Hout, ‘n eeue oue geldeenheid

Deel op

Terwyl sommige mense kyk na alternatiewe ekonomieë om die finansiële krisis te hanteer, is inwoners van 'n dorpie buite Meksikostad reeds ligjare voor met hul manier van doen, met hul gebruik van hout as geldeenheid.

Elke Dinsdag daag vroue uit die berge op met stapels hout op hulle rûe by die dorpie wat hoofsaaklik uit inheemse mense bestaan.

Deel op

Geen geld of kredietkaarte ruil hande by die Santiago Tianguistenco mark wat sowat 100 kilometer uit Meksiko se hoofstad geleë is nie, maar slegs stukkies hout, in ruil vir voedsel, seep, klere en speelgoed.

Die Santiago ruilhandel-mark is in 1820 gestig en is ouer as die sorpie waarin dit geleë is. In die Nahuatl inheemse taal beteken "tianguistenco" op die rand van die mark.

"Die mark het reeds bestaan toe ek 'n kind was. Ons kom elke week in vir kos, klere vir baie klein dingetjies," het een vroulike kliënt gesê, maar geweier om haar naam te gee, terwyl sy in 'n ry gewag het voor 'n stalletjie wat gebraaide vark verkoop.

By die voorpunt van die ry het sy 'n dosyn stukke hout oorhandig in ruil vir twee stukke sappige vleis.

'n Entjie verder, agter 'n vragmotor het nog 'n vrou twee stukke hout geruil vir 'n lemoen, terwyl ander 10 stukke hout geruil het vir 3 mate gekookte rys of bredie.

Op daardie dag het wasgoedseep 25 stukke hout gekos vir 'n half kilogram, 50 stukke hout het verruil vir 'n kilogram boontjies, sout of suiker en 100 stukke het 'n liter kookolie gekoop.

Tweedehandse klere kos 10 stukke per item en ou speelgoed en poppe kos 5 stukke elk.

Die houtdraers, vroue van die plaaslike Nahuatl, Otomi of Tlahuica etniese groepe het geweier dat hulle afgeneem word of om hulle name te gee.

"Hoekom wil jy my naam weet? Ek weet hoe dit gebruik gaan word na die tyd," het een van die vroue gesê wat die kamera agterdogtig dopgehou het.

"Vier jaar gelede het die polisie hierheen gekom en almal weggeneem, 300 mense op een slag. Hulle het die mense daarvan beskuldig dat hulle onwettig hout kap en dis hoekom hulle bang is," het Ernestina Ortiz, die dame van die inheemse ruilhandelraad wat oor die mark toesig hou gesê.

Meksiko het een van die wêreld se vinnigste onbostingstempo's en die regering het onlangse jare strawwe vir die kap van bome baie verhoog.

In die woude om die hoofstad is dit met tronkstraf strafbaar.

Omgewingsgroepe soek intussen na 'n wydverspreide houtsertifikasieskema.

"Die mense kap nie die bome af nie, maar tel die stukke droë hout op wat agtergebly het. Hulle lewe van die woud, maar kyk daarna, hulle maak skoon daar en plant self bome aan," het Ortiz gesê.

"Houtruilhandel is deel van die plaaslike kultuur. Mense van daardie gemeenskappe is baie arm, en as ons hulle nie toelaat om hout te kom verruil nie, sal hulle niks hê om te eet nie," het sy bygevoeg.

Daar is wel reëls vir die ruilhandel, insluitende verskillende tipes hout. Stukke moet drie hande lank wees en so breed soos 'n mens se vuis, en ten minste twee is nodig om enige transaksie te beklink.

'n Bondel stokke, wat een meter lank is, is genoeg om kos vir 'n gesin vir 'n week te kan bekom.

Die raad het 'n ongeskrewe ooreenkoms met die owerhede, wat waarneming van die mark laat vaar het, maar sommige polisiemanne daag tog soms op om omkoopgeld te vra.

Die handelaars by die mark is baie meer spraaksaam as die houtdraers.

"Ek bring kaktusse, boontjies en gebraaide vis om te verkoop, en hulle hout is handig omdat gas baie duur is. Ek ruil ook klein stukkies hout vir sout, suiker en sop," het die 62-jarige handelaar Julia Mejia gesê.

Arturo Rosales, wat al vir jare die mark gebruik, het gesê hy kom hierheen om die "ruilhandelkultuur" aan die gang te hou, met tweedehandse klere, seep en speelgoed.

для печилобановский политик

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.