Etniese geweld teister Ethiopië

Deel op

Oproer in Ethiopië het in November 2015 in die Oromia-streek begin wat die hoofstad omring. Planne van die regering om die grense van Addis Abeba, die setel van die Afrika-Unie uit te brei, het aanleiding tot die openbare uitbarstings gegee.

Oor die naweek het owerhede ten minste 100 mense gedood en ‘n algehele verbod op alle internetgebruik geld.

Die streek se Oromo-bevolking vrees dat hul plaasgrond onteien sal word. Ondanks die feit dat die regering hierdie planne laat vaar het en die betogings met geweld onderdruk het, het hulle die woede onderskat wat dit uitgelok het.

Onluste het sedertdien na ander dele van Oromia versprei, en meer onlangs ook na die noordelike Amhara-streek uitgebrei, het AFP berig.

Dit het tot onmin gelei in regeringsgeledere van dié sleutel Amerikaanse bondgenoot en belangrike vennoot in Oos-Afrika se stryd teen terrorisme.

“Sedert hulle aan bewind gekom het, het die regime nog nooit so ’n slegte belewenis gehad nie. Ethiopië lyk soos ’n vliegtuig wat ’n sone van uiterste turbulensie beleef,” het ’n onafhanklike navorser, Rene Lafort, gesê.

Ondanks wat hy as ’n “staat van beleg” op die Oromia-streek beskryf, het die opstand in onlangse weke geen teken van afname getoon nie en betogers daag toenemend openlik die regering uit.

Een vergadering is selfs Saterdag in Addis Abeba gehou, ’n rare gebeurtenis in die magsetel van die land. Die Ethiopiese regering word onder die mees onderdrukkende in Afrika geag.

Meer as 140 mense is dood toe veiligheidsmagte die aanvanklike Oromia-grondbetogings onderdruk het. Menseregtegroepe het berig van mense wat voor die voet doodgeskiet is en ander wat gemartel is.

In die jongste optrede die naweek is, volgens Amnestie Internasionaal, meer as 100 mense dood. Die veiligheidsmagte het volgens berigte met lewendige ammunisie op die skare gevuur.

“Die krisis is sistemies, omdat dit die fondamente van ’n regeringsmodel skud wat 25 jaar gelede in werking gestel is en wat outoritêr en gesentraliseer is,” het Lafort verduidelik.

Die betogers het verskillende griewe, maar is verenig in hul ontevredenheid met die land se leiers, wat meestal uit die noordelike Tigray-streek kom en minder as tien persent van die bevolking verteenwoordig.

Die eerste minister, Hailemariam Desalegn, staan aan die hoof van die Ethio­pian People’s Revolutionary Democratic Front (EPRDF), wat in die verkiesings verlede jaar al die setels in die parlement gewen het.

Al kom hy van die Wolayta-minderheidsgroep, is hy in die regering omring deur Tigriërs wat ook die veiligheidsmagte en posisies van ekonomiese mag domineer.

Prof. Getachew Metaferia, ’n hoogleraar in politieke wetenskap aan die Morgan State University in Amerika, beskryf die toedrag van sake as ’n staat wat deur ’n etniese minderheid beheer word en hul wil op die meerderheid afdwing.

Volgens hom is dit ’n noodsaaklike faktor om begrip vir die onluste te kry.

Meer as 60 persent van die land se nagenoeg 100 miljoen mense is óf Amhara óf Oromo.

“Daar is geen fundamentele bespreking met die mense nie, geen dialoog nie en die vlakke van frustrasie is aan die oplaai. Ek dink nie dinge sal na normaal terugkeer nie,” het die professor gesê.

Die land se leiers het daarin geslaag om verbysterende ekonomiese groei en ’n vinnig verbeterde gesondheidsbedeling te vestig, wat die beeld van die land aansienlik van die hongersnoodgeteisterde land van die 1980’s verander het.

Maar dit het ten koste van sekere regte gekom. Ethiopië is nommer 142 uit 180 lande in vanjaar se Verslaggewers Sonder Grense se persvryheid-indeks.

Ná die omverwerping van die diktator, Mengistu Haile Mariam in 1991, het Meles Zenawi met ’n ystervuis tot sy dood in 2012 geregeer waarna Hailemariam die leisels oorgeneem het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.