Trump kondig die einde van nasiebou aan

Deel op

Die Amerikaanse Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump het in ‘n belangrike beleidstoespraak die einde van “nasiebou” aangekondig.

“As ek president word, sal die era van nasiebou tot ‘n baie vinnige en beslissende einde gebring word,” het Trump beloof het bygevoeg dat dit tyd is om “‘n nuwe koers in te slaan”.

Hy het ook uitgestippel hoe hy radikale terreur sal beveg.

Dit sluit in om visums op te skort van lande wat bande het met enige vorm van terreur, asook ‘n ideologiese toets vir diegene wat na Amerika wil reis.

Hy het by ‘n universiteit in Ohio gepraat en onderneem om sy samewerking te gee aan lande wat bereid is om die Islamitiese Staat te beveg.

Trump se plan is deur sy veldtogbestuurders beskryf as buitelandse beleidsrealisme.

In vorige toesprake het hy verklaar dat alle Moslems verbied moet word om Amerika binne te kom.

Hy sê dat uiterste streng keuring van immigrante nodig is om Amerika te beskerm en immigrasie vanaf sekere lande opgeskort behoort te word.

“Sommige het nie hierdie doelwit wat hulle met ons deel nie,” het hy bygevoeg rakende ander lande. “Ons kan nie altyd ons vriende kies nie, maar ons kan nooit versuim om ons vyande te erken nie.”

Trump het bygevoeg dat die VSA gemeenskaplike grond kan vind met Rusland in die stryd teen die Islamitiese staat (ISIS).

“Hulle het te veel op die spel met die uitkoms in Sirië,” het hy verduidelik oor Rusland.

Die Republikeinse genomineerde het gesê dat hy die befondsing vir die terroristegroep sal afsny en met behulp van kuberoorlogvoering ISIS se werwing en propaganda sal stop as hy verkies word.

“Ons kan nie toelaat dat die internet gebruik word as ‘n werwingshulpmiddel nie,” het hy beklemtoon.

“Die opkoms van ISIS is die direkte gevolg van beleidsbesluite deur President Obama en die minister van buitelandse sake Clinton,” het Trump gesê.

Hy het gewys daarop dat die Midde-Ooste voor Obama en Clinton oorgeneem het, stabiel was en gesê in 2009 was Libië vreedsaam, Sirië was onder beheer, en Egipte is regeer deur ‘n sekulêre president.

Maar Trump het gesê onder Obama en Clinton se buitelandse beleid lê Libië nou in puin, ISIS het grondgebied gekry, en Sirië verkeer in ‘n burgeroorlog, met ‘n vlugtelingkrisis wat Europa en die Weste teister.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.