Rio Spele ingelui deur ‘n ontploffing

Deel op

Die Rio Olimpiese Spele het met ‘n ontploffing afgeskop toe militêre plofstofdeskundiges ’n verdagte pakket naby aan die eindpunt van die mans se fietswedren by Copacabana-strand opgeblaas en vrees by toe­skouers ingeboesem het.

By ‘n perdesportbyeenkoms in Deodoro, wat op ’n militêre basis is, het ‘n dwaalkoeël deur die seildak van die mediasentrum geskeur en op die vloer beland.

“Alle owerhede het die versekering gegee dat die koeël niks met die Spele of die Olimpiese familie of die media te doen gehad het nie. Die area was nie die teiken nie,” het ’n woordvoerder van die Spele, Mario Andrada, gesê.

Die openingseremonie was ’n glansgeleentheid, met atlete van deelnemende lande wat ouder­gewoonde in die Maracanã Olimpiese stadion deur Griekeland binne­gelei is.

Meer as 11 000 atlete van 206 nasionale Olimpiese komitees, insluitende vir die eerste keer Kosovo en Suid-Soedan, neem vanjaar deel. Altesaam 28 sportdissiplines word aangebied, insluitende sewes-rugby­ en gholf, wat in 2009 deur die internasionale Olimpiese komitee ingesluit is.

Rio de Janeiro is die eerste Suid-Amerikaanse stad om die somer­spele aan te bied. Dit is ook die eerste keer dat die Olimpiese Spele in ’n Portugeessprekende land aangebied word en die hele somerspele in die winter aangebied word.

Die aanloop tot die Spele is deur omstredenheid geteister, insluitende die onstabiliteit van die land se federale regering, kommer oor gesondheid en veiligheid oor die Zika-­virus en ernstige besoedeling in Guanabara-baai.

Dwelmskandale het die Russiese span sowel as die Keniaanse span getref, en meegebring dat talle Russiese atlete verbied is om aan die Spele deel te neem, terwyl die Keniane steeds welkom is.

Dié politiekery om die Russe uit te hou sal sorg vir minder belangstelling. Ook is onthul dat die Spelekomitee nie naastenby genoeg fondse het nie en deur die staat geborg sal moet word.

Ten minste die helfte van Brasilië se inwoners is fel gekant teen die Spele.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.