Motors met uitheemse geure

Vra enige iemand in Suid-Afrika wat hulle van motorvervaardigers soos Toyota, Mazda, Nissan of Honda dink en hulle antwoord sal eensklaps “betroubaarheid” wees. Dink nou veertig jaar gelede en daardie selfde mense sou dan gepraat het van “Jap Scrap”, want dit is die samehorige gevoel wat oor Japannese motors geheers het. Toe in die negentigs begin die Koreaanse motorvervaardigers soos Daewoo, Hyundai, Kia en Ssangyong hul verskyning maak. Weereens het mense eerder ‘n tweedehandse Japannese motor aangeskaf as ‘n splinternuwe Koreaanse motor. Nou is ons al byna 30 jaar later en vra nou vir mense wat hulle van Hyundai of Kia dink? Weereens is die meerderheid se antwoord betroubaarheid, waarde vir geld, ensovoorts. Ek ry gisteroggend van my huis af 6 kilometer skool toe om my kind af te laai en by elke verkeerslig of stopstraat is die meerderheid motors van Koreaanse herkoms. Dit vertel ‘n verhaal van hoe goeie produkte die samelewing se sienswyse kan verander. So net minder as tien jaar gelede het ons die eerste Indiese en Sjinese motors op ons plaaslike paaie begin sien. En weer koop mense eerder ‘n tweedehandse Koreaanse of Japannese of selfs Franse motor voor hul na ‘n nuwe Indiese of Sjinese ryding kyk.

Ons het besluit om met die volgende in die oog bietjie te kyk na twee motors wat jy vandag kan koop vir minder as R165 000. Die een van Indiese herkoms, Tata, en die ander van Sjinese herkoms, Chery.

Syaansig van die Tata Bolt
Syaansig van die Tata Bolt

Tata Bolt 1.2T XT

Ek het in die meer as 20 jaar wat ek oor motors berig nog nooit ‘n Tata of ‘n Chery bestuur nie. My verbasing was baie groot juis omdat my verwagting maar laag was. Mens hoor so baie van mense wat kla oor hul Tata Indica’s wat raas en selfs uitmekaarval, om nie eers van die swak vakmanskap en dienslewering te praat nie. Dus het ek nie veel verwag nie.

Instumentepaneel van die Tata Bolt
Instumentepaneel van die Tata Bolt

Met die eerste oogopslag het ek egter besef dat hierdie Tata Bolt nie sommer jou gewone Indica met ‘n paar kosmetiese veranderinge is nie. Die motor se wigvormige bakwerk lyk vir ons Westerse oë so bietjie buite verhouding, maar loop ‘n bietjie om die motor en bekyk die motor in sy geheel dan kom jy agter: maar die vreemdheid van die bakvorm het wel ‘n ietsie bekends aan hom. Die Indiërs is geneig om hoë, smal motors te bou net soos die Japannese geneig is om lae, breë motors te bou. Die Bolt staan ook redelik hoog op sy bande, maar niks lyk buite verhouding nie. Jy kom ook vinnig agter hoekom die motor effens vreemd vertoon wanneer jy die deure oopmaak en die ruimte binne beskou. Ek was regtig verbaas met, nie net die hoeveelheid ruimte nie, maar die bougehalte en selfs of sal ek sê, verál die geluid wat die deure maak wanneer hulle toegeklap word. Dit klink solied en meer soos ‘n Europese motor as selfs ‘n Japannese ryding. Stilering is ook nie so flambojant soos die Japannese rygoed nie, maar eerder funksioneel en trek baie meer op Europese motortjies. Die bakpanele pas volmaak en die binneruim se nate en paneelgroewe is gelyk en lyk glad nie asof dit in die derde wêreld vir ‘n stokperdjie aanmekaargesit is nie.

