Motors: Makrogesinswaens!

Die meeste van ons het op een of ander stadium in ons lewe te doen gekry met ‘n VW Kombi of bussie. Om een of ander rede het die gewildheid van die gesinsbussie heelwat afgeneem van die vroeë jare sewentig en tagtig. Sou jy in daardie tyd meer as twee kinders gehad het, was die Kombi sonder enige twyfel jou antwoord.

Vandag sien ‘n mens baie meer dubbelkajuitbakkies en sportnutsvoertuie soos die Toyota Fortuner of Ford Kuga op ons paaie. Ons het gewonder of die tradisionele minibussie nog enigsins ‘n plek op ons paaie het en het dan ook drie splinternuwe minibussies vir ‘n paar dae bestuur.

Daar is ‘n paar vervaardigers in Suid Afrika wat minibussies vir die gesin bemark en dan is daar enkeles wat meer op die openbarevervoersegment van die mark gerig is. Ons keuse was om die gesinsbussies van nader te bekyk. Die drie kandidate is die VW Kombi, Hyundai H1 en die Mercedes V-Klas.

Alhoewel al drie bussies is, is daar ‘n reuseverskil tussen hulle. Die Hyundai, wat by verre die oudste onder hulle is, asook die goedkoopste, die VW Kombi wat baie ver verwyderd is van die ou Kombi’s van die sewentigs en tagtigs en dan die V-Klas Mercedes wat seker in minibustaal die S-Klas van alle minibussies is.

Hyundai H1
Hyundai H1

Hyundai H1 2.5 CRDi

Hyundai H1 van die kant af
Hyundai H1 van die kant af

Met die eerste oogopslag lyk die H1 baie groter as die ander twee; bestuur jy die H1, voel hy ook soos die grootste van die drie. Met ‘n lengte van 5,125m is die H1 langer as die Kombi se 4,904m maar korter as die V250 se 5,140m. Wat die hoogte aanbetref, staan die H1 1,925m op sy bande waar die Kombi hom troef met 1,97m en die V250 1,88m hoog is. Breedte is waar die binneruim saak maak en hier is die H1 1,92m breed met die Kombi 1,904m en die V250 1,928m. Wat die wielbasis betref – dit is nou die afstand tussen die voor en agterwiele – is die H1 en die V250 beide 3,2m terwyl die Kombi 200mm korter is met ‘n asafstand van 3m. So in enige mens se taal is al drie die bussies lank, hoog en breed genoeg.

Die voorste sitplekke in die H1
Die voorste sitplekke in die H1

Agter die stuur van die H1 voel jy die groot bakwerk van die voertuig; jy is bewus daarvan dat hierdie ‘n groot motor is. Die feit dat daar slegs parkeersensors agter is, met geen kamera nie, help, maar ons voel dat ‘n truratkamera eintlik standaard in al drie hierdie voertuie behoort te wees, gegewe hul grootte. Die Kombi en die V250 het wel ‘n trukamera as opsionele ekstra beskikbaar, maar die H1 is maar mik en druk en hoop jy kan die parkeersensor se biepgeluid vertrou.

Binneruim

Binneruim van die H1
Binneruim van die H1

Die H1 het groot deure wat wyd oopmaak; dit maak die spasie om in en uit te klim voor en agter baie makliker, maar die hoogte van die trap na die binneruim is effens hoër as in die ander twee voertuie. Daar is ‘n skelm trappie by die voorste deur van die H1 wat te hoog is as jy wil inklim en weer te laag is as jy wil uitklim.

Die skuifdeur van die H1 is groot en skuif lekker wyd oop, maar dit gaan maar sukkel wanneer jy ‘n pakkie of dalk ‘n baba of ‘n swaar item moet vashou én die deur moet oopskuif. Dan moet jy ook die deur heeltemal terugskuif sodat hy haak, anders kom die swaar deur self terug of is die ingang nie groot genoeg om in te klim nie. Die agterste trap na binne is ook effens te hoog, veral vir kleiner kinders.

