Kerry na Afrika te midde van stygende Moslembedreiging

Deel op

Met die vredesooreenkoms in Suid-Soedan wat aan die uitrafel is en djihadiste wat voortgaan met aanvalle in Somalië, het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, in Nairobi aangekom om met Kenia se pres. Uhuru Kenyatta samesprekings te voer.

Die twee het veiligheid in die streek en terrorisme bespreek voordat Kerry ministers van buitelandse sake van Kenia, Somalië, Suid-Soedan en Uganda vir samesprekings ontmoet het.

Die Amerikaanse vredesending na Oos-Afrika is bekommerd oor die verswakkende toestand in Suid-Soedan en ander lande in die streek.

Die ontmoeting was gefokus op die herstel van die mislukte vredesooreenkoms in Suid-Soedan en verkiesings in Somalië wat voor die deur is.

Suid-Soedan sal intussen ‘n Amerikaanse hulppakket van $138-miljoen ontvang, is voorwaardelik aangekondig.

In ’n verklaring wat voor die besoek deur die Keniaanse presidentskantoor uitgereik is, is verduidelik dat die ontmoeting met Kenyatta op streekveiligheid en stabiliteit sal fokus.

Verkiesings vind volgende maand in Somalië plaas en Burundi beleef sedert April 2015 ’n politieke krisis.

Terrorisme was ook op die agenda, vanweë die bedreiging wat Somalië se Al-Sjabaab-militante vir die streek inhou.

Kerry se vorige besoek aan Kenia in Mei 2015 het die weg gebaan vir ’n besoek van pres. Barack Obama, twee maande later.

Die hoë-profiel Amerikaanse diplomatieke sendings beklemtoon Kenia se belangrikheid as streekvennoot vir Amerika, veral wat sekuriteit betref, en is ook ’n aanduiding dat betrekkinge met Kenia aan die verstewig is.

Dié betrekkinge was vir ’n geruime tyd gespanne terwyl Kenyatta voor die internasionale geregshof vir vermeende misdade teen die mensdom tereggestaan het.

Kerry wil die jaaroue vredesooreenkoms in Suid-Soedan, wat tot dusver nie daarin kon slaag om ’n einde aan die konflik te maak nie, weer laat herleef.

Kerry sal ook na Nigerië reis voordat hy Afrika môre onderweg na Saoedi-Arabië verlaat.

Hy sal samesprekings met President Muhammadu Buhari in Abuja voer. Amerika het sedert Buhari verlede jaar aan bewind gekom het, groter veiligheidsondersteuning aan Nigerië gegee teen die Moslemterreurgroep Boko Haram (foto bo).

Intussen het Libië se regeringsmagte, met die steun van Amerikaanse lugaanvalle, verdere vordering met die herowering van Sirte gemaak, het woordvoerders gesê.

Die magte het die sekuriteitsgebou wat deur die Islamitiese Staat-groep (ISIS) as gevangenis gebruik is, die hof, die Al-Naga-distrik en Dubaistraat herower.

Die nuutste oorwinning is in gevegte Sondag “in die aangesig van desperate weerstand van die djihadiste” behaal, lui ’n verklaring.

ISIS se skerpskutterposisies is in twee Amerikaanse lugaanvalle geneutraliseer en regeringsmagte het, sonder enige verlies in eie geledere, twee motorfopvaltoestelle onskadelik gestel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.