Irannese skieter in München dood 9 en homself

Deel op

‘n Agtienjarige Moslemman het selfmoord gepleeg nadat hy 9 ander mense om die lewe gebring het in ‘n moordtog in München, die hoofstad van die Duitse deelstaat Beiere. Die Duitse minister van binnelandse sake, Thomas de Maizière sal om 11-uur vanoggend met die veiligheidsdienste in Berlyn vergader.

Die amptelike dodetal staan tans op 10, waarby die Moslemmoordenaar ingesluit is. Sestien mense is beseer, waarvan drie in ‘n ernstige toestand verkeer. Die polisie het bevestig dat verskeie kinders onder die oorledenes getel kan word.

Die hele München was gister in ‘n toestand van paniek toe die man van Irannese afkoms wat volgens verskeie berigte “Alluha akbar” (Allah is groot) geskree het, op onskuldige mense by ‘n McDonalds naby die Olympia-winkelsentrum begin vuur het. Daarna het hy na die winkelsentrum self beweeg waar nog mense gedood en beseer is.

Blykbaar het die moordenaar kinders na die McDonalds gelok deur te adverteer dat daar gratis kos beskikbaar gaan wees.

‘n “Akute terroristesituasie” is deur die provinsiale hoofstad afgekondig en alle openbare vervoer is etlike ure lank opgeskort. Reisigers wat nie huis toe kon gaan nie is deur inwoners van die stad onderdak gebied met ‘n “oopdeur”-veldtog wat op Twitter onder die hutsteken #OffeneTür georganiseer is.

Die polisie het die anti-terrorisme-eenheid GSG 9, asook die federale en spesiale magte van verskeie ander deelstate ingeroep.

Volgens die Münchense polisiehoof Hubertus Andrae, was die tienderjarige massamoordenaar “nie voorheen aan die polisie bekend nie”.

'n Volkswagen Passat-stasiewa uit 2006 waarop die polisie beslag gelê het, en wat vermoedelik deur die skieter gebruik is.
‘n Volkswagen Passat-stasiewa uit 2006 waarop die polisie beslag gelê het, en wat vermoedelik deur die skieter gebruik is.

Swaar gewapende beamptes het ‘n klopjag in die buurt van Maxvorstadt waar die woonstel van die moordenaar geleë is, uitgevoer. Die polise het ook op ‘n 2006 Volkswagen Passat-stasiewa beslag gelê (sien foto hiernaas), wat in die omgewing van die Olympia-winkelsentrum gevind is.

Tydens die klopjag gisteraand het die polisie van nagsigbrille en honde gebruik gemaak. Die hele straat is afgekordon, met noodvoertuie wat gereed gestaan het.

Duitse polisie naby die Olympia-winkelsentrum
Duitse polisie naby die Olympia-winkelsentrum

Volgens die Duitse media is ‘n robot ook deur plofstofdeskundiges aangewend om die skieter se liggaam te deursoek, aangesien daar gevrees is dat hy ook ‘n bom in ‘n rooi rugsak gedra het. Geen inligting is intussen bekendgemaak oor die inhoud van die rugsak nie.

Die Duitse owerheid was tot dusver versigtig om enige gevolgtrekkings oor die motief van die aanval te maak of selfs om dit ‘n “terreuraanval” te noem.

Die kanselaryminister Peter Altmaier het egter aan ARD gesê dat “‘n terreurdaad nie uitgesluit kan word nie”.

‘n Verder “verdagte geval” is by Münchenlughawe aangemeld, maar die polisie wag nog vir besonderhede.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.