ANC probeer EFF-lede glo omkoop om in Johannesburg vir hom te stem

Deel op

Die EFF het oor die naweek in ‘n verklaring beweer dat lede van dié radikale afromarxistiese party tot R500 000 per stem aangebied is om vir die ANC se kandidaat in Johannesburg te stem as die burgemeester vandag aangewys word. Die omkoopgeld sou blykbaar in kontant betaal word.

Maar die EFF gaan nou ‘n strafregtelike klag van omkopery en korrupsie teen die ANC lê, volgens die party se woordvoorder Mbuyiseni Ndlozi.

“Die EFF in Johannesburg gaan ‘n saak van omkopery teen die ANC se Dan Bovu aanhangig maak wat meen dat ons demokrasie te koop is. Die ANC in Johannesburg moet weet dat geen mate van omkopery hom ooit met die mense gaan versoen wat hom in ‘n verkiesing verwerp het nie. Die ANC moet erken dat hy verslaan is en nie poog om verkiesings deur korrupsie te wen nie,” sê Ndlozi.

“Selfs al sou die ANC Maandag daarin slaag om ‘n raadslid te koop, sal die burgemeester nie hou nie want politieke partye beskik oor die reg om raadslede te vervang. Ons sal daarom so maak en verseker dat die ANC in Johannesburg uit die mag gestel word.”

Partye in Johannesburg gaan heel waarskynlik vandag tydens die eerste sitting van die nuwe stadsraad ‘n burgemeester en speaker aangwys. Tydens die plaaslike verkiesing op 3 Augustus kon die ANC nie daarin slaag om ‘n algehele meerderheid in die land se grootste en rykste stad te behaal nie. Die Johannesburgse metro sal heel moontlik deur ‘n koalisie tussen die DA en die EFF oorgeneem word, soortgelyk aan wat Vrydag in die hoofstad, Pretoria, gebeur het.

Die telling van nuwe raadslede is soos volg: ANC: 121; DA: 104; EFF: 30. Dit plaas die EFF in die gunstige posisie dat hy kan bepaal watter van die twee groter partye gaan regeer. Die res van die 270 setels in die Johannesburgse raad is deur kleiner partye ingepalm.

Gister het die ANC se kandidaat en huidige burgemeester, Parks Tau, gesê dat hy nie langer burgemeester mag wees nie, maar dat sy party gereed staan om die rol van opposisie in die stadsraad te speel. Volgens hom word daar steeds ter elfder ure samesprekings oor koalisies gevoer en sal die uitslag vandag eers onthul word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.