Leon Lemmer: Bittereinders, hendsoppers en hanskakies

Deel op

Min dinge is verniet, maar een van die merkwaardigste boeke wat ooit geskryf is, kan gratis bekom word: die Engelse vertaling van Christiaan Rudolf de Wet (1854-1922) se boek, Strijd tusschen Boer en Brit, naamlik Three years’ war (New York: Charles Scribner’s Sons, 1902, 416p; Amazon Kindle $0). De Wet het bitter min skoolonderrig ontvang. Ek kan kwalik glo dat die meeste van hierdie oorlogsherinneringe binne drie weke in Hollands aan boord van ‘n skip geskryf is, toe De Wet, Louis Botha en Koos de la Rey in Augustus 1902 na afloop van die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902) onderweg na Engeland en Europa was. Hulle missie was om geld vir die ABO-slagoffers in te samel (Albert Blake, 2016-boek hier onder, Kindle 2941). Daarna is die teks vertaal, geset en gedruk, op die primitiewe maniere van destyds, via kommunikasiemiddele wat net so primitief was, en in Desember van dieselfde jaar in Engels gepubliseer.

Heel vroeg in sy boek verwys De Wet na diegene wat uit die Boeremag gedros het as die “Hands-uppers” (Kindle 297), die hen(d)soppers. Hy was een van diegene wat so lank moontlik, dus tot die bitter einde, in die ABO geveg het. So iemand word ‘n bittereinder genoem. Hy het die hendsoppers geminag wat die eed van neutraliteit teenoor die Britte afgelê het en hulle daarna heeltemal aan oorlogsdeelname onttrek het. Maar De Wet se hoon of smaad of veragting was veral gemik op daardie hendsoppers wat trou aan die Britse kroon gesweer en daarna saam met die vyand teen die Boere geveg het; dus oorlopers: “we utterly despised them” – 1024). Deesdae word diesulkes verloopte Afrikaners genoem.”It was far easier to fight against the great English army than against this treachery among my own people” (1369). Die oorlopers is joiners genoem, of hanskakies omdat hulle toe Britse kakie uniforms gedra het (Blake 2419).

De Wet noem die geval van ‘n hanskakie wat “Stellenbosched” is (2627). In ‘n eindnota is daar hierdie verduideliking: “This was the word the English applied to officers, who, on account of inefficiency, or for other reasons, had to de dismissed. Stellenbosch was a place where only very unimportant work was performed” (7493). Deesdae word die geskiedenis herhaal deurdat talle Afrikaanssprekende blankes die voortou in die afskaling en selfs afskaffing van Afrikaans ten gunste van Engels neem. Die Universiteit Stellenbosch kan tans kwalik as ‘n plek beskou word wat op ‘n uitnemende manier sy geskiedenis as ‘n (of dié) bakermat van die Afrikaner en Afrikaans voortsit. De Wet was van mening dat sulke mense nie tot ander insigte gebring moet word nie: “I was of opinion that a coerced burgher would be of no real value to us, and would besides be untrustworthy” (2017). Ek het hedendaagse diesulkes in vorige rubrieke dikwels hanskakies genoem. Die Boere, daarenteen, het die moed van hulle oortuiging gehad om van die Britte te eis: “Equal rights for the English and Dutch languages in the schools” (3914).

Die roemlose, mandaatlose, politieke oorgawe aan swart mag in 1990/94 is uiteraard selfs groter verraad as wat tydens die ABO gepleeg is en herinner aan die volgende woorde van De Wet: “One could gnash one’s teeth to think that a nation should so readily rush to its own ruin!” (1641). Later verwys hy na “the burial of my Nation!” (4110). Tydens apartheid is plaaslik en internasionaal luidrugtig beswaar teen die blanke bewind gemaak. ‘n Mens sou dink dat diegene wat so hoog oor moraliteit opgee, beswaar sou maak teen die toestand waarin die nuwe Suid-Afrika verval het, insluitende die blatante rassediskriminasie teen blankes. Dít is skynbaar ‘n ydele hoop en herinner aan De Wet se volgende woorde: “We hope, and still are hoping, that the moral feeling of the civilized world would protest against the crime which England is now permitting in South Africa … we were still firmly determined that, should our hopes not be realized, we would exert our utmost strength to defend ourselves” (3257).

