Leon Lemmer: Twee politieke waterskeidings: 1795 en 1994

Deel op

Die historikus Dan Sleigh (gebore in 1938) skryf soos geen ander outeur nie en dikwels beter as baie van hulle. Sy skryfwerk is ‘n toonbeeld van die seggingskrag van Afrikaans. Om sy werk te vertaal sou nie maklik wees nie. Niemand kan die lewe in bv die Hollandse Kaap herskep soos hy nie. Hy munt uit in die beskrywing van bv die seevaart en krygskunde. Sleigh het bekendheid verwerf met twee lywige romans: Eilande (Kaapstad: Tafelberg, 2002, 757p; binnekort as e-boek beskikbaar) en Afstande (Kaapstad: Tafelberg, 2010, 620p; Amazon Kindle $25). Eersgenoemde handel oor die eerste Kompanjie-jare aan die Kaap en die ander een oor gebeure in Klein-Asië en die Midde-Ooste vier eeue voor Christus. Albei tekste wek die indruk van historiese juistheid. Teen albei kan dalk dieselfde beswaar as teen my rubrieke ingebring word: te lank; of soos van Mozart se komposisie in die rolprent Amadeus (1984) gesê is: “Too many notes.”

Sleigh het hierdie suksesse met ‘n meer beskeie roman opgevolg, Wals met Matilda (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 399p; Amazon Kindle $18). Ook hierin is daar “lang, boordensvol sinne” (p 124). Die situasie is meesal die hier en nou. Dit stel die outeur in staat om snydende kommentaar oor die nuwe Suid-Afrika te lewer. Daarin blyk dit duidelik dat Sleigh ‘n Afrikaner in murg en been is en sommer in hart en niere ook. Die outeur se politieke waarnemings is myns insiens van die hoogtepunte in die roman.

“Tussen hulle is die oudpolitici maklik om te herken van hulle dae aan lamppale, maklik om te vergeet, moeilik om te vergewe, minder opreg as hulle honde” (23). “Parlementslede verkies deur halfgeletterdes wat stem oor dinge waarvan hulle geen begrip het nie” (27). Robbeneiland het “‘n sleg versorgde apartheidsmonument en propagandakantoor van die Party” geword (37). “Reg voor ons is Robbeneiland, ons regering se poging tot ‘n toeristiese klaagmuur” (90). In Australië is die inboorlinge geleer: “Niks vir niks, anders wil hulle alles verniet hê” (279). “Onthou altyd, by hond, skaap, perd en mens: bloed tel” (189). “Dit is ‘n snaakse land. Die gevaarlikes speel grootmeneer, die goeies vlug voor die gereg” (254).

“Taal … is … die huis waarin ek woon” (162). “Mense wat nie van gevoeligheid vir taal weet nie, word losgelaat op ‘n medium [radio] wat uit taal bestaan” (304). “As jy opstaan en praat, word jy gestempel, getjap. Ek wil nie ‘n kampvegter of taalstryder of handhawer genoem wees nie, net dat my en my oom se taal ‘n onbesoedelde fontein bly, waar enigeen kan skep. Vir altyd. Dit is ons reg” (306). “My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel” (307). “Sy voel oor besoedeling van haar taal soos hy oor besoedeling van die natuur; vir albei is dit iets om van bang te word” (333).

“Hy vind die gewoonte van volksliedere vóór rugby belaglik … Hy hou van goeie voetbal, maar die gesanik irriteer hom; ‘n onmusikale lied met onsinnige woorde geskryf deur mense wat niks van voetbal weet nie vir mense wat niks van musiek weet nie. Wat in godsnaam het dit met die wedstryd te doen? … Hy vra wat ek van Suid-Afrika se nuwe volkslied dink. Hulle s’n, nie myne nie, sê ek. ‘n Onsimpatieke sameflansing … Ek hoor julle [Australiërs] verkies ‘Waltzing Matilda” (126-127). Ek verkies ‘Sarie Marais’ maar die polities korrekte Rugbyraad en die borge verkies die volkslied.

