Nog niemand is in hegtenis geneem na die moord op ‘n DA-raadslid van Daniëlskuil in die Noordkaap nie.
Johannes Baadjies, wat Donderdag ingesweer sou word as raadslid van die Kgatelopele Plaaslike Munisipaliteit, is doodgeskiet, in wat vermoedelik ‘n politieke sluipmoord was.
Die DA-leier in die Noord-Kaap Andrew Louw (foto bo), sê Baadjies se vrou het onraad vermoed toe sy Woensdagaand tevergeefs op sy tuiskoms gewag het. Hy die huis Woensdag omstreeks 18:00 verlaat.
Louw het die ANC van die moord beskuldig en gesê Baadjies het doodsdreigemente ontvang. Hy het sy medelye met die familie uitgespreek.
“Ons innige meegevoel en simpatie met sy familie, spesifiek sy vrou en kinders. Hy was ‘n man van inbors en ‘n man met integriteit. Hy was iemand wat baie hoë respek in sy gemeenskap geniet het, soveel so dat hy dan ook in die onlangse plaaslike munisipale verkiesing ‘n merkwaardige oorwinning in Wyk 2 behaal het,” het Louw gesê.
Polisiewoordvoerder, Mariam Mochologi-Maleeme, sê Baadjies se lyk, met skietwonde, is Donderdagoggend omstreeks 06:45 naby Postmasburg deur ‘n verbyganger gevind.
Sy sê ‘n tweede slagoffer is in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal in Kimberley gehaas.
“In hierdie stadium kan ons nie kommentaar lewer oor bewerings dat dit ‘n politiek-gedrewe moord was nie. Niemand is seker wat gebeur het nie,” sê Mochologi-Maleeme.