‘n Ander e-boek wat gratis beskikbaar is en aansluit by De Wet se boek, is John Daniel Kestell (1854-1941) se ABO-herinneringe: Through shot and flame (London: Methuen, 1903, 406p; Amazon Kindle $0.). Sedert 1990/94 kan nuwe betekenis aan die volgende woorde van Kestell geheg word: “I could not believe that it was all over with our South African Cause, but if it were so, then it would be owing to our unwillingness. God would have wished to establish for us our independence, but we should have refused to earn it” (Kindle 1028). “Our poor Africander people could never, since the days of Piet Retief, recognise or follow a hero when he arose amongst us. But Christia[a]n de Wet was a strong man, and what he willed came to pass” (1334).

Soos De Wet het Kestell dit teen die hanskakies gehad: “What made everything still more sad was the great service rendered by traitorous Africanders as guides to the enemy” (2456). Jan Smuts (1870-1950) het reeds gedurende die ABO van sy na-oorlogse hanskakie-eienskappe geopenbaar: “General Smuts … sent a telegram in which the state of affairs was represented in as dark a light as possible” (2215). In sy ABO-herinneringe is Smuts egter baie krities oor Christiaan de Wet se broer, Piet, en noem hy Piet se oorlopery na die Britte “treachery” (Blake 1984). Kestell het groot waardering vir die bittereinders gehad: “It is true that it was only a minority that were still able to continue the struggle, but the heart of the nation, as a whole, was still always faithful” (2667). Kan ons dit vandag nog veralgemenend van Afrikaners sê? Reeds in 2008 het Jaap Steyn tereg gevra: “Wat het geword van die gees van [Christiaan] de Wet?” (Blake 1740).

Albert Blake
Albert Blake

Ek wil eintlik oor Albert Blake se jongste boek skryf: Broedertwis: Bittereinder en joiner: Christiaan en Piet de Wet (Kaapstad: Tafelberg, 2016, 314p, R240; Amazon Kindle $16,01). Blake is ook die outeur van Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (Kaapstad: Tafelberg, 2010, 368p; Amazon Kindle $11,96); Boerekryger: ‘n Seun se hoogste offer (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 219p; Amazon Kindle $16,67), gebaseer op die dagboeke van Henning Viljoen; en Ontsnap: Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (Kaapstad: Tafelberg, 2015, 386p; Amazon Kindle $16,67).

Christiaan de Wet was ‘n bittereinder in die ABO en het sy gesindheid (bv “patriotisme en nasionalisme” – Kindle 45) in die 1914-rebellie voortgesit. Sy jonger broer, Pieter Daniël (Piet, 1861-1929), daarenteen, was ‘n hanskakie, dus iemand wat weens “volks- of landsverraad … universeel verafsku” behoort te word (7). “Volgens hierdie uitgangspunt moet hy [Piet] in dieselfde liga as liberale Afrikaners soos Bram Fischer en Beyers Naudé geplaas word” (14). (Oor Fischer en Naudé kyk Praag 22 Julie.) In die voorwoord verwys Blake na die verpligting wat op die historikus rus om ewewigtig en so objektief moontlik met die verlede om te gaan. Piet het sy hanskakie-aktivisme egter dermate oordryf dat dit in die teks baie duidelik is dat die outeur se simpatie by Christiaan lê. Blake verwerp ondubbelsinnig die ANC-regering se gewoonte om “‘n politieke agenda in te sleep by sy vertolking van die geskiedenis” (89).

In sy nawoord kry Blake egter ‘n hou in teen “sekere regse Afrikanerkringe” wat Piet verguis: “Dalk is die verskynsel die laaste stuiptrekkings vanuit ‘n minderheidsgroep wat grootliks betekenisloos geword het” (3737). “Afrikaners van vandag kan nie by ‘n Christiaan de Wet se Afrikanernasionalisme van 1900 aansluit nie” (3760). Christiaan word “die verpersoonliking van Afrikanerheldedom” genoem, maar sy “onverbiddelike onbuigsaamheid en onaanpasbaarheid by veranderde omstandighede, sowel as sy onvermoë om te vergewe,” word deur Blake veroordeel. Dit klink asof hierdie outeur in FW de Klerk se toegeemodus is. Soos bv Afrika-swartes het Afrikaners voor en na die ABO en veral sedert 1994 myns insiens steeds die onvervreembare reg op nasionalisme.

