Solidariteit gebruik anti-Steve, anti-Afrikaanse advokaat in ‘SAUK-4’-saak

Deel op

Solidariteit en Afriforum, wat tans die hofsaak namens die sogenaamde “SAUK-4” hanteer, maak gebruik van die advokaat Steven Budlender, wat voorheen deel van die veldtog was om Steve Hofmeyr te keer om “Die Stem” te sing en sy hele loopbaan te ruïneer. Budlender het pro bono teen Steve Hofmeyr opgetree namens Conrad Koch, die hatige buikspreker wat gedurig op Afrikaners vloek en skel (sien foto van Budlender hier bo).

Budlender is die seun van Geoff Budlender, SC, wat in die verlede terroriste van die ANC en SAKP verdedig het en ‘n uitgesproke linkse revolusionêr was.

‘n Woordvoerder van ‘n Afrikaanse organisasie wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan PRAAG gesê: “Dis ‘n uiters vreemde keuse van advokaat in dié saak rondom die SAUK. Terwyl Solidariteit en Afriforum voorgee om ‘vir Afrikaans’ te veg, voer hulle vir seker nie hul sake in die hof in Afrikaans aan nie, aangesien Steven Budlender nie Afrikaans magtig is nie. Boonop staan hy en Conrad Koch uiters vyandig teenoor Afrikaans en ‘n sanger soos Steve Hofmeyr.”

Budlender jr is lid van die “Victoria Mxenge-groep van advokate”, wat vernoem is na ‘n marxistiese Xhosa-regsgeleerde wat voorheen ook deel van die terreuraanslag op Suid-Afrika was. Haar man Grifiths Mxenge, wat ‘n ANC-lid was en ook ‘n tydperk gevangenisstraf op Robbeneiland uitgedien het, is vermoedelik deur die Vlakplaas-eenheid gedood, waarvoor Dirk Coetzee, Almond Nofemela en David Tshikalanga kwytskelding van die Waarheids- en versoeningskommissie ontvang het.

Solidariteit werk ook nou saam met die FW de Klerk-stigting, wat mag verklaar waarom die vakbond deesdae linkse, anti-Afrikaanse advokate verkies om namens hom en sy lede te litigeer.

Uitspraak in die saak is voorbehou en word blykbaar môre tienuur in die Arbeidshof in Kaapstad gelewer. Die vier afgedankte SAUK-joernaliste wat poog om deur die hof heraangestel te raak, is: Jacques Steenkamp, Foeta Krige, Suna Venter en Krivani Pillay. Foeta Krige was tot onlangse uitvoerende regisseur van RSG-Monitor terwyl Jacques Steenkamp en Suna Venter as joernaliste by RSG werksaam was.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.