Sleigh se jongste en, volgens hom, laaste roman is 1795 (Kaapstad: Tafelberg, 2016, 463p; Amazon Kindle $21,33). Die aanvanklike titel was: Die laaste goeie man. Die tema is die oorgang van die Hollandse na die Engelse bewind aan die Kaap. “Geskiedenis bewaar die herinneringe van hoë dade, is getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing oor die toekoms” (Kindle 641). “Praat met die verlede, dáár sal jy leer” (Job 8:8 – 860). Daarom is daar duidelike sinspelings op wat in 1994, dus twee eeue later, in Suid-Afrika gebeur het, naamlik die oorgang van ‘n blanke na ‘n swart politieke bewind. “Dié brawe Nuwe Tyd is geneig om die beskawende hand te onderdruk en die verderwende hand te ondersteun” (1618). “Hy, hulle almal, het hul eenvoudige verlede, met alle pligte en verantwoordelikhede so duidelik en onder beheer, gisternag verloor” (464). “Asof ‘n vertroude horlosie gaan staan het, is sekerheid en gerustheid nou verlore” (470). Dit is uitsluitlik vanuit hierdie politieke hoek dat ek oor 1795 in hierdie rubriek skryf. Ek gaan dus nie die storie vertel nie, maar aanhalings gebruik in soverre hulle veral op ons huidige situasie toepaslik gemaak kan word en sonder om noodwendig die presiese verhaalkonteks in ag te neem.

William (Willie, Will, Wil) Ferdinand, baron Van Reede van Oudshoorn, seun van ‘n vorige Kaapse goewerneur, Pieter (1714-1773), is die hoofkarakter in hierdie roman, “die met al zyn magt de Engelschen heeft tragt te weeren” (8). Dit gaan vir William om “sy Kaap” (101), “sy dorp, sy mense” (41). Maar: “Jy kan teen die draak verloor” (636). Sy pa het dit by hom ingeprent: “Ons saak is vir vryheid. Dat ons Jan Kompanjie se greep hier afskud en ons eie vlag hys … Ons land het ‘n toekoms so blink soos Amerika s’n” (205). “Pasop vir ‘n Engelsman wanneer hy beleefd word, het sy pa gewaarsku” (2620). “Die Amerikaner [was] slim genoeg om die Engelsman uit sy land te jaag. Vry en onafhanklik; hulle het ons nou myle vóór geraak. Waar sit ons vandag? Praat van agtergeblewe” (212). Die Kompanjie het hulle gefaal. “Dan moet ons nou maar self. Niemand gaan dit vir ons doen nie. Ons mense gaan veronnosel. Ons gaan bywoners word” (218). Daar is “vervlakking, agteruitgang onder ‘n kultuurarm volk wat in heillose donker wegsak. Almal hier is gestadig aan veronnosel” (288). “Wat tel is wat niemand sien nie: Die bloed in jou are” (311).

William bly koersvas stry vir die onafhanklikheid van die Kaap, van die mond van die Bergrivier tot by die mond van die Breederivier: “Daar het jy die vaderland … Die strook is nie Afrika nie; Kapenaars het lank en hard gewerk om dit anders as Afrika te maak. En dié klein landjie is hy; land, dorp, huis en hy is één. Dis sy lewe, dis sy bloed en asem in hom, waarsonder niemand kan leef nie. Verloor hy dit, word hy niks. Van gisteraand af is dit onder beleg. Hy moet dit vashou, aanhou om dit te besit” (488). “Dit is sy Saasveld [sy huis se naam]. Nou kom onrus hier, met ‘n dreigende oorlog deur sterk, vasbeslote invallers. Geen eerlike gees sal dit duld nie” (499). “Alles was ordelik, bekend, deur lang gebruik gevestig. Daar was gerustheid vir nog ‘n jaar … hy het geweet dat sy omstandighede gemaklik en aangenaam is, hy was in beheer van sy lewe, tevrede met sy vermoë. Waarom kon dit nie so bly nie?” (505).

