EFF se eis dat OB-onderhoude gestaak word verwerp

Deel op

Die EFF eis dat die onderhoude vir die pos van Openbare Beskermer gestaak word en dat die proses om kandidate op die kortlys te plaas weer moet begin.

Die hoofsweep van die EFF, Floyd Shivambu, sê daar moet onderhoude met meer mense gedoen word. Hy het ook gevra dat die besluit om op een dag onderhoude met al die kandidate te doen hersien word.

Die EFF dreig met regstappe.

Die Parlement se adhoc-komitee sal vandag onderhoude voer met al 14 kandidate op die kortlys.

Shivambu sê die pos van Openbare Beskermer is te belangrik om oorhaastig keuses te maak.

Die komitee se voorsitter, Makhosi Khoza, het egter die EFF se versoek van die hand gewys en gesê die party se eie optrede het daartoe gelei dat hulle nie vroeër aan vergaderings deelgeneem het waar daar oor die program besluit is nie.

Khoza het bygevoeg dat die doel daarvan is om regverdig teenoor alle kandidate te wees maar indien die onderhoude oor twee dae gehou moes word, sou daar ‘n onregverdige voordeel vir sekere kandidate wees.

Kandidate met wie onderhoude vandag gevoer gaan word het voor agtuur vanoggend by die Parlement begin opdaag. Al veertien die kandidate sal deur die dag voor die komitee verskyn.

Kandidate sal in ‘n afgeslote area wag waar hulle nie sal kan sien hoe die ander kandidate se onderhoude verloop nie.

Die onderhoude sal regstreeks op die parlementêre televisiekanaal en op YouTube gevolg kan word.

Die kandidate sluit onder andere in die adjunk nasionale direkteur van openbare vervolging, Willie Hofmeyr, die voormalige adjunk openbare beskermer, advokaat Mamiki Goodman, en die huidige adjunk openbare beskermer, Kevin Malunga.

Verskeie groepe het vroeër kommer uitgespreek omdat net een dag vir al die onderhoude opsygesit is.

Hulle meen onderhoudvoerders kan moeg word en nie so lank aaneen sal kan konsentreer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.