Dan Roodt: Ons mis jou al klaar, geliefde ‘Riempies’…

Met hierdie rubriek wil ek graag hulde bring aan een van PRAAG se getrouste ondersteuners wat op 25 Julie 2016 skielik aan ‘n hartaanval oorlede is. Ek het dit per sms van een van haar dogters verneem: “Goeiemôre, dit is Leonie se dogter. Sy het so baie van jou gepraat en daarom het ek dit goedgedink om te laat weet dat sy die 25ste Julie oorlede is aan ‘n hartaanval. Ons harte is baie seer.”

Vir ons almal by PRAAG was dit ‘n groot skok om te verneem. Ek weet nie presies hoe oud Leonie was nie, maar ek skat iewers in die laat vyftiger- of sestigerjare, dus word sy voortydig van ons weggeneem. “Riempies” soos sy op PRAAG se kommentaarafdeling bekendheid verwerf het, het jare lank feitlik elke dag op nuusberigte en rubrieke kommentaar gelewer.

Trouens, sy was verreweg die topkommentator op PRAAG wat vanaf 2010 toe ons na die Disqus-kommentaarstelsel oorgeskakel het, nie minder nie as 15 441 keer hier op berigte of rubrieke gereageer het (sien skermskoot hier bo)! Dié webblad het ‘n ewe groot rol in haar lewe gespeel as ons wat dit elke dag met inhoud moet bywerk.

Eendag het Leonie my per e-pos gekontak en gevra ek moet haar help om haar skuilnaam op Disqus te verander. Ook die skildery met blomme wat sy as profielfoto gebruik het, moes deur iets anders vervang word. ‘n Dag of twee later kry ek weer ‘n e-pos waarin sy sê dat sy nou ‘n “identiteitskrisis” beleef en dat sy weer die naam “Riempies” en die profiel met die blomme terug wil hê. Ek het haar toe vertel hoe om dit weer terug te verander.

Dikwels het sy ook per e-pos vir my voorstelle gestuur oor onderwerpe vir rubrieke of artikels, dinge wat sy meen verklaar of belig behoort te word. Gewoonlik was dit goeie voorstelle, en het ek die pen opgeneem en daaroor geskryf.

Ons het mekaar nooit in lewende lywe ontmoet nie, net per e-pos gekorrespondeer. Sy het vroeg opgestaan, want dikwels kon sy al vyfuur soggens kommentaar lewer of een of ander vraag of wenk per e-pos aanstuur. Ek weet ook dat sy baie trots op haar kinders en kleinkinders was, en af en toe oor hul prestasies laat weet het.

Riempies het elke boek gekoop wat PRAAG ooit uitgegee het, en soms uit eie vrye wil haar maandelikse debietorder verhoog sodat ons nog harder teen die huidige orde met sy heersende ideologie kon baklei. Sy was onbeskaamd pro-Afrikaans, patrioties en het tot haar dood vir FW de Klerk kwalik geneem dat hy in 1994 aan die ANC en SAKP oorgegee het.

Riempies was die teenoorgestelde van ‘n linkse maatskaplikegeregtigheidskryger (“social justice warrior”, oftwel SJW), ‘n konserwatiewe voorvegter wat daagliks op die internet vir volk en vaderland, maar ook vir Afrikaans, in die bres getree het. Eenkeer (op 5 Maart vanjaar) het sy vir my Eitemal se bewoording van “Die lied van jong Suid-Afrika” aangestuur en gemeen sy wil dit op Disqus plaas. In haar e-pos skryf sy:

Vanoggend het ek met hierdie lied van Eitemal in my kop wakker geword – met ‘n diepe weemoed dat ons nie tred gehou het met die moontlikheid van verraad deur ons leiers nie.

Sy haal die lied aan, tesame met die skakel na ‘n YouTube-video met die volgende kommentaar aan die einde:

Die lied word hier gesing deur ons Afrikanerweermagkoor wat in ‘n donker hotelkamertjie weggegee is aan Umkhontu we Sizwe wat nou sing Kill the farmer kill the boer.

Ek dink dit sal ‘n gepaste huldeblyk aan Riempies wees om weereens Eitemal se lied hier onder te plaas, tesame met die YouTube-video wat vir haar soveel beteken het.

Haar laaste bydrae op Disqus was op 23 Julie, dus twee dae voor haar dood, by ‘n berig oor die Universiteit van die Vrystaat wat teen die Hooggeregshof se uitspraak ten gunste van Afrikaans gaan appelleer.