Die Britse inval geskied op ‘n tydstip toe die distrikte van Graaff-Reinet en Swellendam hulle reeds onafhanklik van die Hollands Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) verklaar het. Die versugting was: “Een fatale ding is nodig, messieurs, en dit is verenigde krag … Bring al jul boerestate onder een vlag. Volg die voorbeeld van die Noord-Amerikaanse state” (2940). “Ons moet ‘n Kaapse republiek uitroep, soos Graaff-Reinet en Swellendam” (3560). Die HOIK is op sy laaste bene en staar bankrotskap in die gesig. Daar heers groot politieke verdeeldheid onder die plaaslike bevolking. “Die kern is nie solied nie … Eweredig aan die verskeidenheid is die kanse vir verraad; miskien moet hulle eers saam val soos graan, daarna saam opstaan” (943). Die Nederlandse monarg, prins Willem van Oranje, het weens die Franse inval in sy land na Engeland gevlug en die Britte gevra om die Kaap te beset en teen die Franse te verdedig (1125). Sommige steun die Oranje-monargie en die Britte. Dadelik ontstaan daar hanskakies, bv “Die kêrel klim klaar uit die Kompanjie se sinkende skuit en maak hom diensbaar vir ‘n nuwe baas” (565). Ander verkies Franse besetting, wat sal meebring dat die Kaap ‘n Nederlandse kolonie van die Bataafse Republiek word. Tot 1795 was die Kaap ‘n private HOIK-besitting.

William van Oudshoorn is die laaste goeie man. Hy is eintlik so goed dat hy my herinner aan die ma van die Amerikaanse skrywer Philip Roth, wat graag gesê het dat sy net een fout het, dat sy té goed is. William voer sy pligte as graanskuurbestuurder, Raadslid en kommandant van die Pennistenkorps getrou uit. Hy is ewewigtig in sy oordeel en onbaatsugtig in sy optrede. Danksy ‘n erflating is hy welgesteld en maak hy hom nie aan korrupsie skuldig nie. “Veel mag het korrupsie, selfverryking en vervlakking, wat reeds begin het, bespoedig” (1640). Hy is goed vir sy medemense en wil die twee slawe in sy diens vrystel. “Ons het ‘n fout gemaak deur slawe in te voer. Ons het kundige Europese arbeiders meer nodig” (3993).

Heel aan die begin word William Shakespeare soos volg aangehaal: “Time will come and take my love away” (5). “Daar is tóé en daar’s nóú” (176). Dit som die situasie op waarin Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika verkeer. Anders as voorheen, het dit vir ons feitlik onmoontlik geword om werklik patrioties/vaderlandsliewend te voel oor bv die chaos, verval en rassediskriminasie wat ‘n vreemde bewind in ‘n al hoe vreemder land oor ons loslaat. Feitlik alles is omgedop en opgedonder. “Patriotisme kan ‘n smal en vuil gangetjie word” (3492). “Alles hier is in gevaar” (665).

“Makosa [Xhosa] … is onregeerbaar … Hy ken geen god of sy gebod nie en respekteer ook nie andermansgoed nie. Hy glo alleen in die assegaai en gee g’n om vir ander se lewe nie. Nou meen ek dis tyd dat die Kompanjie ‘n sterk man stuur om met hulle te gaan sit en ‘n grens neerlê: Kyk, hier loop die rivier, julle se land is sonopkant. Ons, óns bly sononderkant, dis óns se land” (1568). “Stop ons hom nie, kan jy maar jou pluim in rooi doop en dwarsoor dié hele boel skryf, ‘Land van de Caffres'” (1599). “Moet Christenvolk onder die barbaar vergaan?” (1605).

“Persoonlik probeer ek om wilde mense en diere te vermy. Dis veiliger hier in my huis” (2053). “Jy is nie gereed vir wat met jou gaan gebeur nie. Jy weet nie hoe jou wêreld gaan verander nie, dat niks weer soos gister en eergister kan wees nie” (937). Byvoorbeeld: “Hoe ver is die Makosas van die Kaap af? … Ek het nog nooit een gesien nie” (2697). Deesdae is daar heelwat van hulle in die Kaap te sien, tot in die parlement, asof hulle hier inheems is. “Hier het net die Hottentot aanspraak voor ons … Ons het gebou. Geeneen voor ons nie” (3566).

Tydens sy besoek aan die Kaap (1771) het kaptein James Cook (1728-1779) na (fiktiewe) bewering gesê: “Is julle nie bang om op hierdie vasteland se uithoek in afsondering, onkunde en korrupsie te vergaan terwyl ‘n nuwe son van verligting oor die aardbol verrys nie?” (346). Die arrogante Britte wou hulle beskawing hierheen bring. Die globaliste redeneer deesdae op ‘n soortgelyke manier. “Die wat hom [Cook] kon verstaan het gebrom: Gaan huis toe, man. Verwaande rooibaadjie” (352). “Wat kom snuffel die dônnerse Engelse weer om die Kaap?” (346). In 1795 was daar skielik skepe van die Britse vloot in Simonsbaai. “Die Engelse het vannag oor sy land neergesak soos die pokke van ’13” (499). “Nege Engelse oorlogskepe met omtrent drieduisend soldate en matrose het gisteraand in ons seewater geanker” (1007).”Die vyand is voor die poort, die geveg om huis en haard begin vandag” (913).

