Drie EU-leiers sê Brexit sal nie Europa breek nie

Deel op

Die leiers van Italië, Frankryk en Duitsland het dié week volgehou dat Brittanje se skokbesluit om die Europese Unie te verlaat, nie die einde van die ekonomiese magsblok sal beteken nie.

Italië se eerste minister, Matteo Renzi, die Duitse kanselier, Angela Merkel en Frankryk se pres. Francois Hollande het Maandag op die vliegdekskip, die Guiseppe Garibaldi, byeengekom om oor die Europese Unie (EU) se toekoms en Brittanje se uittrede uit die EU te beraadslaag.

Die vliegdekskip, een van die geboorteplekke van die droom vir ‘n verenigde en geïntegreerde Europa, was by die Italiaanse eiland, Ventotene, vasgemeer. Die leiers het onderneem om die EU te versterk ná Brittanje se vertrek.

“Baie het gedink dis verby met die EU ná Brexit, maar dit is nie hoe sake staan nie, het Renzi gesê.

Die EU is volgens hom die “antwoord” vir Europa se probleme en verseker “vrede, welvaart en vryheid”.

Volgens Merkel is die EU uit sommige van die “donkerste oomblikke van die Europese geskiedenis” gebore, ‘n verwysing na die Tweede Wêreldoorlog.

Sy sê die tyd het aangebreek om ‘n “beter bladsy” in Europese geskiedenis te skryf.

Hollande van Frankryk het gewaarsku dat Europa gevaar loop om gefragmenteer te word en dat verdeeldheid voorkom moet word.

Dit het ‘n “nuwe impuls” op drie fronte naamlik die ekonomie, verdediging en veiligheid nodig en werk- en opvoedkundige geleenthede moet vir jong mense geskep word.

In ‘n simboliese gebaar het die Italiaanse premier sy gaste na die graf van Altiero Spinelli, ‘n stigtersvader van die ideaal van Europese integrasie, geneem. Renzi het gesê die vergadering was daarop gemik om ‘n gemeenskaplike siening oor die EU se toekoms te vorm vóór ‘n spitsberaad van die oorblywende 27 lidlande op 16 September in Bratislawa begin.

Europa se ekonomiese vooruitsigte, djihadistiese aanvalle, die toestroming deur migrante, die Siriese konflik en betrekkinge met Rusland en Turkye was ook op die leiers se sakelys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.