Leon Lemmer: Die boosheid van die Tibhirine-slagting

Deel op

Karel Combrinck se puik skrywe oor Tibhirine en die treffende foto van die groep van sewe standbeelde in Lyon, Frankryk (Praag 14 Julie), het heelwat emosie in my losgelaat. Maar ek moet noem dat hierdie tragiese gebeure nie in 1969 plaasgevind het nie maar in 1996. In Combrinck se skrywe het hy dit veral teen die politieke korrektheid waarvolgens aan Moslems se gevoelens voorkeur bo dié van christene gegee word. Ek wil daarop uitbrei deur die aandag te vestig op wat daar in Tibhirine en Algerië gebeur het. Ek doen dit na aanleiding van die deeglike studie van John Kiser, The monks of Tibhirine: Faith, love, and terror in Algeria (New York: St Martin’s Press, 2002, 366p; Amazon Kindle $9,11). Die draaiboek van die rolprent, Of Gods and Men (2010), is op hierdie boek gebaseer.

Die sewe Cisterciënser-monnike van die Trappe-orde wat op 21 Mei 1996 vermoor is, was (ek verstrek elkeen se geboortejaar en elkeen se aankomsjaar by die Tibhirine-klooster): die hoof/prior Christian de Chergé (1937, 1971) en Bruno Lemarchand (1930, 1989), Célestin Ringeard (1933, 1986), Christophe Lebreton (1950, 1987), Luc Dochier (1914, 1946), Michel Fleury (1944, 1984) en Paul Favre-Miville (1939, 1989). (Sien groepsfoto hier bo.) Hulle was almal Franse burgers. Hulle aanvanklike verbintenis met Algerië was dat Christian, Célestin, Christophe en Paul hulle militêre diensplig daar gedoen het, Bruno daar grootgeword het en Michel aanvanklik ‘n kommunis was en in sy jeug in Marseilles immigrante uit Noord-Afrika leer ken het. Ook Christophe “flirted with Marxism” (Kindle 1190). Luc het geen vorige verbintenis met Algerië gehad nie, maar hy het hom in Lyon as geneesheer bekwaam en ‘n deurslaggewende rol in die klooster se liefdadigheidswerk gespeel. Hy was ook die kok van hulle vegetariese maaltye. Bruno was in 1996 by ‘n susterklooster in Marokko gestasioneer en was toevallig op besoek aan Tibhirine. Die twee monnike wat op 27 Maart 1996 in die klooster was maar nie ontvoer is nie en dus die dood vrygespring het, is Amédée Noto (1920, 1946) en Jean-Pierre (1924, 1964).

Algerië was sedert 1830 ‘n Franse kolonie. Vanaf 1848 is dit as ‘n integrerende deel van Frankryk bestuur. Na die Tweede Wêreldoorlog is Frankryk, anders as Turkye, in die anti-koloniale klimaat nie toegelaat om grondgebied op twee kontinente te hê nie. Die Algerynse Oorlog om onafhanklikheid het van 1954 tot 1962 geduur. Soos in die geval van Suid-Afrika was die einde van die blanke bewind in Algerië nie die einde van onrus en bloedvergieting nie. Van 1962 tot 1996 is daar 60 000 tot 100 000 mense in Algerië gedood. Die militêre bewind het ‘n hewige stryd gevoer om die terrorisme van rebellegroepe te bekamp. Die rebelle het die ideaal van ‘n Islamistiese staat nagestreef. Soos in die nuwe Suid-Afrika was agteruitgang en verval oral sigbaar.

