Die Valke het binne enkele dae ‘n verdagte vasgetrek wat glo gekoppel kan word aan die moord op ‘n DA-raadslid.
Hy sal na verwagting vandag in die Postmasburg-landdroshof verskyn in verband met die moord op Johannes Baaitjies in die Noord-Kaap verlede Woensdag.
‘n Woordvoerder van die Valke, Hangwani Mulaudzi, sê ‘n 29-jarige man is in hegtenis geneem by ‘n huis in Postmasburg Vrydagmiddag.
Die verdagte staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord nadat ‘n Daniëlskuil-raadslid in die Mgcawu Distriksmunisipaliteit, verskeie kere geskiet is.
Baaitjies se liggaam is gevind langs ‘n pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Mulaudzi sê die Valke is “tevrede met die tydsverloop” van die ondersoek.
Hy sê die land moet trots wees op die kaliber van ondersoekbeamptes in die land. “In die meeste van hierdie gevalle het ons ‘n 100% suksessyfer en al ons gevalle [Valke] word ons [sake] nooit deur die hof uitgegooi nie.”
Mulaudzi sê ‘n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die 49-jarige oorledene niksvermoedend na sy dood gelok is. Baaitjies en ‘n sakevennoot was saam ten tyde van sy dood.
Die beseerde mede is steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n plaaslike hospitaal.