Met sy kritiek op Christiaan bevind Blake hom op dun ys. Hy het immers self geskryf: “Christiaan se waardes en oortuigings oor nasionalisme, patriotisme en godsdiens was reeds teen die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog só gevestig dat dit vir hom letterlik ononderhandelbaar was … Hy was ook ‘n verbete stryder vir sy moedertaal. Reeds voor die oorlog was hy as volksraadslid in die 1890’s betrokke by pogings om sy moedertaal te handhaaf. Ná die oorlog sou hy by die taalstryd betrokke bly” (1740). “Die moedertaalvraagstuk [het] op ‘n diep geestelike en ononderhandelbare vlak gelê. [Alfred] Milner [1854-1925] se doelbewuste verengelsingsbeleid was eenvoudig onaanvaarbaar” (3138). Christiaan “het sy lewe lank konsekwent in sy oortuigings gebly” (1756). Hy was “‘n onkreukbare nasionalis, ‘n verbete optimis, beginselvas en onverleibaar” (1782). FW de Klerk sou hom nie ‘n rat voor die oë kon draai nie.

Die historikus AJ van Rensburg het oor die Afrikaner geskryf: “Ek het die oorlog verloor, maar my siel gered” (3781). Jaap Steyn het geskryf dat die ABO “gehelp het om aan die Afrikaner selfrespek, ‘n selfbeeld en toekomsverwagtinge te gee” (3789). Hoeveel van daardie selfrespek het in die nuwe Suid-Afrika behoue gebly? Hoe lyk die selfbeeld en toekomsverwagtinge van Afrikaners deesdae? Die hedendaagse hanskakies probeer baie hard om hulle selfbeeld en toekomsverwagtinge in bv Afrikanisme of ‘n holle, identiteitslose internasionalisme te verwesenlik. Daarteenoor onderskryf ek hierdie woorde van NP van Wyk Louw (1906-1970): Die Afrikaner “nie skaam hoef te wees om Afrikaner te heet nie” (3789). Christiaan het in 1902 gesê (en Afrikaners kan dit myns insiens steeds sê): “Wanneer ons ons oë vestig op die verlede, dan het ons meer grond vir geloof as wat ek ooit verwag het, dan het ons grond om in vertroue voort te gaan” (1748).

Voorspelbaar was dit die bobaas dwarsneuker Max du Preez wat in 2005 met die bewering gekom het “dat Piet se optrede geregverdig was toe hy die stryd versaak en later by die Britse magte aangesluit het … Du Preez meen Piet de Wet moet eerder in dieselfde liga as liberale Afrikaners soos Bram Fischer en Beyers Naudé beskou word en behoort daarom in die geskiedenis ‘gerehabiliteer’ te word … historici was dit eens dat Du Preez se gevolgtrekkings onhistories is en nie aan die standaarde van wetenskaplike geskiedskrywing voldoen nie … Wat in die verlede verraad was, kan nie vanuit die hede skielik ongedaan gemaak word nie – dit bly verraad” (3745). Dus, dit is om ‘t ewe of daardie verraad in 1899-1902 of in 1990-1994 gepleeg is. Verraad bly onverdun verraad.

Kom ons gaan ‘n bietjie na presies wat hedendaagse hanskakies, soos Max du Preez, probeer goedpraat. “Al twee broers sou binne ‘n verstommende drie maande ná die aanvang van die oorlog deur [Vrystaatse] pres MT (Marthinus) Steyn as generaal aangestel word” (325). “Die De Wet-broers se fenomenale vordering tot generaalskap is waarskynlik ook daaraan te danke dat pres Steyn hulle voor die oorlog as volksraadslede goed leer ken en vertroue in hulle gehad het” (691). Maar Christiaan is op 18 April 1900 as die opperbevelvoerder van die Vrystaatse magte aangewys (1102). “Vanaf hierdie punt sou Piet de Wet in sy broer se skadu leef. Hy moes Christiaan se bevele uitvoer” (776; ook 1626), gevolglik “het Piet … tekens van jaloesie teenoor sy ouer broer begin toon” (325). Piet het “‘n grief teen sy broer met hom saamgedra … Dit is opvallend dat Christiaan Piet en sy burgers hoofsaaklik in ondersteuningsrolle aanwend en hulle nie soseer gebruik in direkte aanvalle waarby hy self betrokke is nie” (776).