Oor Christian, die kloosterhoof, se teologie is daar ‘n boek beskikbaar: Christian Salenson se Christian de Chergé: A theology of hope (Collegeville: Liturgical Press, 2012, 225p; Amazon Kindle $13,67). Ek bepaal my egter hier by wat in Kiser se boek staan. As kind het Christian ‘n tyd lank in Algerië gewoon. Oor die Moslems het sy ma by hom ingeprent: “They are godly people and believe in the same God we do. There is only one God” (490). ‘n Deurslaggewende gebeurtenis in Christian se lewe was toe ‘n Moslem-polisieman sy lewe gered het. Christian was met sy militêre diensplig in Algerië besig toe hy met terroriste gekonfronteer is en sy Moslem-gesel hom met sy lyf beskerm het. As gevolg hiervan is hierdie Moslem, die vader van tien kinders, kort daarna deur terroriste vermoor. Christian het gesê: “He changed my life by liberating my faith” (285). Hierna het Christian myns insiens heeltemal oorboord met sy voorliefde vir die Islamitiese godsdiens en Moslems gegaan; dermate dat dit heel moontlik tot sy en sy ses medemonnike se dood gelei het.

Na sy aankoms in Tibhirine Christian “found his new brothers perplexed by his zeal to join hands with Muslims and his obsession with finding ‘the notes that are in harmony’ between the faiths” (771). Christian het twee jaar lank aan “the Papal Institute of Islamic and Arabic Studies in Rome” studeer (785), Arabies bemeester en Islam grondig nagevors. “Islam and the Old Testament … were pretty much the same” (785). Later het Christian gesê: “The Muslim neighbor thinks, he prays, he believes in God, fasts, and gives to the poor. He’s almost like us!” (2256). Daarna het dit van kwaad tot erger gegaan: “Jesus is the only true ‘Muslim'” (2291). Dit herinner aan Willie Esterhuyse se vergesogte, politiek-gedrewe stelling: “As daar ooit ‘n godsdienstige en morele revolusionêr en aktivis was, dan was dit Jesus van Nasaret” (Die God van Genesis, Durbanville: Christelike Media Publikasies, 2010, p 198).

Tydens die Suid-Afrikaanse “bevrydingstryd” het ampsdraers van sommige kerke en moskees terrorisme aktief bevorder. Dink maar aan die rol van bevrydingsteoloë soos Beyers Naudé, Desmond Tutu, Frank Chikane Barney Pityana en Allan Boesak. Léon-Etienne Duval, die Rooms-Katolieke aartsbiskop van Algiers, het ‘n soortgelyke rol in Algerië vervul. Soos in Suid-Afrika is daar in kerklike geledere gesê: “Let us learn to go beyond ourselves and to be enriched by those who are different” (188). Tydens die onafhanklikheidstryd het Duval “justice and self-determination for all Algerians” bepleit (271). “Friendship was not possible if one side viewed itself as superior to the other” (374). “He publicly condemned the violence on all sides, but singled out … the French army” (319). Ook in Suid-Afrika is die blanke bewind se veiligheidsmagte dikwels nie met dieselfde maat as die terroriste gemeet nie.

Duval het gesê: “The basic problem is one of living together, and to assure equality between individuals without one community overwhelming the other” (374). Nelson Mandela het hierdie sentiment gedeel: Een etniese groep moet glo nie ‘n ander oorheers nie. “I have fought against white domination,” wat die waarheid is, maar dan lieg hy as hy sê: “I have fought against black domination” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 438). In die nuwe Suid-Afrika was Mandela hoogs in sy skik met swart oorheersing. Insgelyks het Duval se naïewe standpunt nie tot vreedsame naasbestaan gelei nie maar tot die uittog van 1,2 miljoen blankes uit Algerië, asook derduisende Algerynse Moslems wat hulle in Frankryk gevestig het. Die blankes moes kies: “to leave or to die, the suitcase or the coffin” (423). In koloniale Algerië is die teenwoordigheid van Moslems aanvaar, maar nie dié van blankes in ‘n onafhanklike Algerië nie.

Ek onderskryf Kiser se mening dat Alistair Horne se boek, A savage war of peace: Algeria 1954-1962 (London: Papermac, 1996, 608p; Amazon Kindle $15,95) seker die beste boek in Engels oor die Algerynse oorlog is (5080). Hierdie boek bied sekerlik nie ‘n aangename leeservaring nie; des te meer omdat daar talle ooreenkomste tussen die lot van Algerynse blankes en dié in Suid-Afrika is, bv “they had created the country out of virtually nothing” (p 32). Moontlike maniere wat destyds voorgestel is om Algerië uit sy politieke gemors te red, is Suid-Afrika se apartheidsbeleid (485, 545) of regering onder blanke beheer, soos dié van Ian Smith in Rhodesië (497).

