Zambiese ‘stembedrog’ gevrees na SA nie stembriewe mag druk nie

Deel op

Zambiërs het gaan stem ná ’n verkiesings­veldtog wat deur “ongekende” geweld geteister is en die land se relatiewe stabiliteit en demokratiese rekord kan bedreig.

Ten spyte van meer mededingende tenders van Suid-Afrikaanse maatskappye, het die die Verkiesingskommissie vir Zambië (ECZ)’n Doebaaise firma gekies om die stembriewe te druk.

Dit het gelei tot spekulasie oor moontlike stembedrog, het Newsweek berig.

Net 18 maande nadat pres. Edgar Lungu in ’n blitsverkiesing naelskraaps gewen het, kom hy en sy hoofopponent, Hakainde Hichilema, weer teen mekaar te staan in ’n wedloop tussen nege kandidate.

In die 2015-verkiesing was die verskil in stemme tussen die twee kandidate slegs 27 757.

Minstens drie mense is tydens die verkiesingsveldtog dood, wat gekenmerk is deur gereelde­ skermutselinge tussen ondersteuners van Lungu se Patriotic­ Front (PF) en Hichilema se United Party for National Development (UPND).

Vóór stemdag het die verkiesingskommissie ’n verklaring uitgereik waarin die onrus as “ongekend” beskryf is en gewaarsku is dat dit Zambië se “geskiedkundige rekord van vreedsame verkiesings skade berokken”.

Verlede maand is veldtogvoering vir tien dae in Lusaka afgelas om die geweld te verminder.

Die skermutselinge het egter tot stemdag voortgeduur. Dit het straatgevegte en voertuie wat omgegooi is, ingesluit naby die plek waar Hichilema Woensdag sy laaste vergadering in Lusaka gehou het.

Grondwetlike veranderinge het meegebring dat die wenner nou meer as 50 persent van die stemme op hom of haar moet verenig. Dit kan beteken dat ’n tweede rondte verkiesings binne enkele weke gehou kan word, wat die gevaar vir verdere vyandigheid versterk.

Zambië het sedert onafhank­likwording in 1964 oorlog en ernstige politieke onluste vrygespring.

Die vorige vreedsame oordrag van mag aan ’n opposisiekandidaat was in 2011 toe pres. Michael Sata aan bewind gekom het. Hy is in 2014 oorlede en ná die 2015-verkiesing, het die 59-jarige Lungu die reg gewen om Sata se termyn te voltooi.

Zambiërs het gister gestem om wetgewers en plaaslike raadslede te verkies. Hulle het ook in ’n referendum gestem om die handves van regte te wysig.

Die uitslae word laat vandag en môre verwag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.