Niks nuuts: ANC, EFF en DA is SA se gewildste partye

Deel op

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het in Lethabong naby Rustenburg al vroeg die oorwinningsvieringe Woensdag afgeskop, skaars na die sluiting van die stembusse om 19:00.

‘n Konvooi van motors met die EFF-vlae versier het stadig deur die dorp gery, met partylede wat al singende hul vuiste in die lug gehou het ter viering van ‘n verwagte oorwinning.

Die EFF is vol vertroue dat hulle in Wyke 27 sowel as 28 van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit, die ANC onttroon het.

Wyk 28 is deur die voormalige ANC-jeugliga se takvoorsitter, Pako Molatlhegi beman, wat as ‘n onafhanklike kandidaat in die 2011 plaaslike regeringsverkiesing gestaan het. Hy was die EFF kandidaat vir hierdie pos.

Die ANC se beheer van Gauteng se drie metrorade is verwater. Met 42 persent van die stemme wat landwyd getel is, toon syfers dat die DA in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni voorloop. As Soweto se stemme bygetel word, kan die prentjie egter vinnig verander.

Die WNNR voorspel dat die ANC in al drie die metrorade sal wen. Die EFF is op die oomblik in die derde plek in al drie die metrorade.

Tientalle kiesbeamptes in Gauteng is ontevrede omdat amptenare by die provinsiale uitslaesentrum in Aucklandpark te lank neem om hulle te help wanneer hulle hul stempunte se uitslae wil inhandig.

Die beamptes beweer hulle het ure lank gewag om gehelp te word. Die beamptes het hul uitslae neergegooi en uitgestap.

Die Verkiesingskommissie het nog nie op die voorval gereageer nie. Dit is onbekend hoe dit die uitslae in Gauteng gaan raak.

Die ANC loop landwyd ver voor met 50%, teenoor die DA se 35% en die EFF wat 6% het. Die ANC het tot dusver meer as 2 miljoen van die stemme teenoor die DA se 1,5 miljoen.

Die DA het die Kouga-munisipaliteit in die Oos-Kaap gewen. Die party het 17 wyke ingepalm teenoor die ANC se 12.

Die EFF kon geen wyke in palm nie. Kouga smelt saam met ander munisipaliteite in die gebied om ‘n nuwe munisipaliteit te vorm.

Die ANC se steun het tot 40 persent gedaal in dié bruin gebied.

Die DA het Donderdagoggend verklaar dat hulle die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng behou.

Volgens die jongste telling, met 58% van stemlokale getel, staan die DA tans op 50,49%.

Die ANC is op 39,57%, terwyl die EFF 5.98% van die stemme gekry het. Die Vryheidsfront Plus is ver agter met 3,48%.

DA-LP Makashule Gana het op Twitter aangekondig dat die party die munisipaliteit behou het.

Midvaal is die enigste DA-munisipaliteit in Gauteng.

Geregistreerde kiesers het gisteraand nog kort voordat stempunte om 19:00 gesluit het, hul kruisies getrek.

In die Vrystaat het sowat 44% van geregistreerde kiesers hulle kruisies gaan trek, ‘n afname in vergelyking met sowat 56% in die vorige munisipale verkiesing.

Die Verkiesingskommissie se provinsiale kiesbeampte, Jabulani Tshabalala sê die finale uitslae word ongeveer vyfuur vanmiddag verwag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.