As jy eers binne in die H1 is, begroet sagte leer oor die sitplekke jou. Die H1 het 9 sitplekke: daar is ‘n enkelbestuurdersitplek met ‘n dubbelbank voor, die middelste rugleuning vou plat sodat daar twee drankiehouers en ‘n plekkie vir ‘n bakkie met toebroodjies is. Die tweede ry sitplekke is ‘n vol bank met plek vir drie volwassenes. Die bank kan op glyspore vorentoe en agtertoe skuif. Die rugleuning vou ook plat sodat toegang tot die derde ry verkry kan word. Al die sitplekverstellings is maklik en kan met slegs een hand gedoen word. Die derde ry sitplekke is weereens groot genoeg om drie volwasse persone te kan akkommodeer. Agter die derde ry sitplekke is daar ‘n reuse 842 liter se pakplek. Die derde ry se banksitplek kan vorentoe geskuif word om die bagasieruim nog groter te maak. Die probleem is net dat dit ‘n dag se werk is om die bank en middelste ry sitplekke heeltemal uit te haal, sou jy fietse of iets groters wou vervoer. Die agterste deur is reusagtig maar maak relatief maklik oop al het jy net een hand beskikbaar wanneer jy met inkopies of ‘n kind in jou arms staan.

Die instrumente-uitleg is besonders goed en met alle noodsaaklike verstellings gerieflik op die hand van die bestuurder. Die materiaal wat op die instrumentepaneel gebruik is, is ‘n plastiek van goeie gehalte, met leer om die stuurwiel en leerinsetsels in die deure. Die binneruim voel funksioneel eerder as luuks. Standaardtoerusting sluit outomatiese lugversorger, elektriese ruite voor, elektriese wegvoubare kantspieëltjies, outomatiese verdofmiddelspieëltjie, satellietkontrole op die stuurwiel vir die radio en togbeheer, asook Bluetoothkoppeling vir jou telefoon. Die klankstelsel is goed genoeg met luidsprekers voor en agter asook outomatiese klimaatbeheer voor en agter.

Veiligheid

Wat die veiligheidsaspekte van die H1 betref, is die voertuig toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, asook vier lugsakke wat voor die bestuurder en aan die sykante van die voorste insittendes geleë is. Daar is insgelyks voorste en agterste misligte. Glybeheer is ook standaard.

Op die pad

Die H1 is maklik om te bestuur met ‘n gemaklike bestuursposisie wat maklik verstelbaar is. Die bestuurdersitplek is vir hoogte en reikafstand verstelbaar, asook die stuurwiel. Die 5-spoed- outomatiese ratkas het seepgladde skakelings en die 2,5-liter- 4-silinderdieselenjin lewer 125 Kw en 441 Nm wat meer as genoeg krag is selfs met ‘n vol vrag insittendes. Die een punt wat so effe gepla het, is die onmiddellike krag wat die enjin vertoon wanneer daar van stilstand vinnig weggetrek word. Dit is asof die glybeheer te sensitief is en die krag onmiddellik inboet. Sou jy haastig wees in die H1 moet die petrolpedaal liggies hanteer word, anders gaan die glybeheer by elke verkeerslig die enjinkrag inperk en daardie een en ‘n halwe sekonde se traagheid kan nogal baie steurend raak. Die ratkas is ook effens stadig om terug te skakel wanneer jy veral teen ‘n lang opdraande wil verbygaan. Daar is meer as genoeg krag, maar dit is asof die outomatiese ratkas glad nie wil hê die bestuurder moet met ‘n bietjie meer geesdrif bestuur nie. Wanneer die H1 eers aan die gang is, is dit moeitevry en gemaklik.

Die VW Kombi van die kant af
Die VW Kombi van die kant af

VW Kombi 2.0 TDi SWB Comfortline DSG

Die nuwe VW Kombi is wêrelde verwyder van die Kombi waarmee die meeste van ons grootgeword het. Vergeleke met die H1, is die Kombi tegnologies baie meer gevorderd. Nuwe hoofligte en ‘n sierrooster bring die Kombi nou in pas met die res van Volkswagen se modelle. Die baklyne lyk vars en modern en langs die H1 lyk die Kombi sommer 10 jaar jonger. Skerp ontwerpte lyne verbloem die eintlik vierkantige vorm van die Kombi mooi.

Binneruim

Die Kombi se binneruim
Die Kombi se binneruim

Die Kombi het groot deure wat wyd oopmaak net soos dié van die H1; die verskil is egter dat dit heelwat makliker is om in en uit die motor te klim. Die binneruim is tipies Volkswagen met skoon lyne wat modern en vars vertoon. Die sitplekke is met duursame veloerdoekstof oorgetrek en die instrumentepaneel voel minimalisties met net die nodigste kontroles.