“Duval had nursed the hope that after independence, French and Algerians could live and work together to build a new country based on mutual respect” (409). In werklikheid is die onafhanklike Algerië getransformeer tot ‘n 99% monokulturele Arabier-Berber- Soenni-Moslemland. In die huidige ideologiese klimaat sou geen sodanige etniese suiwering ten bate van blankes toelaatbaar of selfs denkbaar gewees het nie. Soos in Suid-Afrika gebeur het, is die Algerynse blankes deur ‘n blanke, naamlik die Franse staatshoof Charles de Gaulle, uitverkoop. Pierre Claverie, die biskop van Oran, het in ‘n sin reg gehad toe hy gesê het: “If we leave, those who want ethnic and religious purification will win” (201). Hy is in Augustus 1996 vermoor (5055).

“Duval loved the struggle” (388). “Duval was also a revolutionary who believed in the transforming power of brotherly love” (395). Hier onder toon ek egter aan dat hierdie Moslems glad nie getransformeer het nie. “The vast majority of his own clergy within Algiers” het Duval gesteun; ook Christian in Tibhirine. Duval en Christian is in hulle oortuigings gesterk deur die besluit van die Second Vatican Council (1962-1965) dat die Rooms-Katolieke Kerk “culture-free and truly universal” moet wees (572), asook “openness toward other religions” moet openbaar (656). In ‘n transkulturele werklikheid wil die Kerk erkenning aan kulturele, insluitende godsdienstige, diversiteit gee (2334). Met hierdie besluite is die ekumeniese beweging voortgesit, wat reeds in 1948 tot die stigting van die Wêreldraad van Kerke gelei het. Duval is kort voor die begrafnisdiens vir die sewe monnike dood, gevolglik is sy nagedagtenis saam met hulle s’n by dieselfde geleentheid in Algiers gehuldig.

Tibhirine is aan die voet van die Atlasgebergte sestig myl van Algiers en kort anderkant Medea. Hierdie bergwêreld het skuiling aan die Moslem-terroriste teen die Franse en later aan die Moslem-rebelle teen die Algerynse regering gebied. Hulle is daar gejag en gebombardeer. “The bombing in the mountains drove scores of families into the valley. The monks sheltered many of them in their unused buildings, and the Arab men provided them with additional hands to work around the monastery” (409). Voordat Christian in 1984 die kloosterhoof geword het en in 1990 herkies is, was hy in beheer van die klooster se herberg waarheen “fellow seekers of God” (848) kon kom “for rest and reflection” (841). Hy het op die deur ‘n kennisgewing aangebring “that read ‘Muslims welcome for retreats here'” (848). “Christian soon developed a reputation as a man who could help them understand how the cross and the crescent cohabited in God’s house” (848).

Christian “wanted the other monks to share his enthusiasm for seeking God with Muslims. But of all the brothers, he was the only one who had come to Algeria to live in spiritual communion with Islam” (862). “Christian went native, too native for the taste of many of the brothers. During Ramadan … Christian fasted for forty days … He followed the Muslim custom of removing one’s shoes when entering a mosque, taking off his sandals in the chapel. Then he caused a furor by proposing to have an alternative service with an Arab liturgy, a thought that was firmly rejected by the community as divisive” (869).

“One of Christian’s spiritual heros [was] Mahatma Gandhi” (1409). “Christian was a radical. He was always pushing out the frontiers. He was ahead of his time in fighting for a truly universal Christianity of the heart that excluded no one … a Christianity of friendship, trust, and good works … Muslims sing the same song, only in a different key” (1361). Nadat Christian die kloosterhoof geword het, het sy standpunt veld gewen. “His desire to draw closer to God with Muslims and make the neighbors feel part of the extended monastic family gradually took root with the others” (1238).