Piet “was ‘n sterk voorstander van stellinggevegte, maar ook dat wanneer die vyand teruggedryf word, die sukses onmiddellik opgevolg moet word deur ‘n aggressiewe agtervolgingstaktiek om die finale nekslag toe te dien” (784). In die tweede deel van die ABO, toe van konvensionele na guerrilla-oorlogvoering oorgeskakel is, het Christiaan waarlik tot sy reg as krygsman gekom, maar Piet kon hom dit nie nadoen nie. “Hoewel Piet aanvanklik ‘n verdienstelike bydrae tot die republikeinse oorlogspoging gelewer het, was hy nie ‘n strateeg van formaat nie en kan hy ook nie as ‘n uitstaande taktikus beskou word nie” (832). Piet “het self erken hy sou homself nie as een van die dapperste soldate beskryf nie” (1675, 2011). Christiaan, daarenteen, het “in die oorlogsituasie gefloreer” (1608).

Later in die ABO wou die Transvaalse Boere, bv Paul Kruger en Louis Botha, die stryd gewonne gee, terwyl die Vrystaters, bv MT Steyn en Christiaan de Wet, wou voortveg (857). Piet was met president Paul Kruger bevriend (850). Dit het ‘n rol gespeel “in Piet se onwilligheid om met die stryd te volhard” (429). Daar was by Piet ook “materiële oorwegings en sy klaarblyklike kommer oor sy finansiële toestand” (866). Voor die ABO het Piet perde en vee aan die Transvaalse owerheid gelewer, maar gesukkel om ten volle daarvoor vergoed te word (866). “Volgens familie-oorlewering het Piet se diep gegriefdheid oor die behandeling wat hy van die republikeinse owerhede ontvang het, daartoe bygedra dat hy die republikeinse stryd uiteindelik die rug toegekeer het” (890).

Nadat Kroonstad “op 12 Mei 1900 deur die Britte ingeneem is, het dit vir hom [Piet] die einde van enige sinvolle gewapende verset beteken” (808; ook 899). Hy het “in die geheim met die Britte oor ‘n moontlike oorgawe begin knoei” (832). Later noem Blake dit “Piet se gekonkel met die Britte” (965). Lord Frederick Roberts (1832-1914), die Britse opperbevelhebber, weier “om Piet se aanbod te aanvaar en dring … aan op sy onvoorwaardelike oorgawe. Piet se voorwaarde dat hy nie as krygsgevangene weggestuur word nie en na sy plaas kan terugkeer, was vir Roberts onaanvaarbaar” (948). Piet het “nog langer as twee maande bly voortveg, al was dit meestal halfhartig” (971). “Toe Piet boonop ‘n ongemagtigde wapenstilstand van ses dae met die Britte sluit sonder om sy broer daarin te ken, was dit die laaste strooi … Toe die nuus oor Piet se ongemagtigde skietstaking Christiaan se ore bereik, is dinge op die spits gedryf. Hy was woedend” (1042). Christiaan sou “sy broer inderdaad trompop loop en ‘n verduideliking van sy optrede eis” (1012). “Christiaan het sy broer, wat fisiek groter as hy was, voor almal ‘n genadelose mondelinge skrobbering gegee. Dit moes vir Piet diep vernederend gewees het” (1052).

Op 26 Junie 1900 is ‘n krygsraadvergadering gehou (1060). Piet “het ‘n striemende aanval op [pres MT] Steyn gedoen en hom daarvan beskuldig dat hy Christiaan twee maande tevore, in April 1900, sonder ‘n behoorlike verkiesing as opperbevelvoerder van die Vrystaatse magte aangewys het” (1069). Generaal Jan Olivier het “ook sy ontevredenheid met die leierskapkwessie by Steyn aangeroer. Christiaan wou eens en vir altyd ‘n einde maak aan die onenigheid oor wie die opperbevelhebber van die Vrystaatse magte was deur ‘n verkiesing te hou” (1094). “Van die 32 offisiere het 26 vir Christiaan gestem, drie vir Olivier, twee vir [Marthinus] Prinsloo en slegs een vir Piet de Wet. Waarskynlik het Piet die enigste stem wat hy kon trek, vir homself uitgebring” (1134).