Die Kombi se instrumentepaneel
Die Kombi se instrumentepaneel

Daar is hope bêreplekkies vir groot waterbottels tot handsakke in die deure asook die instrumentepaneel. Gryphandvatsels beide aan die bestuurderskant en aan die passasierskant, sowel as agter by die deure maak dinge heelwat makliker om in en uit te klim. Die Kombi se binneruim is ‘n tweekleurkombinasie waar die sitplekke en tapyte ‘n ligter skakering grys teenoor die donkerder instrumentepaneel en bokant van die deurpanele vertoon. Voor is daar, anders as in die H1, twee enkelsitplekke vir die bestuurder en voorste passasier. Die middelste ry sitplekke is drie aparte volgrootte sitplekke wat individueel verstel en geskuif kan word. Die derde ry sitplekke is dieselfde as in die H1: ‘n bank met plek vir drie passasiers. Die middelste ry vou maklik uit die pad sodat daar by die derde ry in- of uitgeklim kan word. Die Kombi se middelste ry sitplekke se kantruite skuif oop net soos in die H1 en agter is die kantruite soliede ruite wat nie kan oopmaak nie.

Veiligheid

Pakplek in die Kombi
Pakplek in die Kombi

Volkswagen se produkte spog almal met uitstekende standaardveiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding wat sorg dat elke wiel optimaal gerem word. Daar is ook glybeheer en ‘n elektroniese ewenaarslot, misligte voor en agter en ISOFix hegpunte vir ‘n kinderstoeltjies op al die sitplekke. Elektronies wegvoubare kant spieëltjies wat ook verhit is om opwaseming te voorkom asook dagryligte is standaard toerusting. Daar is ook ‘n stelsel wat oogbewegings dophou en jou waarsku wanneer dit tyd is op so bietjie stil te hou op die langpad. Die Kombi het die opsie om ‘n trukamera te pas wat die H1 nie het nie, so vir ‘n ekstra R3 500 kan die kamera bygevoeg word.

Op die pad

Die Kombi word aangedryf deur ‘n 2.0-literdieseleenheid met ‘n turbo-aanjaer. Die enjin ontwikkel 103 Kw en 340 NM se wringkrag. Anders as in die H1 voel die krag hier net reg. Verbysteek is byna instinktief en onmiddellik met die 7-spoed- DSG-outomatieseratkas wat seepglad deur die ratte gly. Die Kombi voel stewig en veilig op die pad en die rygerief is behalwe vir die hoë sitposisie byna identies aan dié van ‘n gesinsmotor. Die hantering is maklik en jy besef eers wanneer jy in die truspieël loer dat hierdie ‘n bus is waarmee jy ry. Rondomsig is ook uitstekend met groot glasoppervlaktes reg rondom die kajuit.

Mercedes V-klas van voor
Mercedes V-250 van voor

Mercedes Benz V250 Bluetec

Die Mercedes V-250 van agter
Die Mercedes V-250 van agter

Mercedes het byna net so lank soos Volkswagen ‘n geskiedenis van gesinsbussies. Ons het die Vito leer ken as die brood-en-botterbus van Mercedes. Wel met die nuwe V-Klas is dit dieselfde: daar is die Vito en die V-klas. Van buite is hul byna identies behalwe vir ‘n paar kosmetiese veranderinge soos die wiele en plastiekbylae aan die sykante en dan die sierroosters en natuurlik die benaming agter op die deur. Die V-Klas kry ‘n klein, amper subtiele benaming agterop waar die Vito se naam groot oor byna die hele breedte van die deur agter geskryf staan. Die nuwe V-Klas vertoon stylvol en elegant van voor en agter met goed ontwerpte lyne wat die voertuig ‘n daadwerklike teenwoordigheid op die pad gee. Van die kant gesien, kan die V250 effens lomp en lank lyk, maar plaaslik is daar net een baklengte anders as in die Volkswagen se geval waar die Kombi in ‘n kort- sowel as ‘n langasafstand beskikbaar is.

Binneruim

Instrumente van die Mercedes V-250
Instrumente van die Mercedes V-250

Wanneer jy die deure oopmaak, begroet swart leer jou. Die sitplekke is tipies Mercedes oorgetrek met sagte leer, leer in die deurpanele en sagte veloerdoekstof ontmoet die oog teen die binnevoering van die dak. Die gebruik van materiaal regdeur die kajuit is van hoogstaande gehalte en dit lyk en voel luuks. Die instrumentepaneel kon netso wel in ‘n E-klas of S-Klas gewees het want die gevoel van kwaliteit en doelgerigtheid is tasbaar te bespeur. Dieselfde Command-stelsel wat in elke ander Mercedes-model diens doen, is ook hier te kry, met die rekenaar se muisagtige handrus en ronde draaiknop wat mooi in jou hand pas wanneer jy aan die “muis” vat. Die 8-duimskerm wat in die instrumentpaneel gemonteer is, is net soos in al die nuutste Mercedes-modelle nie wegvoubaar nie. Dit is iets wat ek persoonlik nie van hou nie, dit lyk so asof hulle die skerm ná die tyd daar gemonteer het. Na my mening doen dit ‘n bietjie afbreuk aan ‘n andersins byna volmaakte instrumentpaneel. Maar dit is persoonlike smaak en ek is seker daar is baie stoere Mercedes-aanhangers wat baie daarvan hou.