Christian se ideaal was “to be a living embodiment with all the inhabitants of this country, this City of God where all the frontiers of country, race and religion should one day disappear” (922). “Our Christian identity is always in the process of being born” (2284). Hy het gevra dat christene hulle visie vergroot en nuwe horisonne verken (2284); die “groter prentjie” soos ons plaaslik dikwels moet aanhoor; die globale pleks van eie kultuur. Christian het aansoek om Algeriese burgerskap gedoen maar nooit ‘n antwoord ontvang nie. Duval se aansoek was egter suksesvol. Christian het ‘n Bond of Peace, ‘n ribat-es-salaam, met die Moslems gesluit. “Known in the future simply as the ribat, these Christian-Muslim encounters became semi-annual meetings, beginning in the fall of 1980” (979).

Ab Jean-Georges Tyszkiewicz van Tibhirine se vaderklooster, Aiguebelle in Frankryk, het tydens ‘n besoek gelas “that there was to be no more Islamology inside the cloister” (993). Sodanige aktiwiteite kon voortaan net in die herberg plaasvind. “Christian proposed to the brothers that the unused reception room next to the dispensary be lent to their neighbors for prayer. The building had direct access from the road and local people could come and go as they pleased” (1294). Christian wou hê dat Christophe hom as hoof moet opvolg, dalk omdat Christophe se teologie en politiek die naaste aan Christian s’n was.

“Christophe developed the sense that God is with the poor” (1197), ‘n standpunt wat plaaslik in die Belydenis van Belhar (1986) gehuldig word: “Dat God … op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is.” Sowel Christian as Chistophe was anti-intellektualisties: “Knowledge puffs up; love edifies” (1225). Christophe se vriend en mede-monnik, Philippe Hérmon, het Tibhirine besoek en gesê: “My visit reminded me of something basic. God is one. They forced me to stretch my understanding of Jesus to create a place for Islam … Christians get lost too easily in dogma and theology. Every conception imposes a limit. Dogma limits. Doctrine limits. What is important is my relation to the other person” (1348).

In 1989 het Algerië ‘n nuwe demokratiese grondwet gekry. Die Islamic Salvation Front (FIS, Front Islamique de Salut) is in dieselfde jaar gevorm met die doel om ‘n teokrasie, ‘n Islamitiese staat, in te stel. In 1990 het die FIS die munisipale verkiesings gewen. Die FIS se slagspreuk was: “A vote for FIS is a vote for Allah” (1624). Die FLN-regering, wat sedert onafhanklikheid in beheer van die land was, het die nasionale verkiesing, wat vir 1992 geskeduleer was en deur die FIS gewen sou word, gekanselleer. (FLN: National Liberation Front, Front de Libération Nationale.) ‘n Landswye staking het gevolg, waarna ‘n noodtoestand afgekondig is. Die FIS is verbied. Op 29 Junie 1992 is die Algerynse president en die hoof van die militêre regering, Mohammed Boudiaf, vermoor (5044).

Vir sommige Moslems was die FIS nie militant genoeg nie. Hulle het in 1993 die Armed Islamic Group (GIA, Groupe Islamique Armé) gevorm met as leuse: “No peace, no truce, no compromise” (2835). Jamel Zitouni, wat voorheen in Afghanistan teen die Russe geveg het, het, nadat sy voorganger deur die Algeriese weermag gedood is, die hoof van die GIA geword. Daarmee was die tafel gedek vir die etniese en religieuse homogenisering van Algerië. Kiser noem die toestand waarin die land verval het “virtual civil war” (3131). In 1993 “the GIA officially declared war on foreigners in Algeria” (2343) en is buitelanders gewaarsku om die land te verlaat of die gevolge te dra. Van sowel binne as buite die Kerk, bv die regering, is aanbeveel en selfs gelas dat kloosters gesluit word; veral Tibhirine, wat in ‘n onrusgebied geleë was.