Piet het hom op 26 Julie 1900 aan die Britte oorgegee (1218). Hy het parool gekry (1261) en dadelik met die Britte begin sosialiseer (1252). Later is besluit om hom nie na ‘n krygsgevangekamp te stuur nie (1363). ‘n Boerekryger, GJ Joubert, se kommentaar hierop was: “Party groot manne word al groter en ander word al kleiner tot hul verdwyn” (1227). Christiaan “having heard of his [Piet’s] wish to surrender, sent a message to him that as soon as ever he laid eyes om him he would blow out his brains” (1252). Hierna was die De Wet-broers in ‘n stryd soortgelyk aan dié van die Bybelse Kaïn en Abel gewikkel (647). “Christiaan het die dreigement dat hy sy broer soos ‘n hond sal doodskiet indien hy hom in die hande kry, later openlik herhaal” (1486).

“Piet het sy samewerking onmiddellik aan die Britte gegee om ‘n einde aan die oorlog te probeer bring. Hy was in ‘n besonder gunstige posisie om hulle van wesenlike militêre inligting oor die omstandighede by die vegtende Boere te voorsien” (1309). “Op militêre gebied sou afvallige Afrikaners se steun vir die Britse oorlogspoging die grootste skade aanrig” (2328). “Christiaan de Wet het geglo die verraaierkwessie is die eintlike rede waarom die Boere die oorlog verloor het” (2588). “Teen die einde van die oorlog was … 5 464 voormalige burgers in Britse diens” (2604). Daarteenoor was daar 17 000 tot 20 000 bittereinders (2604).

Piet het selfs “die Britse magte se wreedaardige optrede ten opsigte van die verskroeideaardebeleid probeer verdedig” (1684). “In die latere fase van die oorlog sou Piet toenemend die aanspraak herhaal dat die Britse oogmerke edel is en dat die bittereinders die skuld vir die verwoesting en lyding van die oorlog moet kry” (2096). Christiaan het die teenoorgestelde standpunt gehuldig: “In ‘n toespraak in die konsentrasiekamp by Kroonstad ‘n week ná die vredesluiting [1902] het hy die hendsoppers [eintlik spesifiek die joiners/hanskakies] as die moordenaars van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe uitgekryt” (2892).

In ‘n brief, wat in die wêreldpers gepubliseer is, het Piet sy broer probeer oorreed om oor te gee (1244, 2003). Christiaan het as krygsman egter toenemend wêreldroem verwerf (1353, 1600). FW Reitz (1844-1934), MT Steyn se voorganger as Vrystaatse president, wat in selfopgelegde ballingskap in die VSA was, het van Piet gesê: “He disgraced a name that his brother sought to make synonymous with loyalty and bravery” (1494). “Die Britse opperbevel was besonder naïef om te glo dat ‘n brief van dié aard [Piet s’n] die onwrikbare Christiaan tot ander insigte sou bring. Om enige neerslagtigheid onder sy burgers teen te werk het Christiaan verduidelik die oorgawe was eintlik ten goede: ‘Dit is die wil van God wat deur hierdie oorlog ‘n sifting onder ons bring. Die lafhartiges en ontroues moet afgeskei word; hulle is geen groot verlies nie. Van die ander is ons seker.’ Die bittereinders het deurentyd geargumenteer dat die ontroues eintlik ‘n hindernis was en dat dit ‘n goeie ding was om van hulle ontslae te raak” (1344). Veral sedert 1994 vind ‘n soortgelyke sifting weer in Afrikanergeledere plaas.

