Thailand se inwoners het begin stem in ’n referendum oor ’n nuwe grondwet wat deur die militêre junta opgestel is en die weg sal baan vir ’n algemene verkiesing in 2017, maar ook voorsiening maak vir toekomstige regerings om op die voorwaardes van die weermag te regeer.
Dit is die eerste toets vir die junta onder leiding van die eerste minister, Prayuth Chan-ocha (foto bo links, op besoek aan China), wat politieke aktiwiteit onderdruk het tydens die twee jaar sedert hy ná ’n staatsgreep in 2014 aan bewind gekom het.
Voor die referendum het meningsopnames getoon dat ’n klein meerderheid ten gunste van die nuwe grondwet was, maar die meeste kiesers was besluiteloos.
Prayuth het gesê hy sal nie bedank indien Thailand die grondwet verwerp nie en dat algemene verkiesings volgende jaar sal plaasvind, ongeag die uitslag.
Ongeveer 200 000 polisiebeampes is vir die verkiesing ontplooi. Thailand se grootste politieke party het die nuwe grondwet voor die verkiesing verwerp, maar daar was geen tekens van betogings of onluste nie.
Die junta, voorheen bekend as die Nasionale Raad vir Vrede en Orde, het kritiek van die grondwet verbied en die owerhede het dosyne mense, insluitende politici en studente-aktiviste wat uitsprake teen die grondwet gemaak het, aangehou en aangekla.
Thailand se houding staan bekend as die ‘bamboesdiplomasie” wat na die winde van verandering buig. Die land se toenadering tot Rusland en China het intussen egter gesorg dat hulle uitgesluit is uit die 2014-RIMPAC-militêre see-oefeninge wat deur die VSA gelei is.