Hierdie brutale Algeriese werklikheid was in skrille kontras met wat Christian gelees het in die ooreenkoms wat die Israeli Yitzhak Rabin met die Moslem Yasir Arafat aangegaan het: Hulle “committed themselves by their revolutionary handshake to renounce finally the sword and to plow together in peace … moving from hatred toward love” (2306). Christian het ongesteurd voortgegaan as religieuse entrepreneur. Hy het ‘n “new crucifix for the chapel” aangeskaf, “one that was less offensive to the Muslims” (2313). “The crucifix showed Jesus with his crown of thorns removed, his body covered in a tunic of royal purple, the nails transformed into golden points of light, dignified face looking ahead, without suffering. Above Jesus’ head were the words ‘He has risen’ in Arabic” (2320). Daar was ook “the bright yellow-and-blue minbar, the antique Muslim pulpit that occupied a corner of the refectory” (3329).

Die owerheid het beskerming vir die Tibhirine-klooster aangebied. Hulle “proposed that police occupy one of the monastery’s unused buildings. Christian categorically refused. He said that no weapons could be allowed in the monastery” (2356). Hy wou nie kant kies tussen die terroriste (“the brothers of the mountain”) en die veiligheidsmagte (“the brothers of the plain”) nie (2363). Kort daarna is 12 Kroatiese konstruksie-ingenieurs twee myl van die klooster af vermoor; onder meer as vergelding omdat Kroate Moslems in Bosnië vermoor het. Die owerheid het aanbeveel dat die monnike hulleself bewapen en ‘n sirene installeer. Daar was selfs ‘n aanbod van die owerheid dat die monnike op regeringskoste in ‘n hotel gehuisves kon word (2444).

Op Oukersaand in 1993 was die klooster steeds onbeveilig en het die moordenaar van die Kroate, Sayah Attia, daar gewapen opgedaag. Christian het gevra dat hulle buite die klooster gesels. Attia het drie eise gestel: dat Luc gewonde terroriste moet verpleeg, aan hulle mediese voorraad moet verskaf en ook geld. Christian het na oorleg met die monnike ingestem tot die eerste twee eise maar geldelike hulp geweier. Mediese bystand is beskou as “an act of humanity; the other [money] was an act of collaboration” (2533). Deur geld aan terroriste en apirantterroriste te gee, het Beyers Naudé nie hierdie onderskeid gemaak nie. Tot ‘n honderd mense het daagliks om mediese bystand by die klooster aangeklop (2744).

In die Algerynse Rooms-Katolieke Kerk het die ampsdraers konsensus bereik dat hulle nie landuit sou vlug nie. Daar is bv geredeneer dat die weermag hulle dan in die kloosters sou tuismaak. Duval, sedert 1980 die plaaslike aartsbiskop, se raad aan Christian was: “Be steadfast, persevere … Be firm with those people” (2567). Attia het nie weer sy opwagting by Tibhirine gemaak nie en is in Februarie 1994 gedood toe daar al meer as 200 terreuraanvalle en 132 sluipmoorde was. Christian se reaksie was: “I felt I was my brother’s keeper, even of the brother in front of me that night” (2602).

In Maart 1994 het die minister van buitelandse sake geëis dat die Tibhirine-klooster gesluit word. Die regering het tien soldate gestuur om in die klooster gestasioneer te word, maar “the brothers categorically rejected this. ‘If you stay here, you will only attract attention that will compromise our position,'” het Christian gesê (2751). In Moslem-geledere was daar groot verdeeldheid en bloedvergieting. “By May of 1994, over fifty imams had been murdered for condemning the killing of civilians” (2807). Christian het geredeneer: “By refusing to take sides, we are not washing our hands in noncommittal neutrality. That is not possible for us. No, we are protecting our freedom to love everyone, because that is our choice” (2814). “In September, nine brothers met in the chapter room to reconfirm their decision to stay in Tibhirine, something they would do every six months” (2917). Teen Desember was daar in Algerië “an estimated one thousand killings a week” (3017) met “seventy-eight the roll call of foreigners assassinated between September 1993 and the end of 1994” (3168). “Five hundred schools have been destroyed” (3302). Vir Suid-Afrikaners klink die vernietiging van skole bekend.