“Christiaan de Wet se absolute renons in enige vorm van afvalligheid tydens die oorlog was nie tot sy broer beperk nie, maar het vir alle troueloses gegeld. Volgens een van sy biograwe [MCE van Schoor] sou Christiaan gesê het hy hou vyf patrone vir vyf verraaiers* in sy Mauser. Sy diepe minagting vir verraaiers blyk deurgaans in Die stryd tussen Boer en Brit” (1504). Van ‘n oorloper, Hans Smit, skryf Christiaan: “Sy naam sal gebrandmerk bly deur elke eerlike man” (1504). Op 28 Julie 1900, dus twee dae nadat Piet oorgegee het, het Christiaan gesê: “Elke man wat na ons toe kom, moet by ons bly tot die einde. Trou moet hy wees, trou en rein van gewete … Wie voortaan nie trou bly nie, moet doodgeskiet word” (1512). “Volgens MCE van Schoor … kon sy gevoel [Christiaan s’n] jeens verraaiers as niks anders dan as haat nie beskryf word … Hy het self as hoof van ‘n krygshof by minstens twee geleenthede die doodstraf oor verraaiers uitgespreek” (1522). “Christiaan sou sy broer selfs ná die oorlog steeds ‘n ‘swart verraaier’ noem” (1563, 2932).

[* Piet was een van hierdie vyf verraaiers, maar wraak het Christiaan nie toegekom nie. In 1990/94 was daar ook vyf hoofverraaiers, wat ek die Klein Vyf genoem het. Vir hulle kom die wraak van Afrikaners ook nie toe nie, maar hulle verdien ongetwyfeld ons onverdunde minagting. “Gedurende die [AB-]oorlogsjare (ook vooraf en daarna) was daar onder sekere Afrikaners ‘n soort [kulturele] minderwaardigheidsgevoel teenoor Engelssprekendes … Gevolglik is ‘n soort kruiperigheid te bespeur onder die lede van die vredesbeweging in hul onderhandelinge met die Britse hooggeplaastes” (2549). Dieselfde kruiperigheid ten gunste van Engels word tans by verloopte Afrikaners in die taalstryd gevind. Soortgelyke kruiperigheid was by blankes te bespeur tydens die 1990/94- onderhandelinge met terreurgroepe. Tydens laasgenoemde gespreksrondtes het daardie verraaiers heeltemal verkeerdelik aan selfwysgemaakte morele minderwaardigheid gely.]

“Teen Desember 1900 het hy [Piet] geglo ‘n georganiseerde vredesbeweging kan van stapel gestuur word met genoegsame ondersteuning van vooraanstaande Afrikaners in die Vrystaat” (1370). Verskeie Burgervredesbewegings is gestig (1475). Piet het Christiaan se vrou, Cornelia, besoek “om haar te oortuig om haar man te beïnvloed om die stryd te staak” (1377). Sy was egter, soos Christiaan, “onverbiddelik in haar oortuiging dat daar met die stryd volhard moet word” (1377). “Cornelia is herhaaldelik deur Britse offisiere genader met ruim geldelike aanbiedinge indien sy haar man kon oortuig om die wapen neer te lê. Haar reaksie het elke keer met soveel veragting gepaardgegaan dat sy haar die gramskap van die Britse owerhede op die hals gehaal het” (1889).

Piet het weer met perde en vee begin spekuleer (1475) en sy “enigste ware klant was die Britse besettingsmag in Kroonstad” (1443). Hy het ook “melk aan die militêre hospitaal in Kroonstad voorsien” (1443). “Piet word as die kontrakteur aangestel om gras al langs die spoorlyn en blokhuislyn in die Kroonstad-omgewing te sny en die hooi aan die superintendent van die konsentrasiekamp in die dorp te lewer … Die hooi is hoofsaaklik as voer vir die konsentrasiekamp se trekdiere gebruik. Hierdie diere is onder meer gebruik om vroue en kinders na die konsentrasiekamp te vervoer” (1468). Piet sou “ook in ‘n gevegsrol vir die Britte optree en soldy en ander voordele ontvang” (1475).

In ‘n onderhoud met ‘n Britse koerant het Piet selfs beweer “die Boere het imperialistiese motiewe met hul invalle in Natal en die Kaapkolonie gehad: ‘We … made war, intending to take the two British colonies'” (2088). Die Britse soldate, daarenteen, het volgens Piet van die begin van die oorlog af onberispelik opgetree (2556): “The soldiers had not done the slightest damage, had stolen nothing, and had treated all the people with kindness and respect” (2572). Piet het ongetwyfeld aangedik. “Sy aansprake gaan lynreg in teen die magdom opgetekende ervarings van Boerevroue oor Britse onmenslikheid” (2572).