Binneruim

Binneruim van die Tata Bolt
Binneruim van die Tata Bolt

Die Bolt se deure maak wyd oop en die sitplekke se materiaal is van ‘n veloerdoekstof wat lyk en voel asof dit uit Italië kom. Die instrumentepaneel lyk ook baie bekend en so asof die ontwerper regtig gaan dink het oor waar alles moet wees. Die knoppies, raakskerm en stuurwiel; alles voel solied en lyk goed aanmekaargesit. Die voorste sitplekke is vir hoogte en reikafstand verstelbaar, asook die stuurwiel wat met multifunksionele afstandbeheerde knoppies vir die radio en telefoon toegerus is. Daar is genoeg pakplekkies in die deure en die paneelkassie is groot genoeg om ‘n handsak te kan insluk. Daar is twee drankiehouers tussen die voorste sitplekke en onder die handrem is daar ‘n handige bakkie waar ‘n mens kleingeld kan bêre. Die raakskerm wat die aanboordrekenaar huisves se geskryf is dalk effens klein, maar werk baie goed. Agter in die Bolt is daar werklik genoeg ruimte vir drie volwassenes en ek bedoel ek wat ses voet lank is, kan gemaklik agter in die motortjie pas met genoeg been- skouer en kopspasie. Die bagasieruim is aan die klein kant en kan slegs 210 liter se bagasie neem, maar dit is genoeg vir twee mediumgrootte tasse en ‘n paar kleiner rugsakke. Die agterste sitplekke kan plat vou en dan kan daar heelwat meer in die luikrugmotortjie gelaai word.

Die Tata Bolt se bagasieruim
Die Tata Bolt se bagasieruim

Standaardtoerusting is ook baie indrukwekkend met elektriese kantruite en spieëls, outomatiese klimaatbeheer, Bluetooth, asook ‘n USB-inlaat, ritrekenaar, afstandbeheerde sentralesluiting. Die deure sluit ook self wanneer daar weggetrek word en die ligte skakel vanself aan en af. Daar is misligte voor en agter, tesame met allooiwiele. Twee lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, asook ABS-remme met remverspreiding is insgelyks aanwesig.

Op die pad

Draai die aansitter, en die Bolt se 1.2-viersilinderturbo-enjintjie loop seepglad en stil, byna Europees. Die enjin ontwikkel 66 Kw en 140 Nm se wringkrag. Nou as ‘n mens dink dat die Tata Bolt ‘n stadsmotortjie is wat slegs 3,825m lank is, sal jy verstaan dat die 140 NM se wringkrag wat vanaf 1500 o/min beskikbaar is die motortjie nogal skop gee. Die 5-spoedratkas is egter die meulsteen om die enjin se nek. Daar is ook soos in van die Europese produkte drie bestuursmodusse wat met die druk van ‘n knoppie gekies kan word. Die sportmodus maak die versnellerreaksie vinniger, die ekomodus maak die versnellerpedaal meer traag en dit maak die kragtoevoer na die stuurwiel ook meer sodat die motor makliker draai. Die gewone modus waarna die Bolt altyd terugkeer wanneer dit afgeskakel word, is byna iets tussen die sport- en ekomodusse wat net gemaklik is en dan ook die beste van die twee wêrelde bied. Die Bolt is lig op sy wiele en die turbo-enjintjie wil hardloop, dus het ek gevind dat hy die beste werk as jy hom met geesdrif bestuur. Onthou, dit is slegs ‘n 1,2-literenjin. Ek trek die Bolt binne-in my standaardlengtemotorhuis, dan staan my sesvoetsleepwa nog dwars voor die Bolt en kan ek die motorhuisdeur toemaak; so hierdie is werklik ‘n klein stadsmotortjie met ‘n groot hart en heelwat ruimte.

Diens

Die Tata Bolt word verkry met ‘n standaard- 5 jaar/100 000km-fabriekswaarborg met padbystand vir 5 jaar asook ‘n 2 jaar/30 000km-diensplan. Daar is dienssentrums in byna elke groot dorp in Suid Afrika en as ‘n mens dink aan hoe sleg die Indiese paaie is en dat hierdie motor eintlik vir daardie paaie ontwerp is, kan hy in Suid-Afrika net goed doen.

Die Chery Swag J van voor
Die Chery J2 Swag

Chery J2 Swag

Nog 'n vooraansig van die Chery J2 Swag
Nog ‘n vooraansig van die Chery J2 Swag

Die Chery-handelsmerk verteenwoordig ‘n Sjinese maatskappy wat een van die grootste vervaardigers van motors in dié land is. Hierdie was my eerste keer dat ek ‘n Chery in my loopbaan as motorjoernalis onder hande kon neem. Anders as met die Tata, het ek net goeie goed gehoor oor Chery. En anders as met die Tata was ek baie teleurgesteld met hoe Chery die hele motorbou benader. Die J2 lyk baie meer na ‘n hoofstroommotor as die Bolt, maar die klem val hier op lýk. Dit is ‘n heelwat groter motor as die Bolt en staan van stamper na stamper ‘n hele 4,14m, dit is ‘n hele 20 cm langer as ‘n VW Polo Vivo en slegs 10 cm korter as ‘n VW Golf. Die bakvorm lyk ook soos die vorige generasie luikrugmotors uit Korea.