Ons mis jou al klaar, Riempies! Dankie vir jou deelname en mag dit ander inspireer om ewe harstogtelik vir ons vryheid te pleit, soos jy dit so onverbeterlik gedoen het.

Die lied van jong Suid-Afrika

Woorde: EITEMAL; gewysig: P. MCLACHLAN

Musiek: HUGO GUTSCHE; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.

Die klop van die Voortrekkerwawiel
het die eeue se rus verstoor;
die klank van die voorlaaierskote
het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
die bome het bewend gefluister:
Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika.

Waar songloed in glorie die berge
oor hul fronsende voorhoof streel,
waar ruisende wind oor die vlaktes
met grassaad kerjakker en speel,
die land wat ons vaders gekoop het,
met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika.

Die golwende veld is ons woning
en ons dak is die hemelblou;
die Vryheid alleen is ons koning,
sy wagwoord is: “Handhaaf en bou”.
Die stryd wat ons vaders begin het
sal woed tot ons sterf of oorwin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • G

    Sterkte aan haar familie. Ons almal is stukkend.

    • Johan

      Sy en haar man het laasjaar van Stilbaai terug getrek Potch toe weens die ernstige siekte van haar man.
      Sterkte aan die familie.

      • Jas Stegmann

        Hartseer nuus. Sterkte aan haar mense!

  • Riaan

    Dit is so hartseer. Ek is nie ‘n gereelde plaser van kommentaar hier op PRAAG nie, maar beslis ‘n gereelde leser. Rus in vrede Riempies

  • Cousin Vinnie

    Rus in vrede liewe Riempies, ek sal jou ook mis!!

  • 11petrus2

    My innigge meegevoel. Sterkte aan haar familie. Strydster Riempies RIP!

  • Rutger

    Ons innige meegevoel aan haar gesin. Ons gaan haar baie mis.

  • jan

    Ag dit is vreeeslik hartseer. Ons sal jou mis Riempies.
    Leedwese en troos word u naastes toegebid.
    Sy kon die knelpunte die kernkwessies debatsbehoeftes sooo goed raaksien!!

  • Guest

    A terrible loss. May God grant her loved ones His grace and strength. Riempies was the consumate Afrikaner, a source of great admiration.

  • JESSEJAMES

    Ai, wat ‘n verlies vir ons. Ek gaan jou baie mis Riempies!

  • Johann Schutte

    Slegte nuus. Sterkte aan haar familie. Ons moet mekaar beter behandel en meer waardeer.

  • Johanw

    Hartseer nuus. Sal Riempies baie mis.

  • Karel Combrinck

    Dis regtig hartseer nuus. As ek reg onthou was dit Riempies wat my aangemoedig het om my eerste rubriek vir Praag te skryf. en dus natuurlik ook al die rubrieke wat daarop gevolg het. My innige meegevoel met haar naasbestaandes.

  • Albert Brenner

    Baie hartseer nuus 🙁 Sy was regtig n top mens! Fantatiese sin vir humor gehad…. was altyd op die nuuste stand van sake… en n regte dame. Haar familie en vriende kan regtig trots op haar wees. Sy was n regte Afrikaner.

    RIP Riempies.

  • Betzie van Rensburg

    Waar die dood mens tot stilte snoei
    is daar n geel skoenlapper by die laventelbos
    sommerso in die middel van die winter
    wat my laat onthou hoe n vrou vertel van haar trane

  • Karel Combrinck

    Soos dit vir my lyk was Riempies se laaste kommentaar op ‘n artikel van my. Dis voorwaar ‘n eer.

  • Domkhonto

    Adieu Riempies

  • Arnieann

    Nie net het Riempies kommentaar op Praag gelewer nie, maar ook persoonlik met haar mede Volksgenote kontak gehad.
    Net voor haar dood het sy my hierdie boodskap gestuur:

    ” Goeiemiddag Arnie,
    Ek het nou op hierdie oomblik gewonder hoekom is jy so stil.
    Laat weet my asseblief of is jy baie besig maar dan moet jy nog van jou laat weet asseblief.”

    Wat ek toe wel gedoen het.
    Dankie vir alles Riempies.

