DA werk saam met EFF wat eis dat Stem, eiendomsregte waai

Deel op

Die EFF het Woensdag ‘n aantal eise gestel aan die ANC en die DA vir nouer samewerking. Dit blyk dat Julius Malema en Mmusi Maimane (foto bo) gemene grond gevind het.

Malema se party eis onder meer die uitgooi van Die Stem uit die Nasionale Volkslied, grondgryp sonder vergoeding, nasionalisering van banke en myne, asook die verwydering van Jacob Zuma as president.

Die leier van die EFF, Julius Malema, sê Die Stem is ‘n oorblyfsel van apartheid Suid-Afrika en hoort nie daar as deel van die Nasionale Volkslied nie.

Desnieteenstaande sê die DA hulle sal graag saamwerk met die EFF.

Die DA het intussen omonwonde verklaar dat geen gesprek met die ANC oorweeg word oor koalisies in bestrede munisipaliteite nie, maar Donderdagoggend in Sandton aangekondig dat hy ooreenkomste met verskeie opposisiepartye bereik het, waaronder die EFF.

Die EFF het Dinsdag by hul perskonferensie in Alexandra, by monde van Julius Malema bevestig dat een van die voorwaardes aan die DA was dat Die Stem uit die volkslied verwyder moet word.

Malema het gesê dat Maimane het saamgestem dat die sing van die Die Stem “soortgelyk is aan Jode wat volksliedere oor Hitler sing”.

Maimane het by die spoggerige Radisson Blu-hotel in Sandton oor sy opmerking gesê “meningsvryheid” laat sulke standpunte toe.

Die EFF het ingestem om die DA te steun sodat die party sekere munisipaliteite kan beheer, wat die metrorade van Tshwane en Nelson Mandelabaai insluit.

Die DA se federale voorsitter, James Selfe, sê hul ooreenkoms met die EFF berus daarop dat enige verskille tussen die partye “net woorde” is.

Die UDM het die EFF geloof vir sy besluit om nie ‘n koalisie-ooreenkoms met die ANC te sluit nie.

Die UDM-leier, Bantu Holomisa, sê die EFF het die regte besluit geneem en sal nou die rol van ‘n “waghond” op plaaslike en nasionale vlak speel.

Die EFF het egter reeds herhaaldelik in die Parlement getoon dat hulle graag reëls verontagsaam, dus is dit nie duidelik watter “waghond-rol” die party kan speel nie.

Holomisa sê dit is ‘n “groot tree nader aan ‘n veelparty-demokrasie”, terwyl dit duidelik is dat die huidige naakte politieke opportunisme juis ‘n veelparty-demokrasie waar beleidsverskille belangrik geag word, ondermyn.

Die EFF het Woensdag aangekondig dat hy nie ‘n koalisie met die ANC sal vorm om die metrorade van Gauteng, Nelson Mandelabaai en ander bestrede munisipaliteite te beheer nie.

Die EFF sal met die DA saamwerk in Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai om beheer te verkry.

Die DA in Rustenburg het ‘n koalisie gevorm met ander partye voor die eerste raadsvergadering later vandag om ANC uit die kussings te lig.

Die ANC het 43 van die 89 raadslede in Rustenburg, gevolg deur die EFF met 24 en 14 van die DA. Die Forum for Service Delivery het vier setels en is die sleutelparty in die planne om die ANC te vervang.

Die DA se Oos-Kaapse leier, Athol Trollip, sal waarskynlik vandag by die Nelson Mandelabaai se raadsvergadering as burgemeester verkies word nadat die DA ‘n ooreenkoms met die UDM, Cope en ACDP bereik het om ‘n koalisie te vorm.

Die EFF het reeds aangedui dat hy vir die DA sal stem sodat die ANC vir die eerste keer die opposisie in dié Metro sal wees.

Die ANC in die nuwe munisipaliteit van Tlokwe en Ventersdorp in Noordwes het die opposisie uitgedaag om die uitslag van die munisipale verkiesing te aanvaar.

Die DA, EFF en onafhanklike kandidate beplan om die Verkiesingskommissie weens beweerde onreëlmatighede voor die hof te daag.

‘n DA-apologeet, Theo Venter, verbonde aan die NWU, sê die EFF se besluit om nie nog nouer met die DA saam te werk nie, is ‘n “strategiese fout”.

Hy sê dit lyk of dié party ‘n poging aanwend om ‘n posisie te handhaaf waar hulle onaantasbaar is, maar die behoud van so ‘n posisie in die politieke arena is “onmoontlik” op die langtermyn.

“Die vraag ontstaan – waar gaan jy die ervaring kry om te bestuur as jy nie êrens aan ‘n koalisie of ‘n mede-bestuursproses deelneem nie. Die EFF diskwalifiseer hulself eintlik nou oor die langtermyn vir korttermynvoordele,” het Venter gesê.

Venter se “ontleding” is van ‘n onthutsende wêreldvreemdheid omgeef, aangesien daar hope voorbeelde is van uiters suksesvolle radikale swart aansprake, waaronder al Suid-Afrika se buurlande ingereken moet word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.