William is oortuig “iemand moet opstaan en die leiding op hom neem … Is hy siek, of is dit skok en ongeloof, dalk angs omdat vreemdelinge sy land eis en oor hom wil regeer? … sy gedagte vermy hede en toekoms en stroom asof op vlug na die verlede, op soek na begrip van gebeure en ervarings wat sy lewe gevorm het én sy aanspraak op dié huis, dorp en stukkie land bevestig. Hy het gekies om met die lewendes te lewe. Hy skaar hom by die dorpenaars en boere, bruikbare, gewillige arbeiders in die ryk land waarop hulle hul tuisgemaak het” (808). “Veg vir die bewys van ons kultuur in die suide van die kontinent” (2684). “Hier ís potensiaal vir grootheid, wat gered moet word” (842). Maar dan moet jy jou aktief verset anders word “jou stilte … instemming, jou instemming ‘n wapen in die teenstander se hand, ewe ondermynend as ‘n landkaart of wagwoord aan die vyand gegee” (1120). “Dié is Afrika, gewelddadig; hier moet jy weerstand bied of ondergaan. Kommissaris [Rijckloff] van Goens [1619-1682] wou die Kaap losspit van Afrika en ‘n eiland daarvan maak om van hierdie donker agterlikheid los te kom: Apart, en vry” (1688).

Kommissaris Abraham Josias Sluysken (1736-1799) is as HOIK-amptenaar in 1795 die politieke hoof aan die Kaap met kolonel Robert Jacob Gordon (1743-1795) as die militêre hoof: “kleinlike skepsels met klein verstandjies” (1054). Sluysken het feitlik sonder slag of stoot aan die Britte oorgegee: “Op ‘n skinkbord aangebied … Hulle word met leuens en agteraf handelings regeer” (3038). Van Sluysken word gesê: “Hy, met ‘n vyand in sy land, kan niks wys wat hy vir die behoud van sy land doen nie … Hy het geen greep op die toestand nie … Waar is die beslissende, hete geveg om sy land” (3044). Vir toepassing op 1994 hou ek van hoe Sluysken se voorkoms beskryf word: “bles bliksem” (1969, 5235, 5279), “eierkop” (5235), “Bles gaan jul land onder julle uitverkoop” (2011), “Ek haat die bles dwaas” (4668). Oorweeg die toepaslikheidvan die volgende sin op 1994 se gebeure: “Nou skel die tyd op hulle oor nalatigheid, oor swak leierskap” (2266). “Die kerslig skitter op sy kaal skedel terwyl hy sy medepligtiges prys” (6036). William voorspel: “Jou geskiedenis gaan aan jou vreet” (6048). “Jy, meneer, gee ons land weg, draai jou rug op ons en vertrek oorsee” (6074). “Jou nalatenskap is ‘n klein kerkhoffie waarin ons volk se grafsteen staan” (6080).

Van die begin af het Robert Gordon “‘n onderhandelde skikking” met die Britte aanbeveel pleks van te veg (1204). “Stille onttrekking in die aangesig van die vyand is waarvan Robert praat. Só ‘n veragtelike daad is seker nog nie in die wêreld gepleeg nie, anders sou dit bekend wees. Kolonel so-en-so het weggekruip toe sy land ingeval word. Is dit nie erger as verraad nie?” (1981). “Robert se beskouing is dat as ons vrywillig wapens neerlê, ons later ons vryheid kan terugeis” (3084). Hy word “‘n lafhartige windsak” genoem (4715). William het ‘n “weersin in dié huigelaar met sy gemaklike selfbedrog” (4792). “Die tweegatjakkals weet hoe om tot die einde verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te ontduik” (5011). “Hy het nog nie begin veg nie en Sluysken praat van kapituleer. Het Gordon voorgestel dat Simonsbaai ontruim word, of het Sluysken self die gedagte in die kolonel se naïewe verstand geplaas?” (3091).