Die kajuit van die Mercedes V-250
Die kajuit van die Mercedes V-250

Die V-klas kan in drie sitplekkonfigurasies bestel word. Ons toetsmotor was toegerus met die sewesitplekuitleg waar daar twee sitplekke voor is met twee in die middelry en drie in die agterste ry. Wat interessant is, is die manier hoe die sitplekke in die kajuit staan. Die middelste ry sitplekke kyk agtertoe sodat daar ‘n tipe van ‘n sitkamergevoel agter in die V250 is. Daar is ‘n baie slim wegvoubare tafel wat ‘n baie handige item is wanneer daar kinders agter in ry en met hul rekenaars wil speel of selfs net om eetgoed te kan akkommodeer. Die probleem met die uitleg is egter dat die bestuurder se rugleuning teen die rugleuning van die passasier agter hom druk, met ander woorde vir kort bestuurders is dit glad nie ‘n probleem nie, maar langer bestuurders kan nie hul sitplek heeltemal agtertoe verstel nie. Sou daar ‘n kind agter sit, is dit glad nie ‘n probleem nie want dan kan die passasier sy sitplek net effens vorentoe skuif om plek te maak vir die bestuurder, maar sou daar volwassenes agter teenoor mekaar sit, is die beenruimte van die twee passasiers te klein om die sitplek vorentoe te skuif. Die sitplekke kan ook individueel verwyder word of selfs met die “regte kant” om ingesit word, wat die kajuit meer konvensioneel maak. Die sitplek in die agterste ry kan drie volwassenes huisves, maar is ook ‘n banktipe sitplek wat vorentoe en agtertoe geskuif kan word.

Agterruit van die Mercedes V-250
Agterruit van die Mercedes V-250

Die V250 beskik oor elektriese kantruite vir die middelste sowel as die heel agterste passasiers. Daar is elektroniese klimaatbeheer voor en agter in die voertuig en in dié klas verwag ‘n mens elektriese kantskuifdeure wat baie handig te pas kom sou jy met iets in jou hande by die motor aankom. Die skuifdeure kan ook vanaf die afstandbeheerde sleutel beheer word. Laairuimte in die V250 is ook baie goed en daar is 542 liter se laairuim met al die sitplekke in posisie. Die V250 is ook toegerus met ‘n agterste ruit wat individueel van die deurkant oopmaak sodat jy net vinnig iets kleins kan inlaai sonder om die hele deur oop te maak. Nog ‘n baie handige funksie is die agterste bagasierak wat kan oopmaak om twee baie opvoubare kruideniersmandjies te huisves. Die rak is ook baie solied en daar kan werklik swaar items bo-op die rak geplaas word met kleiner items binne-in die rak en jou werklike bagasie is nog steeds uit die oog uit.

Veiligheid

Soos ons Mercedes-produkte leer ken het, skort daar geen veiligheidstoerusting nie. Die V250 is toegerus met ABS-remme met remdrukverspreiding, glybeheer en stabiliteitsbeheer, navigasiestelsel asook ISOFix-hegpunte vir kinderstoeltjies, misligte voor en agter sowel as parkeersensors voor en agter. Weereens geen trukamera nie, maar in die Avantgarde-spesifikasie is dit standaard. Daar is dagryligte asook reën- en hoofligsensors wat die reënveërs en ligte self aanskakel wanneer dit reën of te donker word. Daar is ‘n sensor wat jou waarsku om stil te hou wanneer die stelsel gewaar dat jy te lank aaneen bestuur asook ‘n baanwisselstelsel wat die lyne op die pad monitor en jou binne die bane hou, sou jy dalk oor ‘n baan begin sweef op ‘n lang pad.

