Geweld in skole is besig om ‘n kopseer te raak omdat onderwysers en kinders met te veel frustrasies worstel.
Dit is volgens die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Paul Colditz.
Hy het gereageer op die hardhandige onnie-video van ‘n Bloemfonteinse skool wat die rondes op sosiale media doen.
Die video wys hoe ‘n onderwyser by die Academy of Excellence, ‘n private skool in Heidedal, ‘n Graad 7-leerling hardhandig behandel.
Die voorval het reg voor ‘n volgepakte klaskamer gebeur en die video is deur ‘n klasmaat geneem. Die skool het die voorval bevestig en die voorsitter van die beheerliggaam, Hansie Engelbrecht, het by navraag gesê die onderwyser is intussen tydelik geskors.
Colditz het aan OFM-nuus gesê al hoe meer kinders kom uit ‘n gebroke huis en word blootgestel aan dwelmmisbruik, geweld en misdaad in hul gemeenskappe.
Hy sê terwyl onderwysers nie gerat is om hierdie probleme aan te spreek nie, sit hulle ook dikwels met oorvol klaskamers en ‘n tekort aan dissipline onder leerders, maar geweld is steeds onaanvaarbaar.
“Geweld kan nooit in die beste belang van kinders wees nie. Ouers sou na die polisie toe kon gaan en kriminele klagtes lê teen onderwysers wat hul kinders aanrand. Onderwysers moet na hul beheerliggaam gaan as hulle hierdie tipe probleme ondervind.”