William van Oudshoorn, daarenteen, het geredeneer: “Ek glo ons moet die allerbeste verdediging voorberei, en in beheer bly … Engeland sal geen vloot stuur uit liefde vir prins Willem nie, hul saak is alleen eiebelang … Ons wagwoord moet ‘paraatheid’ wees” (1209). Wat is William se doel? “Om oorlog te voer. Om die land en alles wat dit vir my beteken te behou deur die invallers deur aggressie te verdryf. Die nageslag gaan ons dankbaar wees” (2448). “Alles … is ‘n groot geveg werd” (2752). “Vir wat jy hier sien, gee ek my lewe. Dit is die offer werd” (2758). “Die Raad verdaag sonder om sy voorstel van aggressiewe reaksie te bespreek” (2820).

Sluysken gee voorkeur aan “verdraagsaamheid” (2825). Daarna volg bv “die ongelooflike, onnodige prysgee van ‘n bemande, gewapende buitepos … sonder dat een skoot deur hulle of hul vyand afgetrek is” (3050). “Waarom is hulle uit ‘n goeie posisie onttrek?” (3126). “Dit kom vir William voor of beide bevelhebbers [Sluysken en Gordon] ten gunste van oorgawe is en albei na geleenthede soek om die ander daarvoor te blameer … Redes en motiewe mag verskil, maar die twee spit saam aan sy vaderland se graf” (3138). Na die val van Muizenberg het die Kaapse gebrek aan verdediging van kwaad tot erger gegaan.

Daar is ‘n insiggewende bespreking van stemreg. “Een man, een stem is nie geskik vir plekke waar gevestigde meerderhede bestaan nie. Jul sogenaamde demokrate vra mense om hande op te steek, dan tel julle die hande. Die tel van hande sal nooit demokrasie wees nie en word ‘n skuiling vir opportuniste en misdadigers van die ergste soort. Stemme, messieurs, moet nie getel nie maar gewéég word. Dít is ons enigste hoop op regverdigheid. Mense is nie net hande nie, veel belangriker is die siel en die verstand. Ek aanvaar dat elke mens ‘n geboortereg het en deur die natuur met ‘n stem geseën word, maar dieselfde natuur het aan sommige een talent gegee en ander twee of drie. En dié wat harder as ander werk, maak hul soveel méér verdienstelik. Behoort hulle nie soveel stembriewe te kry as wat hul verdien nie?”(2897).

Byvoorbeeld: “‘n Tweede stem vir hoër opvoeding. ‘n Derde vir die hoeveelheid belasting wat jy betaal. ‘n Vierde op die ouderdom van vyftig. ‘n Vyfde as jy kinders tot volwassenheid [en nie-misdadigheid] opgevoed het” (2897). “Daar mag meer wees,” bv “vir [konvensionele, nie-terroristiese] militêre diens van drie jaar of langer. En wat van nog een stem vir besondere kulturele of wetenskaplike prestasie … Enigeen kan dus drie, vier of selfs ses stemme werd wees, teenoor die imbesiel en die straatveër se een of twee … Ja, dit sal inderdaad egte demokrasie wees, na verdienste én regverdig” (2909).

“Bedink terselfdertyd die vernietigende krag van die een-man-een-stem-stelsel. As ‘n talentvolle persoon soos [Thomas] Jefferson [1743-1826] se stem gelyk aan dié van sy tuinier of koetsier geag word, is dit nie langer demokrasie nie maar ‘n aaklige misverstand en skadelike dwaasheid. Jy kan net van demokrasie praat waar die gees se rol openlik erken word” (2915). “‘n Mens kan nie gelyk maak wat God self ongelyk gemaak het nie” (2921). Ek het dit voorheen gestel dat die woord “demokrasie” in die nuwe Suid-Afrika ‘n eufemisme vir swart mag is. “Toe Perikles [495-429 vC] begryp dat demokrasie ‘n veelkoppige monster is, het hy daarvan weggedraai” (3596).