Om 1-uur die oggend van 27 Maart 1996 het gewapende terroriste sewe Tibhirine-monnike ontvoer. Die oorblywende twee monnike het daarna na Algiers verhuis, want die regering het ‘n verbod op die verdere bewoning van die klooster geplaas. Die GIA wou die sewe gyselaars ruil vir terroriste wat deur die Algerynse regering aangehou is. Daar kon nie tot ‘n vergelyk gekom word nie, gevolglik is die sewe monnike op 21 Mei om die lewe gebring. Ten einde die dooies se identiteit te kon bevestig, is net hulle koppe op 30 Mei uitgelewer. Jean-Marie le Pen van die Front National in Frankryk het toe gesê: “The idea of a peace-seeking Islam is a myth” (3931). Daarteenoor “many wondered how a religion whose Scripture seemed so hostile to nonbelievers could produce in the general population the kind, tolerant, and hospitable souls they all knew from daily life” (972). Huldigingsbyeenkomste is in Frankryk gehou en die staatsbegrafnisdiens van die monnike was in die Notre-Dame d’Afrique in Algiers. Hulle oorskot is in Tibhirine ter ruste gelê. Op 16 Julie 1996 is die hoof van die GIA, Jamel Zatouni, in ‘n hinderlaag gedood (4288).

Die Moslems van Tibhirine was FIS-gesind, maar geeneen van hulle het hulle glo by die militante GIA geskaar nie (2554). Ten spyte van alles wat die Tibhirine-monnike en die Rooms-Katolieke Kerk ten bate van die Moslems in Algerië gedoen het, het iets duidelik geblyk: “It is not a matter of reciprocity” (2270). “Muslims accepted the good works but not the faith. Where was the reciprocity?” (3117). Die christene het gegee en die Moslems het geneem. Dit is soortgelyk aan eg Suid-Afrikaanse ubuntu: Die blankes gee en die swartes ontvang.

Let op wat christene in ‘n Islamitiese land soos Algerië ontbeer. Islam is die staatsgodsdiens. Amptelik is daar godsdiensvryheid maar nie-Islamitiese godsdienste is aan talle beperkings onderhewig. Die kruis as simbool van die christelike religie mag nie vertoon word nie. Kerkklokke mag nie lui nie. Monnike en nonne kan dit nie in die openbaar in hulle tradisionele kleredrag waag nie (894). Hulle mag nie vir die Moslems preek of hulle op enige ander manier tot die christelike godsdiens probeer bekeer nie. “Spreading the Good News is not permitted” (128). Die frase “‘enemies of the Lord’ found in the psalms were being omitted from the liturgy by certain priests in Algiers who were anxious not to offend Muslims” (1936). Daar mag nie meer as 12 monnike in ‘n klooster woon nie (1034). Die Rooms-Katolieke skole is genasionaliseer (881), insluitende die een wat in Tibhirine gebou is (1437, 3370). Die Tibhirine-klooster het ook net 30 van sy oorspronklike 800 akkers grond behou. Die res het staatsbesit geword (1456).

‘n Monument vir die maagd Maria is in 1938 deur die Kerk teen die heuwel bokant die klooster gebou (4390). “Her arms were broken off at the elbow and her stomach had been gouged with a chisel” (1476). Die regter voorarm van die standbeeld van kardinaal Charles Lavigerie (1825-1892) in Algiers is afgesaag omdat daar ‘n kruis in daardie hand was (3124). Vir die beperkte regte van Christene en Jode “living in a society governed by Islamic law” word die term “dhimmi” gebruik (4808). Na bewering is almal in dieselfde mate vry. In die praktyk is Moslems egter baie vryer as nie-Moslems. Insgelyks is almal in die nuwe Suid-Afrika na bewering vry en gelyk. In die praktyk is swartes egter vryer (bv in wat gesê en gesing mag word) en meer gelyk as blankes (bv by die toekenning van poste, grond, ens).

