Midde-Ooste in Babilonië en onder die Sumeriërs, asook onder die Romeine voor keiser Konstantyn.

Die rol van tempelslette as vrugbaarheidsfigure het dikwels 'n sentrale rol in die geloofs- en ervaringsbelewenis van hierdie gemeenskappe gespeel. Die funksie van die Heilige Prostituut was sentraal in hulle gemeenskappe en hulle het deelgeneem het aan godsdienstige rituele as die beliggaming van die godin Aphrodite.

Oor die algemeen was tempelslette soortgelyk aan priesters en is hulle vir hulle seksualiteit en voorkoms in hulle gemeenskappe geëer. Onder die Babiloniërs het tempelprostitusie vanuit die tempel versprei om feitlik die hele gemeenskap te raak. Hieroor skryf die Griekse historikus Herodotus soos volg, en ek vertaal vrylik:

"Onder die afskuwelikste van die Babiloniese gebruike is dít wat elke vrou van die land verplig om in die tempel van Mylitta (Aphrodite) te sit en omgang te hê met 'n vreemdeling, ten minste een keer in haar lewe. Baie vroue wat ryk en trots is, word aangery na die tempel in bedekte waens en staan daar met slawe en helpers, maar die meeste (vroue) sit in die heilige area van Mylitta, met krone van toue op hulle koppe. Daar is baie vroue wat kom en gaan, en gange in die skare laat mans verbygaan om hulle keuses te maak. As 'n vrou haar plek gekry het, dan bly sy daar totdat 'n vreemdeling geld in haar skoot werp en sê: "Ek nooi jou uit in die naam of Mylitta." Dit maak nie saak hoeveel die geld is nie; die vrou kan nie weier nie; om te weier is 'n sonde voor Mylitta. Sy volg dan die man en verwerp niemand nie. Ná omgang, as sy haar heilige plig nagekom het, gaan sy terug na haar huis. Die vroue wat lank, blond en slank is, kan gou weer vry wees om huis toe te gaan, nadat hulle die wet nagekom het. Maar ander vroue bly daar vir drie jare, en selfs vier. Daar is ook 'n gebruik soos dié in Ciprus.

Die Kanaänitiese ekwivalent van Mylitta is Astarte, en die Christelike skrywer Eusebius merk op dat tempelprostitusie steeds voorkom in Fenisië en hulle stede Afaca en Heliopolis (of Baälbek). In die vierde eeu ná Christus is dit deur deur die keiser Konstantyn verbied.

Tempelprostitusie was raar onder die Grieke, en die etlike gevalle is op die rand van die Griekse wêreld (in Sisilië, Ciprus, ens.) beoefen, asook die stad Korinte waar 'n tempel van Aphrodite 'n groot aantal (vroue-) slawe gehuisves het. In die jaar 464 v.C. het 'n man by name Xenophon, 'n burger van Korinte, wat 'n uitstekende naelloper was en die vyfkamp by die Olimpiese spele gewen het, eenhonderd jong meisies aan die tempel as 'n teken van dankbaarheid gewy. Ons weet hiervan omdat Pindar 'n lied laat komponeer het wat die welkome meisies, dienaars van Peitho en Korinte, geëer het. Gedurende die Romeinse periode, skryf Strabo, het die tempel meer as 'n duisend slaweprostitute gehad. (VIII, 6, 20)."

Aldus Herodotus.

Heilige prostitusie speel 'n sentrale rol in voor-Christelike gemeenskappe, en verligte en demokratiese Grieke soos Herodotus, asook Christene, ervaar dit as barbaars. Die Jode verwerp die gebruik uitdruklik in Deuteronomium 23 verse 17 en 18 (vir beide mans en vroue), maar dit het in feitlik die meeste gemeenskappe in die antieke wêreld algemeen voorgekom. Selfs in Indië en in Egipte was dit normaal en in Indië mag dit selfs vandag nog voorkom (Human Rights Watch het al beweringe hieroor gemaak).

Hoe dit ook al sy, prostitusie, veral die heilige soort, was nog altyd in een of ander vorm in gebruik, en is net by uitsondering verwerp. Dit is skynbaar net Christene, Jode en Moslems wat uitsonderlik in hulle verwerping van die verskynsel is.

Herodotus se beskrywing van tempelprostitusie skep die indruk dat enige man enige beskikbare vrou in die tempel kon nader. Dit is egter nie waar nie. Vroue van hoë afkoms het slawe en helpers gehad om ongewenste mans weg te hou, en ryk mans het baie meer geld beskikbaar gehad om vroue te koop. Die sosiale werklikheid is dat tempelprostitusie 'n instelling was wat vroue beskikbaar gestel aan mans in die adelstand, wat godsdiens gerieflik gebruik het om vroue in die rol van prostitute te druk.

Vandag het heilige prostitusie in wisselwerking met die nuwe media (fotografie, televisie, films, ensovoorts) getransformeer in moderne vermaak vanuit Hollywood en ander sentra. Tempelslette in Hollywood gebruik die moderne media om hulle vrugbaarheidsbates te vertoon, wat dikwels gerasionaliseer word deur te sê dat een of ander ster die tentoonstelling van haar vrugbaarheidsbates "professioneel benader" of, om nou 'n geval nader aan die huis te noem, dit doen vir "liefdadigheid" en om mense bewus te maak van "geweld teen vroue". Dit is maar 'n slenter; die waarheid oor die verskynsel is baie meer kru as dit, en om Herodotus te aan te haal, is ook meer barbaars as wat dit voorkom.

Dit is onvermydelik dat barbaarse gewoontes weer kop sou uitsteek in ons post-Christelike gemeenskap. Die nuwe inkarnasie van tempelprostitusie in die media mag dalk nuut klink, maar is in der waarheid baie oud, definitief voor-Christelik en selfs ouer as Judaïsme. Moderne feministe verwar dikwels idees oor vryheid met gedrag deur vroue om mans te behaag. Om uit te trek om vrugbaarheid te vertoon, of om sestienjarige seuns op loop te jaag, is in die eerste plek 'n uitstekende vertoning van gene wat gedrag beheer; dit behoort elke ewolusionêre bioloog te verstaan. Herodotus was dus reg toe hy gebruike soos dié as barbaars beskryf het, omdat biologie oor kultuur seëvier (as mens die Christelike veroordeling verwerp, dan is hierdie biologiese veroordeling nog steeds daar).

Pornografie as sulks moet nie verwar word met tempelprostitusie nie. Pornografie word universeel verstaan vir wat dit is – die laagste gemene deler wat universeel veroordeel word, en dit gebruik mense wat onbekend, onbemind en uiteindelik opgebruik is. Tempelprostitusie, aan die ander kant, word aanvaar as hoër kultuur (self ons eie Charlize se eskapades op die silwerdoek word as hoë kultuur verkondig) en het die goedkeuring van die adelstand (vandag is dit die rykes, die koerante se redaksies, en natuurlike politieke en geestelike leiers). Net soos in die antieke dae, is daar sanksies teen diegene wat tempelprostitusie veroordeel, dié keer sosiaal eerder as religieus: Om tempelprostitusie as barbaars te veroordeel, soos Herodotus dit gedoen het, word vandag as eng, verkramp, ouderwets, en konserwatief verdoem.

Maar ek dink dat Herodotus se veroordeling reg was – dit bly maar onbeskaaf en barbaars.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.