Trump se posisie verstewig verder

Deel op

Donald Trump se aanslag op die Amerikaanse presidentskap het verder verstewig.

Trump het beloof om die oneerlike media, veral CNN, “die Clinton News Network, aan te vat by ‘n byeenkoms in Harrisburg, Penn. Maandagaand.

“Ons het ‘n media wat so oneerlik is,” het Trump gesê. “Dit is van die mees oneerlike mense wat jy ooit, ooit sal ontmoet.”

“Ons gaan deur die media slaan,” het hy gesê. “Ons moet.” Hy het ook die New York Times uitgesonder as ‘n leuenfabriek.

Met die aanvang van die eerste volle week se veldtogbedrywighede met die oog op die presidentsverkiesing in November, het Hillary Clinton se span ‘n “Moslemslagoffer” van haar konfliksaaiery teen Trump probeer inspan.

Die Demokrate het Kahn al voorheen gebruik in 2005 om Amerikaanse invalle in die Midde-Ooste te bemark.

Clinton het die Amerikaanse politieke en maatskaplike taboe verbreek toe sy ‘n emosiebelaaide woordestryd deur Khizr en Ghazala Khan, die ouers van ‘n Moslem weermagkaptein, teen Trump gebruik het.

Khan het deur die toedoen van ‘n selfmoordbomaanvaller in 2004 in Irak gesneuwel. Sy pa het van die verhoog af op Trump gegil, die ma blykbaar onaangetas deur die mediasirkus.

Trump het gesuggereer dat Ghazala Khan nie gepraat het nie omdat sy ‘n Moslemvrou is en daarom nie ‘n spreekbeurt kry nie. Só ‘n opmerking is in die Demokrate se oë om een of ander rede ‘n doodsonde.

Dit is kennelik ‘n teer punt om na die ooglopende gebrek aan regte onder Moslemvroue te verwys.

In nog ‘n TV-verskyning op CNN, hierdie keer op “New Day,” het Kahn nou aangekondig dat hy “uit die kollig wil bly” omdat die druk oor sy teenstrydighede blykbaar vir hom te veel raak.

Die politieke storm het Hillary grootliks geïsoleer gelaat in haar Demokratiese kampie en het die potensiaal om onafhanklike kiesers wat woedend is oor haar onderduimse manipulasies teen Bernie Sanders, nog verder te vervreem.

Intussen het Jill Stein (foto bo) Hillary se sorge nog groter gemaak.

Die Groen Party presidensiële kandidaat Stein het na berig word die swart menseregte-aktivis Ajamu Baraka as haar vise-presidentkandidaat gekies.

Dr. Stein het dit amptelike Maandag op Twitter aangekondig. Stein gaan waarskynlik stemme van die Demokrate wat Hillary en haar miljardêrsklub haat, wegrokkel.

Op sy persoonlike webwerf het Baraka gesê hy het wortels in “die Swart bevrydingsbeweging, anti-apartheid- en Sentraal-Amerikaanse solidariteitstryd”.

Sy werk was hoofsaaklik in die humanitêre sektor in samewerking met Amnestie Internasionaal in die verlede.

Sowel die speaker van die huis van verteenwoordigers, Paul Ryan, as die leier van die meerderheid in die senaat, Mitch McConnell, het verklarings uitgereik waarin kapt. Humayun Khan, aan wie ‘n brons ster en ‘n “Purple Heart” toegeken is, geprys word.

Vir die tweede keer in ‘n week het Trump se visepresidentskandidaat, Indiana se goewerneur, Mike Pence, ook ‘n verklaring uitgereik wat die angel uit die Demokrate se flou poging gehaal het.

Pence, die pa van ‘n Amerikaanse seesoldaat, het gesê kapt. Khan is ‘n held en sy familie moet deur elke Amerikaner gekoester word.

Verlede week het Pence gesê Rusland sal ernstige gevolge in die gesig staar indien hulle met Amerikaanse verkiesings inmeng.

Die swart Republikein, dr Ben Carson, wat waarskynlik ‘n pos in die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Maatskaplike Dienste kan verwag onder ‘n Trump-administrasie, het Clinton direk gekoppel aan die duiwel twee weke gelede tydens sy toespraak by die Republikeinse Nasionale Konvensie.

Carson het gesê as ‘n dissipel van ver-linkse aktivis Saul Alinsky, is Hillary deel van die Lucifer-bende, die “oorspronklike radikales”.

Alinsky het sy boek “Reëls vir Radikales”, een van Clinton se bronverwysings aan Lucifer opgedra.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.