Deesdae is dit polities korrek en in die mode om eerder ooreenkomste as verskille tussen etnisiteite, kulture en religieë te beklemtoon. Gelykmaking en eerdersverklaring is aan die orde van die dag. Let egter op die diepgaande verskille tussen die christelike religie en die Islamitiese godsdiens wat mense soos Duval en Christian gepoog het om te oorbrug. Islam is uit die Joodse en christelike godsdienste ontwikkel omdat hierdie vroeëre openbaringe glo in die Joodse en christelike geskrifte verwring is. “Jesus was not crucified, but Judas, who was substituted for Christ, although Jesus did ascend to heaven, along with Moses and Mohammed” (4862). Feitlik alle praktiserende Moslems is fundamentalisties in dié sin dat die Koran vir hulle letterlik die woord van God is, “spoken by the Angel Gabriel to the Prophet Mohammed. Muslims revere Jesus as a sinless prophet, born of a virgin, but he is not recognised as the Son of God” (5664; ook 4868). “The Three-in-One God does not fit Muslim ideas of God as one” (2320). Christian se teologie kan as idealisties en naïef beskou word. Soos Piet Retief het hy ongewapen vertroue in sy moordenaars gestel.

Die volgende stelling van Kiser oor die sewe monnike, soos ook sy oorsimpatieke ingesteldheid teenoor veral Christian, kan bevraagteken word: “They did not die because they were Christians. They died because they wouldn’t leave their Muslim friends, who depended on them and who lived in equal [?] danger” (108). Die volgende stelling kan ook kwalik ongekwalifiseerd onderskryf word: “The motives for the monks’ kidnapping and the cause of their deaths remain a mystery to this day” (149).

Daarteenoor is daar ook wyse uitlatings in die boek. “How does a community become open to change and evolution without blurring its identity and loosing sight of what it has that is worth preserving?” (4673). “This process of inculturation does not happen without anxiety over losing one’s own monastic identity. To avoid being overcome by this fear, the comunity must deepen and strengthen its own monastic culture” (2263). “The more we connect with those far away, the more we seem to disconnect from those closest to us” (4666). Dít is presies wat ek teen die kultuurvernietigende kultuur van internasionalisering het. Vir bv blankes en veral Afrikaners is die kultuureie in baie opsigte konkreter en belangriker as Afrikanisering en globalisering. Dit is iets wat bv Wim de Villiers nie wil verstaan nie. Afrikanerkultuur is geensins ‘n minderwaardige konteks vir akademiese werk nie; veral nie in Afrika nie.

Blaise Pascal (1623-1662) het geskryf: “Men never do evil as thoroughly or as joyfully as when they do it in the name of God” (3239). Die sewe monnike is keelaf gesny (3888). Dit is ongekwalifiseerd fundamenteel bose dade. Maar daardie monnike was myns insiens skuldig aan ideologiese dwaling deur, soos dit die mode geword het, eerder hiermaals as hiernamaals georiënteerd te wees, volmaaktheid by onvolmaakte mense te veronderstel en te oop en akkommoderend vir ander religieë te wees. Dit herinner aan die arrogante Desmond Tutu wat die Hemel vir alle gelowiges, afgesien van hulle religie, oopgestel het.

“Experience at killing provided a career ladder for aspiring emirs” (3544). ‘n Emir is ‘n Arabiese krygsowerste. Een van die lesse wat Algerië ons leer, is dat die misdadige leiers van ‘n terroristiese “bevrydingsbeweging,” soos die FLN en daarna die GIA, nie die geskikste mense is om ‘n land te regeer nie. Hoe langer hulle aan die mag klou, des te groter is die skade aan die land. Minderheidsgroepe moet uiteraard ook paraat wees vir die verswelgingspotensiaal van ‘n etniese en/of religieuse meerderheid.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.