Ten spyte van die verslegtende militêre posisie doen Van Oudshoorn hartstogtelik alles in sy vermoë om die land te probeer red. “Ons is nog geensins verslaan nie. Ons is nog nie eens getoets nie” (5041). “As dit [ons land] verlore gaan, is dit klaar met ons nasie” (3492). Hy bly “glo in die regverdigheid van ons saak” (3499). “Dit kom my en ander met wie ek daaroor gepraat het, voor dat ons regering, of ten minste sekere raadslede, se harte nie in ons stryd is nie en dat hulle nie omgee of ons land behou word of verlore gaan nie. Maar ons Kapenaars het net hierdie stukkie grond, kleiner as Nederland, en as ons dit verloor, word ons staatloos, burgers van nêrens … Ek vra … om julle tot verset teen die invallers aan te moedig … ons daarop geregtig, en soos die Amerikaners wel in staat is om ons self te regeer” (3517).

“As Engeland die Kaap ook neem … sal ons sy wette moet gehoorsaam, produseer wat hy eis, hul taal aan ons kinders leer sodat hulle daarna aan die vreemdeling verantwoording kan doen … Hulle bekom die mag om te gebied en te verbied … Hulle kan belasting hef op wat ons het, ons ontwapen en belet om wapens te besit” (3534). Party redeneer: “Ons pak ons waens en trek landuit … dit word ‘n ontvlugting aan die werklikheid” (3541). “Hulle het ‘n skof te ver getrek” (3560). Dit verskraal die eenheid. Dit sal “‘n onherstelbare ramp wees … Julle verswak ons volk en word nog daar uitgemoor. En as julle tussen die Swartes intrek, is dit ewig en altyd verby met skeiding deur vaste grense” (3547). “Laat ons bymekaar hou. In eenheid is krag” (3541). “Engeland se politiek is ongesond vir ons wêrelddeel … Hulle skep ‘n woestyn en noem dit vrede” (3547). Hulle vind “dit beter om te neem as om te gee” (5880).

“Onafhanklikheid is die basiese vorm van vryheid … Vryheid druk hom uit in wette en reëls wat vir één spesifieke volk beraam is. Vir één besondere volk … Jy het ‘n eie ruimte nodig vir jou vryheid. Binne andermansgrense kan jy nooit vry wees nie. Om vry te wees moet ‘n volk die soewereiniteit oor homself en beheer oor sy grond hê. Soewereintiteit se gesag ontstaan uit die volk, dit kom uit die goedkeuring van die volk en dit moet in die volk se hande bly. Niemand van buite mag dit verruil of wegteken nie. Hoe kan enige persoon sy volk se vryheid wegteken?” (3566). “Ons kan ons nie aan hul getalle onderwerp nie, dit sal selfmoord wees … As ons moet sterf, laat ons nie self die oorsaak daarvan wees nie … Nou moet ons opstaan en ons strate veilig maak, met ‘n verenigde wil” (3578). “Dis asof die Egiptiese plae die Kaap getref het” (4045). “Standaarde verval, sigbaar” (4069).

“William wonder of Sluysken iemand betaal om lawwe verduidelikings te bedink vir sy weiering om aggressief op te tree” (3687). Sluysken: “Dit sal beter wees om niks te doen wat die vyand as aggressiewe optrede kan vertolk nie” (4030). “Dié kêrel het nie die knaters nie” (4189): “Heb je g’n kloten, mijn heer?” (4727). Soos Gordon word Sluysken ‘n “tweegatjakkals” genoem (4959). “Sluysken … verswyg waarskynlik weer meer as wat hy sê. Sy grootste leuens, weet jy, lieg hy in stilte” (5006). “As die man se hart maar in die saak was en sy verstand net so goed soos sy mond gewerk het, hoef hy hulle nie met retoriek te probeer mislei nie. Of dink hy dat hulle onnosel is, en nie die verskil tussen sy praat en sy optrede opmerk en daardeur beledig en seergemaak voel nie?” (4602). ‘n Burger skryf: “Verwag geen hulp nie, maar maak soos die Amerikaners op u eie moed, vernuf en vaderlandsliefde staat” (3741). William sê: “Ons is beleër maar ek sien geen weerstand nie. Ek sien nie eens ‘n wil tot weerstand nie” (4141).