Piet se “hartvogtigheid teenoor die bittereinders en hul gesinne [het] ná die oorlog voortgeduur” (3052). Hy het die Britse bewind versoek om teen die bittereinders op te tree (3113). “Daar is nie ‘n aanduiding dat Piet ná die oorlog ‘n voorstryder vir die Afrikaanse taal en kultuur was nie” (3253). Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek en die Suid-Afrikaanse regering hom by Brittanje skaar, was daar groot ontevredenheid by die nie-jingoïstiese Boere. “Louis Botha en Jan Smuts is reeds weens hul pro-Britse houding deur baie Afrikaners gewantrou” (3353), maar Piet het hulle gesteun (3377). Christiaan was een van diegene wat in die Rebellie in opstand teen die Britsgesinde regering gekom het. Hy het dit as ‘n geleentheid beskou om die onafhanklikheid van die Boere-republieke te herower (3353, 3377). Christiaan is aan hoogverraad skuldig bevind (3461) maar na ‘n jaar op parool vrygelaat (3477). Oor die Rebellie het NP van Wyk Louw geskryf: “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan” (3493). Daar word gesê elke 30 jaar is daar ‘n nuwe geslag. Is die huidige geslag Afrikaners nie besig om sonder daadwerklike protes verby te gaan nie?

“Na die Rebellie van 1914 … sou Piet ook ‘n leidende rol speel in die veldtog om die Afrikanerrebelle onder kerklike sensuur te plaas” (263; ook 3504). JD Kestell was nie hiertoe bereid nie (3543). Piet het hieroor ‘n griefskrif opgestel (3549). “‘n Mens kan … nie wegkom van ‘n element van nydigheid in sy [Piet se] optrede nie” (3512). ‘n Resultaat was “die doelbewuste uitskakeling van enige regeringsgesindes in kerkraadsverkiesings” (3573). Piet het “sy laaste jare as ‘n uitgeworpene binnegegaan” (3643). Van sy kant af het hy probeer om met Christiaan te versoen, maar Christiaan was nooit daarvoor te vinde nie. Christiaan se oorskot is by die Vrouemonument ter ruste gelê (3672). Die destydse regering was eintlik anti-Boer gesind. Die volgende klink deesdae bekend: Abe Bailey (1864-1940) het “in die Unieparlement gevra dat Afrikanergedenktekens soos die Nasionale Vrouemonument afgebreek word omdat dit versoening kwansuis in die wiele sou ry” (3724).

Die hanskakies het “ewigdurende politieke selfmoord gepleeg. Geen joinerleier kon ooit ná die oorlog ‘n leiersposisie in Afrikanerpolitiek beklee nie” (2811). Selfs in die finale vredesonderhandelings het hulle geen rol gespeel nie (3161). “Die joiners was in ‘n politieke doodloopstraat … die joinerleiers se aansien [het] binne ‘n paar jaar selfs by die Britse owerhede [ge]kwyn” (3277). Aan die hendsoppers en veral die joiners is na die ABO baie beter skadevergoeding as aan die bittereinders en krygsgevangenes uitbetaal (2990, 3013, 3029, 3089). Hierdie onreg het “‘n belangrike stimulus vir Afrikanernasionalisme gebied” (3170). Selfs die nie-joiners onder die hendsoppers het na die ABO stukrag aan die bittereinders en krygsgevangenes se Afrikanernasionalisme gegee (3177), want hulle is, anders as die joiners, mettertyd meer geredelik vergewe (3180). “Verraad sou nie eenklaps ná die oorlog verdwyn nie. Dit het in werklikheid permanente letsels gelaat” (3301). Piet is deur die Britse owerheid materieel bevoordeel (3044). Daar is ‘n beroep op almal gedoen “om mekaar te vergewe en hande te vat” (2827) ten einde die samelewing te “normaliseer” (2967). Woorde soos “vergewe”, “hande vat” en “normaliseer” word dikwels in die nuwe Suid-Afrika gehoor.

Pleks van Piet de Wet te verontskuldig, soos Max du Preez verlang, sou dit veel meer gepas wees om te beweer dat Piet en Max voëls van eenderse vere is. As Du Preez minder skryf en meer lees en besin, sou hy Blake se boek van voor tot agter bestudeer en dan in ‘n rubriek sy onregverdigbare verering van Piet terugtrek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.