Kaapse rampbestuur op hoë gereedheidsgrondslag

Deel op

Rampbestuurspanne in Kaapstad is op hoë gereedheidsgrondslag te midde van gure weer wat van vandag af verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dit is die eerste van ‘n reeks kouefronte wat die week oor die Skiereiland sal beweeg.

Swaar reën, sterk wind en snerpende koue is Kapenaars se voorland. Tot dusver is geen berigte van oorstromings in Kaapstad ontvang nie.

Die Kaapse metropool sê die watervlakke van belangrike damme in die Wes-Kaap het sedert verlede week met vyf persent gestyg.

Volgens die stad se departement van water en sanitasie is die damme is tans sowat 48% vol.

Die Weerdiens waarsku dat die gure weerstoestande wat met reën gepaard gaan nog tot Donderdag toe oor die binneland sal voortduur.

Die kwik sal in Pretoria en Johannesburg tot net bo tien grade styg, terwyl reën en koue weerstoestande ook oor KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap verwag word.

Verskeie weerwaarskuwings, wat die moontlikheid van hael oor Pretoria insluit, is reeds uitgereik. Die reën behoort teen Vrydag op te klaar, maar dit sal steeds baie koud bly.

Intussen is verskeie paaie in die Oos-Kaap weens die sneeu gesluit. Die R58 tussen Elliot en Barkley-Oos asook die R61 tussen Graaff-Reinet en Cradock bly gesluit.

In ander dele van die provinsie is die paaie glyerig en rotsstortings kom ook voor. Die Oos-Kaapse verkeersdienste het motoriste gemaan om versigtig te bestuur.

Groot dele van Durban en die omliggende gebiede is na swaar reën oorstroom, en reddingspanne moes bontstaan.

Verskeie motors is in stormwater vasgekeer. Drie mense moes uit twee voertuie in die stad gered word nadat hulle deur vloedwater vasgekeer is.

‘n Woordvoerder van ER24, Russel Meiring sê twee vroue moes in Amanzintoti gered word nadat water deur ‘n gebou gestroom het.

Twee motors is van ‘n brug by Reddy’s Corner in Chatsworth deur stormwater afgespoel en die vroue-bestuurder van een van die voertuie word vermis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.