Binneruim

Instrumentepaneel van die Chery J2 Swag
Instrumentepaneel van die Chery J2 Swag

Wanneer jy die J2 se deure oopmaak, tref die reuk van plastiek jou… Nou ek weet nie of dit die viniel is waarvan die sitplekke gemaak is of die gom waarmee die deure aanmekaargehou word nie, maar dit is ‘n vreemde reuk wat my sterk aan die China Mall in Johannesburg se materiaalwinkels herinner.

Die agterste sitplekke van die Chery J2 Swag. Maar is dit leer?
Die agterste sitplekke van die Chery J2 Swag. Maar is dit leer?

Die spesifikasielys van die J2 Swag is op papier indrukwekkend. Daar is leersitplekke wat ek ‘n sterk vermoede het kunsleer kan wees, Bluetooth-koppeling vir jou foon, ‘n radio met ses luidsprekers en usb-inlate, satellietnavigasie, elektriese kantruite en spieëls. Die sitplekke is groot en gemaklik met genoeg steun vir jou rug en bene. Agterlangs is daar baie beenruimte en weereens sal daar gemaklik drie volwassenes agterin kan sit. Bagasieruim is 270 liter wat slegs 60 liter meer is as in die Bolt. Die J2 Swag se agterste sitplekke kan ook platvou om die bagasieruim te vergroot. Ek moet egter byvoeg dat die bougehalte nie naastenby op dieselfde vlak as dié van die Bolt is nie en afgesien van die leersitplekke wat ek vermoed nie leer is nie, lyk die binneruim van die J2 ‘n hele generasie ouer as dié van die Bolt.

Op die pad

Die Chery J2 Swag van agter gesien
Die Chery J2 Swag van agter gesien

Die groot verskil tussen die J2 en Bolt lê juis hier. Waar die Bolt stewig en gewillig voel, doen die J2 net mooi die teenoorgestelde. Ek wou eintlik nie baie met die J2 ry nie want die motor het byna geen krag nie. Daar is ‘n 1.5-literenjin onder die enjinkap wat 77 Kw lewer en 140 Nm se wringkrag. Die enjin voel asof dit nie die helfte van daardie 77 Kw ontwikkel nie en verbygaan in enige rat is ‘n ware waagstuk. Die hele motor raas en skud en die ratskakelings is nie sekuur nie en baie los. Wanneer die J2 eintlik aan die gang kom, dan word ek werklik bang want die motor voel onveilig. Chery verkoop die J2 met ABS en remdrukverspreiding en ISOFix-hegstukke vir kinderstoeltjies, ens, ens, maar as die goed werk soos die navigasiestelsel wat net eenvoudig nie wou werk nie en die radio wat nie ‘n stasie kon hou nie en die res van die motor wat erger raas en vibreer as ‘n 1978-Escor,t dan wil ek nie die ABS en lugsakke toets nie, dankie. Die laeprofielbande met allooiwiele maak die rit van die J2 Swag ook heelwat harder as dié van die Bolt.

Diens

Die Chery J2 Swag word verkoop met ‘n 5-jaar- 120 000km-waarborg met 2-jaar- 30 000km-diensplan.

Gevolgtrekking

Alhoewel albei hierdie motors baie uitheems aan Suid Afrika is, lyk dit of die Indiërs baie verder ontwikkel het as die Sjinese. Mens kan duidelik sien dat Tata begin verstaan waaroor motorbou gaan en die ingenieurswese agter die Bolt is nie net ‘n generasie of twee verder ontwikkel as in die Chery J2 nie, maar die invloed wat Land Rover en Jaguar – wat albei aan Tata behoort – op hul produkontwikkeling uitoefen, wys duidelik. Teen R161 995 is die Tata Bolt 1.2T XT een van die beste motortjies op ons paaie vir dié tipe geld en die Chery J2 Swag seker een van die swakste motors wat ek al ooit onder hande gehad het. Die Chery J2 Swag gaan jou R159 995 kos, maar persoonlik sal ek eerder ‘n tweedehandse Tata Bolt 1.2T XT teen net oor R100 000 koop as wat ek ‘n nuwe J2 Swag aanskaf.

Tata Bolt 1.2T XT

Prys

5 uit 5

Voorkoms buite

4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

4 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

4 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

36 uit 40

Chery J2 Swag

Prys

2 uit 5

Voorkoms buite

2 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

2 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

2 uit 5

Enjin en ratkas

2 uit 5

Op die pad

2 uit 5

Veiligheid

3 uit 5

Totaal

19 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Rooikop

    Ek loop liewer.

    • eduard

      “Made in China. Store in a cool place. Do not switch on.”