Mangaung-metro moet weer stem vir burgemeester en speaker

Deel op

Die eerste amptelike vergadering van die nuwe Mangaung-metroraad moes Donderdagoggend vir ure vertraag word toe die verkiesingsproses vir die uitvoerende burgemeester en die speaker verkeerd uitgevoer is.

Die vergadering was reeds in ‘n gevorderde stadium en die burgemeester, Olly Mlamleli, en speaker, Mxolisi Siyonzana, het reeds hul toesprake gelewer, toe DA-raadslid, Dulandi Leech, alles tot stilstand laat kom het.

Leech het op ‘n punt van orde opgestaan en uit die Wet op Munisipale Strukture aangehaal.

Sy het gesê die verkiesing van die speaker en die burgemeester is onwettig, want volgens die wet moet dit met ‘n geslote stembrief geskied.

Siyonzana moes onmiddellik sy posisie opgee en die Onafhanklike Verkiesingskommissie is ingeroep om die verkiesing van voor af te doen.

Die vergadering is met ure vertraag, maar die uitslag sal waarskynlik nie verander nie.

Die EFF werk nou saam met die DA om beheer van sekere metro’s by die ANC oor te neem. Julius Malema, EFF-leier sê die doel is om van die ANC ontslae te raak.

Die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, Solly Msimanga sal na verwagting die nuwe burgemeester van die metroraad word.

Die stad sal Vrydag sy eerste raadsvergadering hou.

Die EFF het onderneem om vir die DA te stem wat in koalisie met die kleiner partye getree het.

Die uittredende burgemeester, Kgosientsho Ramokgopha van die ANC meen dat sy party se aanwysing van ‘n Zoeloe die ANC stemme gekos het. Die ANC se keuse van Thoko Didiza het tot wydverspreide onluste gelei voor die verkiesing.

Hy sê die stempersentasie was so laag dat dit die ANC se posisie verswak het.

Die EFF-leier sê sy party sal vir die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Herman Mashaba stem.

Mashaba het Donderdag aangebied om afstand te doen van die pos, nadat die EFF hul bedenkinge oor sy kandidaatskap uitgespreek het. Malema het gesê Mashaba haat homself en respekteer nie arm mense nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.