Sluysken sê: “Ek stel voor … dat die Raad ‘n wapenstilstand van agt-en-veertig uur vra, sodat ons voorwaardes vir kapitulasie kan bespreek” (5072). “William staan weer op: ‘Solank ons kan veg is ons nie verslaan nie'” (5072). Sluysken: “Ek het respek vir jou mening, William, maar nee. Om onnodige bloedvergieting te vermy” (5079). “In sy hart bly hy ‘n klerk wat die weg van minste weerstand kies” (5091). “Jy gee oor, kommissaris, maar dit bring geen vrede nie. Ons stryd gaan voort. Hoekom het jy ons nie vertel dat jy wil oorgee sonder om te veg nie? Dan kon ons self die aanval reël. Waarom het jy namens ons gekies en besluit?” (5097). Sluysken: “Ek moes keuses maak en besluite neem … Vir die land se beswil alleen” (5103). Van Oudshoorn: “Onsin. Jy kon veg. Wat van ons volk daar buite? Die onreg, die verraad, die misdaad!” (5103). Sluysken: “Ek het hierdie stad met al sy inwoners gered” (5291). William “kyk in die man se moeë oë: Sluysken lyk hol van binne. As hy ‘n siel gehad het, het hy dit verhandel” (5291). Hy het “aan ‘n onwaardige nasie kapituleer” (5893). “Ons weet dat die oormag én voordeel alles óns s’n was” (5589).

“So kry Sluysken en Gordon hul sin” (5103). “Die wenner skryf die storie” (6307). “Hul wandade word nou die Kaap se geskiedenis en môre se jeug erf die skande van hul vaders … sulke gemene knoeiery, onreg in stilte bewimpel, sulke skelmheid en uitgebreide diefstal, dat ek my beswaarlik ‘n soortgelyke toestand op enige plek ter wêreld kan voorstel” (5127). “Só, korrup, misdadig en morsig, eindig wat die pioniers hier in nederige en getroue werksaamheid begin het” (5206). “Die Kapenaars, verlangend na hul vrede en gerief, sal gou die Engelsman as hul baas aanvaar en gedweë gaan lê met die houding van ‘n hond wat slae gekry het. Almal sal aan die nuwe vlag gewoond word; enkeles sal dit met groeiende haat verduur” (5356).

Die Britte “is nou die wenners; aan hulle behoort die glorie én die mag om leuens te bedink en op amptelike, gestempelde papier en in skoolboeke te versprei en verewig … William loop huis toe met die sekerheid dat hy hierdie vyand nie sal vertrou nie … Hul grypsug oortref die Kompanjie s’n, hul oneerlikheid is minstens ewe groot” (5409). “Groenteplein [word] skielik Green Market Square … Enigiets wat die vreemde inkommer mag behaag het moontlik geword” (5416). “Afrikaners is deur die bank sleg, dis wat jy gaan hoor, jy sal jouself later nie meer ken nie … Die Afrikaner gaan geleer word om homself te skaam. Hy sal nie meer sy taal wil praat nie, want dié is minderwaardig … ons kinders … die skole leer hul in Engels” (5624). “As jy ‘n volk se taal uitroei is sy tong uitgesny … Uiteindelik, net Engels. Maar die verlies, dit bly julle s’n” (5874).

“Die rewolusie het Kaap toe gekom” (4444). “Iets is nou finaal verby” (5054). “Die lewe gaan moeilik word vir diegene wat die waarheid liefhet” (5489). “Algemene wantroue en bitterheid teen Sluysken en Gordon het onder die volk posgevat” (4505). “Hulle het ons ‘n nasie van verloorders gemaak” (5636). Die volk “is uitverkoop, beroof, hul vaderland is verraai, die Kaap is voor die vyand se voete gegooi en hy self is beveel om die burgers daaroor in onkunde te hou asof hulle landsvyande is” (4360). “Nou is daar geen skild meer teen onreg en verraad nie” (4648). “Wat maak ons met die mure van afkeer, agterdog of vrees waaragter ons nageslagte moet bly woon?” (6080).

“Anders as met die pokke van ’13 sal ons nakomelinge nooit, nooit die gevolg hiervan [“die volksramp”] ontkom nie” (5583). “Die ongeborenes sal nie weet waarvan hulle beroof is nie: ‘n Sterk, welvarende volk, onafhanklikheid, selfbeskikking, ‘n eervolle plek in die ry van state” (5630). “Hoe weerloos is die mens teen sy lot” (6351). “Afrika is só gemaak, só laat staan … uit Afrika kom steeds iets monsteragtigs” (6519). “Uit Afrika altyd iets verskriklik” (7157). “Wat lig was, is nou donker” (7105). “Wat kon hulle nie geword het nie! Wat word nou van hulle?” (7151).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.