  • Riaan Slabbert

    Nooit gedink ek sal so hartseer wees oor die heengaan van n persoon wat ek nog nooit ontmoet of gesien het nie. Rus sag geliefde

  • ThysH

    Ons het dikwels van mekaar verskil – veral oor godsdiens- maar altyd op ‘n ordentlike wyse met respek vir mekaar se stanpunte. Het net gister gewonder hoekom sy so stil is. Sterkte aan haar familie en vriende.

  • RedDieHaas

    Baie jammer om van Riempies te hoor; het altyd haar kommentaar hier waardeer. Sal haar familie in my gedagtes hou.

  • Johan Steyn

    Riempies, jou stryd is gestry. Jy het die vuil en die smet van die aardse bestaan vir die ewige lewe verruil. Nou rus jy in vrede.

  • Gustav

    Ag nee! Sy was een van die mense vir wie ek laatnagte aan “Bodem” gewerk het. Ek wou elke dag die episode voltooi en inhandig, want ek het geweet sy en die ander wag daarvoor. Sy het hartstogtelik vir die lewe van my karakter, Daan-Dirk Möller, gepleit. Praag gee Bodem hierdie jaar opnuut uit en ek gaan dit aan haar opdra.

  • Kalium_Chloraat

    My simpatie aan haar geliefdes. Ek sal haar mis.

  • BOERIE

    My innige meegevoel en simpatie aan haar naasbestaandes.

  • besoeker

    Riempies se stilte sal nog lank in ons ore wees. Haar lied is gesing tot die laaste vers en haar lied was vir haar volk.

    • Johan

      Wat ‘n pragtige huldeblyk!
      ……neem my na my Vaderland … is haar nou beskore maar nie hier nie.
      Baie dankie vir die skakel.

  • Hans Onrust

    Ook ik heb haar niet in persoon ontmoet maar wel veel van haar kunnen leren en ervaar het als een verlies en gemis.

    Dank u PRAAG dat u hierover bericht en aan dit plotselinge heengaan op deze waardige wijze aandacht besteedt.

    Sterkte aan de familie en vrienden en bekenden van ‘Riempies’.

  • emiel

    Dankie vir jou toewyding in ons stryd vir vryheid Riempies. Sterkte aan die familie en naastes.

  • Rudi

    Nooit geweet dat riempies ‘n vrou was. Haar veg vir geregtigheid aan lyn was iets besonder. Sy was die begin van die afrikaner volk wat begin ontwaak

  • boerseun

    Riempies, jy was ‘n Praag-strydros. Dankie vir jou voorvegter-bydrae tot ons volk se ontwaking. Sal die naam “Riempies” voorwaar hier mis!

  • Antonie Geyser

    Riempies was vir my soos iemand om na op te sien, iemand wat goeie insigewende bydraes op Praag gelewer het. Ewige Rus in Vrede

  • Ou Transvaal

    .n Ware Debora wat gestry het vir haar Volk….STAAN OP, DAAR GAAN ‘N VOLKSMOEDER VERBY!!

  • Ciska

    Dis baie hartseer, en mens gaan haar skrywes mis. Nou dag ek by myself, ek is ook baie soos sy – met wie gaan ek nou op die net stry? Seënwense en sterkte aan die familie.

  • Mag ek haar in opregte millitêre tradisie groet.
    Ek salueer jou Riempies.

  • coendemilander

    Ons innige simpatie met haar naasbestaandes en veral ook met haar kleinkinders wat vir haar kosbaar was.

  • Dankie Dr Dan en Praag vir hierdie besonderse huldeblyk.
    Ek het deur al die kommentare gegaan en tot die slotsom gekom van;
    empatie
    waardering
    liefde
    eensgesindheid
    en respek vir ‘n mede Afrikaner wat” huistoe” gegaan het.
    HIERDIE WAS ‘N PRAAG FAMILIELID WAT HEENGEGAAN HET.
    Ons eer haar nagedagtenis.
    Ek mis vanaand vir Dolk en Trippies.

    • Goeienaand aan u – ek het dit eers vandag gehoor. Ek deel u huldeblyk en sentiment. God se rykste seën aan u almal.

      • Ek groet jou hier vanuit die kaap.
        Ja mens mis die praag vriende..
        Vrede vir jou.

  • My opregte huldeblyk aan haar en-ook, my innige meegevoel aan haar naasbestaandes. Ek glo dat sy in vrede is. Vir die wie in Jesus Christus glo, het die dood geen angel nie.