Rand versterk ná Britse rentekoersverlaging en DA-vertoning

Deel op

Die rand het sy beste koers in nege maande teen die dollar bereik nadat die Bank van Engeland rentekoerse verlaag het en die Demokratiese Alliansie ‘n goeie vertoning in gister se plaaslike verkiesings gelewer het.

Die rand het vanoggend vroeg op R13,7035 teen die Amerikaanse dollar gestaan en R17,9938 teenoor die Britse pond. Die plaaslike geldeenheid het laas op 3 November 2015 teen dié koerse verhandel.

Die plaaslike verkiesings het gister invloed uitgeoefen, met die DA wat lyk asof dit die meeste stemme in Johannesburg, Pretoria, Port Elizabeth en Kaapstad gaan behaal. Sommige ontleders het dit as positief vir die rand gesien.

“Die verkiesingsuitslag lyk asof dit verwagtinge vir ‘n verandering in die vernaamste stede ondersteun,” het Simon Quijano-Evens, ‘n strateeg in ontluikende markte by Legal & General Investment Management in Londen, aan Bloomberg gesê. “Verandering is waarna markte uitgesien het, hoe gering dit ook al mag wees, gegewe die voortdurende inkomste-ongelykheid en daling in groeikoerse wat mens in Suid-Afrika waarneem.”

Teen die euro het die rand op R15,2560 te staan gekom, nadat dit nie te lank gelede nie selfs teen R18 per euro verhandel het.

Ook in Johannesburg is die rand deur ‘n meer rooskleurige bril bekyk. “Plaaslike verkiesings wat glad verloop ondersteun vanoggend sentiment, dit lyk asof ons demokrasie in ‘n goeie toestand is, daarom is dit goeie nuus,” het Ion de Vleeschauwer, hoofhandelaar van Bidvestbank in Johannesburg gesê. “Verhandeling in rentekoersverskille help ook, met die rentekoersverlaging van die Bank van Engeland wat ons opbrengs oor die kort termyn aanloklik laat lyk.”

Die Bank van Engeland het gister op sogenaamde “Super-Donderdag” besluit om die Britse koerse tot 0,25% vanaf 0,50% te verlaag terwyl die terugkoop van bates onveranderd op £375bn gelaat is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.