President Jacob Zuma het sy medelye aan Pakistan betuig ná ‘n dodelike terreuraanval op ‘n hospitaal in die stad Quetta.
Minstens 70 mense is dood en meer as 100 is beseer nadat ‘n bom gister by die ingang na die noodeenheid van die hospitaal ontplof het.
Tientalle regslui was uit protes by die hospitaal byeen nadat die lyk van ‘n kollega, wat vroeër doodgeskiet is, daarheen geneem is.
Die aanval was blykbaar ‘n selfmoord-bomaanval. Die meeste mense wat gedood is, is regslui.
Zuma het die daad ten skerpste veroordeel en gesê Suid-Afrika sal voortgaan om terreur te help beveg.
Die aanval dui op faksiegevegte in die land. Na Irak en Afghanistan, is Pakistan derde op die lys van lande waar selfmoordbomaanvalle die meeste voorkom.
Die aanval is glo uitgevoer deur ‘n mededinger van ISIS, die Jamaat-oer-Ahrar.
Die groep het minstens 70 mense in April gedood in ‘n soortgelyke aanval in Lahore toe Christene tydens Paasfees geteiken is.
Pakistanse regsgeleerdes het begin staak nadat dosyne van hul kollegas Maandag omgekom het.
Volgens mediese personeel was ongeveer 60 van die oorledenes regsgeleerdes, wat by die hospitaal vergader het om oor die sluipmoord van die president van die Baloetsjistan balie, Bilal Anwar Kasi, Maandagoggend te rou.
Dit was die jongste en dodelikste van ‘n reeks aanvalle teen regsgeleerdes in Pakistan. Militante beskou hulle as ‘n verlenging van die regering en gevolglik geregverdigde teikens.
“Hoe swak en pateties is hierdie mense wat hospitale teiken, waarheen vrouens en kinders gaan om behandeling te kry?” het Ashtar Ausaf Ali, Pakistan se prokureur-generaal by ‘n betoging buite die hooggeregshof in die hoofstad Islamabad gesê.
Die president van die hooggeregshof-balie, Ali Zafar, het ‘n beroep op die regering gedoen om meer beskerming aan regsgeleerdes te verleen.