‘Hollywood-base dreig akteurs wat Trump ondersteun’

Deel op

Liberale Hollywood-base dreig na bewering akteurs wat Donald Trump ondersteun dat hulle nooit weer werk sal kry nie. Dié bewerings word gemaak deur die Amerikaanse sepiester en manlike model, Antonio Sabato jr. (foto hier bo). Volgens Sabato is hy aanlyn “geteiken” en op ‘n swartlys geplaas nadat hy ‘n toespraak ter ondersteuning van Trump by die Republikeinse Nasionale Kongres gelewer het.

In ‘n onderhoud met die vermaaklikheidstydskrif Variety, het die 44-jarige akteur – wat op die eerste dag van die Republikeinse kongres sy steun vir Trump uitgespreek het – gesê dat regisseurs sy agente gekontak het en aan hulle gesê dat hulle nooit weer met hom sal werk nie.

“Op Twitter is ek beledig en deur ander glanspersoonlikhede aangeval. Ek gee nie om nie,” het Sabato aan Variety gesê. “Ek sien dit, maar ek lees dit nie. Ek versper hulle en vee dit uit en laat dit agter. Daar is soveel negatiwiteit waardeur mens ingetrek kan word. Maar ek het ook van ander glanspersoonlikhede gehoor: ‘As hy dit kan doen, wil ek ook my mening lug.’ Hulle is keelvol vir die manier waarop dié land bestuur is en vir al die leuens.”

By die kongres het Sabato vertel hoe hy wettig na die Verenigde State geïmmigreer het, nadat hy 11 jaar lank moes wag. Die akteur, wat oorspronklik van Rome afkomstig is, sê hy “het die reëls nagekom” tydens die immigrasieproses, en het die behoefte vir ander immigrante om dieselfde te doen, beklemtoon.

“Donald Trump staan vir eenheid,” het Sabato gedurende sy kort toespraak gesê. “Donald Trump glo aan een Amerika, met vryheid en regverdigheid vir almal. Om veilige grense te hê, om ons burgers te beskerm, niks daarvan is haatdraend nie. Dis die regering se verantwoordelikheid. En dis die regte ding om te doen. Donald Trump gaan dit gedoen kry en ons weer op die regte spoor plaas.”

Hoewel miljoene mense Trump se kandidatuur vir die Amerikaanse presidentskap ondersteun, “hou die liberale Hollywood-bedryf nie daarvan nie”.

“Baie van die base, baie van die uitvoerende hoofde, hulle besit die kanale, hulle besit die media. Hulle skenk miljoene aan Hillary Clinton en president Obama,” het hy aan Variety gesê. “Ek is net ‘n gewone ou wat my mening lug. Laat dit so wees. Ek sal aanhou om te veg vir dít waarin ek glo, en ek sal aanhou om werk te soek.

“My werk en my lewe is op God gegrond,” meen Sabato. “My leier, die een waarna ek opkyk, is Jesus Christus. Ek het mense in dié bedryf ontmoet wat sê, ‘Ek praat nie met dié vent nie, want hy praat van Jesus Christus.’ Dit openbaar die ware persoonlikhede van dié mense. Wel, ek wil in elk geval nie saam met hulle werk nie. Maar as ek soos hulle sou optree, sou ek nooit vir enigiemand werk nie. Hulle is almal aan Hillary se kant.”

Die akteur het bygevoeg dat hy mense ken wat op ‘n swartlys geplaas is eenvoudig omdat hulle die Republikeinse kongres bygewoon het.

“Jy is veronderstel om in diens geneem te word vir jou talent en jou vermoëns, nie op grond van hoe jy voel oor politiek of godsdiens nie. Maar dis hoe hulle dinge doen,” het Sabato verduidelik. “En dis net nie hoe ek is nie. Ek ken baie mense wat in dieselfde bootjie is. Die werklikheid is dat indien jy met die Republikeinse Party verbind word, die rolverdelingsregisseurs en vervaardigers jou reeds op grond daarvan op die swartlys geplaas het.

Sabato het ook sy voorspelling herhaal dat Trump teenoor Clinton in November se algemene verkiesing gaan seëvier.

“Ek gaan Hollywood nooit verlaat nie. Kom wat wil, gaan ek sukses probeer behaal,” het hy aan Variety gesê. “Ek gaan bloot die waarheid praat – mense weet nie hoe dié bedryf werk nie. Ek voel sterk daaroor dat Donald Trump gaan wen. Ek dink hy gaan in November verkies word.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.