Tobruk stem teen Libië se VN-regering

Deel op

Opponente van Libië se eenheidsregering, wat die ondersteuning van die Verenigde Nasies geniet, het Maandag teen ’n mosie van vertroue in die Tripoli-bewind gestem in ’n rare sessie van die parlement wat in die ooste van die land gevestig is.

Die stemmery is ’n vars terugslag vir die regering van nasionale eenheid, wat vir maande na dié parlement se bekragtiging streef, terwyl dit probeer om invloed en gesag tot buite sy basis in die hoofstad uit te brei.

Die stemmery was die eerste sedert Januarie toe die parlement die aanvanklike lys ministers wat deur die eenheidsregering voorgestel is, verwerp het en die eerste sedert die eenheidsregering in Maart vanjaar aan bewind gekom het.

Parlementêre sessies in Tobruk is herhaaldelik uitgestel of geblokkeer, met teenkanting teen die eenheidsregering wat in die ooste van die land aan die toeneem is.

Ondersteuners van die regering, van wie baie nie Maandag se sitting bygewoon het nie, het voorheen gekla dat opponente met fisieke geweld dreig ten einde te verhoed dat stemmery plaasvind.

Altesaam 161 afgevaardigdes het die sitting bygewoon met 61 wat teen die mosie gestem het, 39 wat buite stemming gebly het en net een wat ten gunste van die mosie gestem het.

Die eenheidsregering is die gevolg van ’n VN-onderhandelde ooreenkoms wat in Desember onder­teken is. Die ooreenkoms was daarop gemik om ’n einde aan konflik te maak, wat opgevlam het toe ’n gewapende alliansie in 2014 beheer oor instansies in Tripoli oorgeneem het en die nuutverkose parlement na die ooste van die land uitgewyk het.

Westerse magte maak op die eenheidsregering staat om Libië se veiligheidsvakuum die hoof te bied, olieproduksie te herstel en die stroom migrante te keer wat die Middellandse See vanuit Libië onder­weg na Europa oorsteek.

Magte lojaal aan die eenheidsregering het byna die hele kusstad Sirte van die Islamitiese Staat-groep (ISIS) herower, maar die regering­ sukkel om elders ’n impak te hê.

Die regering­ se onvermoë om die krisis op te los, kragonderbrekings en ander probleme het bygedra dat die regering wyd steun verloor het.

Die minister van buitelandse sake van die Libiese tussentydse regering in Tobruk het in ‘n verklaring gesê die VN-gesant vir Libië, Martin Kobler (foto bo) moet vervang word met ‘n meer neutrale en doeltreffende figuur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.