Op die pad

Die V250d is toegerus met ‘n 2.0-literdieselenjin wat 140 Kw en 440Nm se wringkrag ontwikkel. Die krag word deur ‘n 7-spoedoutomatieseratkas na die agterwiele deurgegee. Daar is verskeie verstelling om die ratkas optimaal te laat reageer soos die “C”-modus wat Comfort is en alles sag en glad laat gebeur, die “E”-modus wat dinge meer ekonomies laat gebeur deur optimaal van ratte te verander, die “S”-modus wat vir Sport staan en die toere eers goed opjaag en dan vinniger die ratte verander en die “M”-modus of Manual waar die motor die ratskakelings aan die bestuurder oorlaat met die hulp van trekpedale agter die stuurkolom. Daar is ook ‘n oor-wringkragfunksie beskikbaar in die “M”-, “S”- en “C”-modusse wat ‘n ekstra 10 Kw se krag en 40NM se wringkrag vir kort rukkies kan byvoeg. Ratskakeling is seepglad in enige van die modusse en om enige voertuig teen enige spoed verby te gaan, is letterlik kinderspeletjies. Rygerief voor is uitstekend met baie min pad- en windgeraas; agterlangs is die rit effens hard veral in die derde ry sitplekke en ek dink sou daar bietjie meer gewig op die agteras wees, sou dit dalk beter wees.

Gevolgtrekking

Al drie hierdie bussies is uitsluitlik gerig op die gesinsman of -vrou, maar al drie kan ook dien as ‘n karweier van groot goedere. Dit gaan net moeite wees om die sitplekke te verwyder. ‘n Motor soos die Kia Grand Sedona waar die sitplekke met die trek van ‘n handvatsel in die vloer wegvou sou baie welkom en baie meer prakties gewees het in al drie hierdie voertuie. Die Hyundai H1 het ‘n 5-jaar- 160 000 km-waarborg gekoppel aan ‘n 5-jaar- 90 000 km-diensplan. Die VW Kombi het ‘n 3-jaar- 120 000km-waarborg en ‘n 5-jaar- 60 000km-onderhoudsplan en die Mercedes V250d kom standaard met ‘n 2-jaar- onbeperktekilometerwaarborg en ‘n 6-jaar- 100 000km-onderhoudsplan.

Kyk ‘n mens na die pryse, is al drie hierdie bussies nie meer vir die gewone gesinsman beskore nie. Die Hyundai H1 2.5 CRDi verkoop teen R614 900, die VW Kombi 2.0 TDi Comfortline DSG verkoop teen R618 700 en die Mercedes V250d Bluetec kan joune wees teen ‘n prys wat jou oë laat traan, naamlik R886 000. Al drie hierdie voertuie is baie prakties, luuks en gemaklik, maar teen sulke pryse verstaan ek waarom mense eerder na Fortuners en Kugas kyk.

Hyundai H1 2.5 CRDi Outo

Prys

2 uit 5

Voorkoms Buite

3 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

3 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

5 uit 5

Agter die stuur

4 uit 5

Enjin en ratkas

4 uit 5

Op die pad

4 uit 5

Veiligheid

4 uit 5

Totaal

29 uit 40

Volkswagen Kombi 2.0 TDi Comfortline SWB DSG

Prys

2 uit 5

Voorkoms buite

4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

5 uit 5

Agter die stuur

5 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

5 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

36 uit 40

Mercedes Benz V250d Bluetec Outo

Prys

2 uit 5

Voorkoms buite

4 uit 5

Binneruimgehalte en afwerking

5 uit 5

Ruimte en praktiese toepassing

4 uit 5

Agter die stuur

4 uit 5

Enjin en ratkas

5 uit 5

Op die pad

5 uit 5

Veiligheid

5 uit 5

Totaal

34 uit 40

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Kalium_Chloraat

    Altyd ironies hoe motorvervaardigers voertuie bou met baie meer perdekrag en meer om vinniger te ry en dan spog oor die veiligheidseienskappe van hulle voertuie. En dan die pryse dienste is peperduur. Ek geniet dit altyd om die prys van dienste te vra wanneer jy karre kyk en dan is dit ontwykende voetwerk soos ‘n duisendpoot op tik. Vir ‘n vale, terwyl hulle weet wat gemiddelde-, mediaan-, kwartiel-, standaardafwyking-,ens. pryse is.

    • Thys Du Plessis

      n Sterker enjin beteken wel dat jy vinniger kan ry, maar ook dat jy meer beweeglik is. Daar is baie gevalle waar n sterker enjin die vermoë van n voertuig om veiligheid te bevorder groter maak. Enjins en karre net soos gewere maak nie mense dood nie. Onverstandige, onverskillige en goddelose mense maak ander sonder grondige rede dood. Verantwoordelikheid is die sleutelwoord hier.

  • Rooikop

    Die grrot rede hoekom die gewildheid van hierde voertuie getaan het was veligheid, nie van die voertuig nie maar aar die voornemende taxieienaar wat sy gewldadige afrikaherverdeling van rykdom toegepas het. Diefstal is een ding maar kaping veel erger.

    • Renier Gouws

      Nie net dit nie, maar ook prys.