Verteenwoordig die ANK werklik die armes?

Deel op

Die ANK en sy meelopers is geneig om voor te gee dat hy en hy alleen die party van die massas is. Vir "massas" kan mens uiteraard die woorde swartes en armes vervang. Is dit egter werklik die geval?

Deel op

My siening is dat die ANK nie werklik die party is van die massas nie, maar eerder ‘n relatief klein kliek verteenwoordig wat uit die teruggekeerde uitgewekenes ("exiles"), Engelse en Afrikaanse sakelui bestaan, asook en veral die Xhosa-sprekende voordeeltrekkers uit Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Die hoof-prioriteit van hierdie kliek is allermins die armes.

Dit gaan eerder daaroor om so vinnig moontlik soveel rykdom as moontlik op te gaar. Ek wil selfs so ver gaan om te spekuleer dat die ware onderhandelinge nie by Kodesa plaasgevind het nie, maar tussen die Ramaphosas en Oppenheimers van die lewe. Politieke mag vir die ANK-regime verteenwoordig grootliks ‘n instrument om die doel van selfverryking te bereik.

Oor SEB se legio tekortkominge hoef ek nie veel uit te wei nie. Dit is uiteraard niks anders as institusionele korrupsie nie, waar gawes en gunste aan mense met die regte verbintenisse uitgedeel word. Dieselfde klein groepie verdagtes – Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa en andere – word oor en oor "bemagtig" om nog ‘n Maybach of privaatstraler te kan aankoop terwyl miljoene ‘n sukkelbestaan voer. Ook word aanstellings van goed geplaasdes, veral binne die staatsdiens, om politieke redes gemaak en dikwels geensins op grond van bevoegdheid nie.

As mens na veral president Mbeki se uitsprake luister, en kyk wie maklike toegang tot die president het, is dit duidelik dat transformasie meestal ‘n eufemisme is daarvoor om lede van die Xhosa-binnekring te verryk. Dieselfde refrein word oor en oor uit die mond van die ANK gehoor: transformasie en SEB vorder te stadig. Te min maatskappye is "bemagtig" (lees: op ‘n skinkbord oorhandig aan swart passasiers wat geen waarde toevoeg nie). Hier is ‘n onlangse voorbeeld van so ‘n klagte.

Aan die ander kant vind mens dat die regime klaaglik misluk om die armes se belange te bevorder. Die ou verskoning dat apartheid te blameer sou wees vir die armes se lot, hou eenvoudig nie meer steek nie. Voortgesette armoede na twaalf jaar van wanbestuur, diefstal en baantjies vir boeties kan regstreeks op die regime blameer word, hetsy op sy binnekring se grypsug of op sy volslae onbevoegdheid om ‘n land te bestuur.

* Die Minister van Gesondheid asook die president self hang vreemde teorieë aan oor die oorsake en kuur van VIGS, ‘n siekte wat armes die ergste raak. Die regime moet hof toe gesleep word om hom te dwing om anti-retrovirale middels te verskaf.

* As gevolg van korrupsie en onbekwaamheid vorder die bou van laekostebehuising veels te stadig.

* Misdaad het sy grootste impak nie op ministers of SEB-bevoordeeldes nie – hulle het lyfwagte – maar op die armes wat nie alarms of privaatsekerheidsmaatskappye kan bekostig nie. Die president en sy ministers is egter ongeërg daaroor. Kla mens oor misdaad, beveel hulle aan jy moet self die probleem oplos, of les bes emigreer.

* Die vlak van regering naaste aan die armes is munisipaliteite. As gevolg van politieke- en regstellende aksie-aanstellings, is bykans alle munisipaliteite se bestuur en funksionering chaoties. Swak dienslewering het al tot onluste gelei.

Die groot vraagstuk is uiteraard hoe lank die massas wat in pondokke krepeer die ANK-regime sal verdra. Op ander kontinente en in werkende demokrasieë (wat Suid-Afrika geensins is nie) sou ‘n regime so korrup, krimineel en onbeholpe soos die ANK lankal uitgestem gewees het. Hierdie is egter Afrika. Oral op die kontinent word despote en korrupsie skynbaar deur kiesers verdra indien nie vir helde aangesien nie. ‘n Ou gesegde, wat moontlik aan Lafayette toegeskryf kan word, lui dat mense die regering kry wat hulle verdien.

Moontlik verdien die armes die ANK as hulle bereid is kriminele gedrag te verduur, Tony Yengeni as ‘n held te sien en obsene selfverryking as aanvaarbaar te beskou. Die res van ons egter nie.

пескоструйныеАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.