Leon Lemmer: Bram Fischer, dié verloopte Afrikaner

Deel op

Daar is talle hedendaagse Afrikaanssprekende blankes wat skynbaar meeding om as dié verloopte Afrikaner, dus as bv die hoof-ANC-kruiper, erken te word. Van hulle name word later in hierdie teks genoem. Na die Anglo-Boere-oorlog het veral Louis Botha en Jan Smuts uitgemunt as jingo’s, dus as Engelsgesinde blankes, hoewel albei van huis uit Afrikaanssprekend was. Albei kwalifiseer dus as verloopte Afrikaners. Sedert die roemlose, mandaatlose, verraderlike politieke magsoorgawe aan swartes in 1990/1994* is daar veral twee mense wat meeding om as dié verloopte Afrikaner beskou te word, naamlik Bram Fischer (1908-1975) en Beyers Naudé (1915-2004). Albei stam uit voortreflike Afrikanerfamilies. Naudé het terroriste en aspirantterroriste bv gehuisves, vervoer en van geld voorsien, maar hy was opmerklik onwillig om mede-verantwoordelikheid vir hulle bose dade te aanvaar. Wat Naudé se aanspraak op die titel van dié verloopte Afrikaner benadeel, is dat Fischer, anders as Naudé, ‘n kommunis en tot sy dood ongekwalifiseerd selfs ‘n Stalinis was. Daarmee het Fischer hom in die ideologiese kern van die ANC gevestig, wat vir Naudé nie beskore was nie ten spyte van al die loftuitinge wat vir hom uit die ANC-kraal opgeklink het. [* Die volgende woorde van Malcolm X (1926-1965) kan op FW de Klerk van toepassing gemaak word: “He got the peace prize; we got the problem. If I’m following a general, and the enemy gives him rewards, I tend to get suspicious” (Frank S Pepper, Contemporary biographical quotations, London: Sphere Books, 1986, p 184).]

In die nuwe Suid-Afrika is daar mos ‘n onfeilbare manier om ‘n argument te beklink, naamlik om jou op Nelson Mandela te beroep. In sy outobiografie verwys Mandela net ‘n enkel keer na Naudé deur bloot sy naam as lid van ‘n afvaardiging te noem (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 693). Na Fischer is daar baie verwysings en ook lof, bv: “Although he could have been prime minister of South Africa, he became one of the bravest and staunchest friends of the freedom struggle that I have ever known” (104). In werklikheid was Fischer nooit naasteby ‘n politikus nie. In etlike toesprake het Mandela vir Fischer “lof toegeswaai” (Haasbroek, bron hier onder, p 325). Mandela het met ‘n absoluut akkurate beskrywing van ‘n verloopte Afrikaner vorendag gekom: “Bram was a … man who fought against his own people” (Mandela, 562). Op Mandela-dag (18 Julie) vanjaar het ek my goeie daad ter nagedagtenis aan Mandela gedoen deur baie meer as 67 minute te gebruik om hierdie rubriek te skryf.

Hannes Haasbroek het ‘n verdienstelike boek oor Fischer gepubliseer, ‘n Seun soos Bram (Kaapstad: Umuzi, 2011, 368p). Die titel sinspeel op Fischer se ma, Ella (1884-1964), wat “haar seun altyd ondersteun en liefgehad” het (p 10). Dit is soortgelyk aan Josef Stalin (1878-1953) se ma, Keke, wat van haar seun gesê het: “I am happy that he has achieved his goal and become a benefactor and patron of all oppressed people” (Keke Jughashvili, My dear son: The memoirs of Stalin’s mother (Amazon Kindle Singles, 2012, 31p, $2,27, 490), al word hy vir na beraming tussen 30 en 40 miljoen mense se dood verantwoordelik gehou (Simon Sebag Montefiori, Stalin: The court of the red tsar (London: Phoenix, 2012, 720p, p vii).

Voordat ek by Haasbroek se beskrywing van die Fischers kom, moet ek hierdie juweel uitlig: Herbert Morrison, Britse minister van buitelandse sake in die Arbeidersregering, het in 1951 “die onafhanklikheidswording van kolonies in Afrika vergelyk met ‘n tienjarige kind aan wie ‘n voordeursleutel, haelgeweer en ‘n bankrekening gegee word” (201).

Ella was “in hart en siel ‘n ‘vurige Afrikaner'” (51). Na die Anglo-Boere-oorlog het sy “haar mes vir die veroweraars en hul meelopers … in gehad” (69). Al het Bram en sy vrou se kommunistiese bedrywighede teen die grein van Ella se politieke en godsdienstige oortuigings ingedruis, het moederliefde voortgesette harmonie in hulle verhouding moontlik gemaak. Sy het bv “haar waardering uitgespreek dat Bram en Molly soveel vir die onderdruktes doen, veral die insameling van kos” (186). En teen die einde van haar lewe: “Die matriarg sou haar steeds daarvan weerhou om in te meng en te poog om haar seun en skoondogter van hulle politieke oortuigings te laat afsien” (234).

Bram se oupa, Abraham, was eerste minister van die Oranjerivierkolonie. Hy het die hoop uitgespreek dat “die kleinding ook eendag, net soos sy oupa, sy deeltjie sou bydra om die land uit te bou” (82). Toe Bram “so vier of vyf jaar oud is, was hy ook verontwaardig dat die Boere hom nie tydens die oorlog geroep het om te kom help toe hulle in nood was nie” (84). Tibbie, die vrou van oud-president MT Steyn, het die hoop uitgespreek dat Bram “eenmaal ‘n sieraad vir jou land en volk sal wees bemind en geëerd deur almal” (107). By sy mondigwording het Tibbie geskryf “dat Bram bestem is om ‘n eerbare rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te speel” (125, 276). “Gedurende sy skooljare en vir ‘n wyle daarna was Bram taamlik nasionalisties gesind” (108). “Bram se optrede in hierdie jare het gewys dat imperialisme hom geensins aanstaan nie” (109). “Bram was voorwaar in die boesem van die Afrikaner-establishment en allerweë is ‘n rooskleurige toekoms vir hom in dié kringe voorspel” (119).

Na sy skoolloopbaan het die Engelse atmosfeer aan die Universiteit Kaapstad Bram glad nie aangestaan nie (120). In 1932 het hy ‘n student aan die Universiteit Oxford se New College geword (131), waar hy met die marxisme (134) en sosialisme (135) kennis gemaak het. Hy het ook drie weke lank deur Rusland getoer (135). Hierna was “hy nie eens meer lus … om ‘n voet in die land [Suid-Afrika] te sit nie. Hy het belangstelling in die ideologie van nasionalisme verloor, veral as hy kyk na die verwronge invloed wat dit in Duitsland en Pole het” (137). In 1933 het hy na Hilter se nasionaal-sosialisme as “kankeragtige en haatlike nasionalisme” verwys. Hy skryf “dat die wêreld net gered kan word as nasionalisme, ook die gees waarin dit in Suid-Afrika beleef word, onderdruk word” (139). Suid-Afrika sou “sy opkomende nasionalisme in toom moes hou” (140).

Haasbroek sê van Bram: “Agter sy vriendelike en besadigde voorkoms het ‘n taaiheid en geslepe vernuf geskuil waarmee hy die strewe na ‘n revolusionêre transformasie van Suid-Afrika volgens kommunisties georiënteerde voorskrifte sou dien” (143). Teen 1938 het Bram homself as ‘n kommunis beskou en daarna, waarskynlik in 1942, ‘n lid van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) geword (172). Hy sou hom “meermale … blind hou vir die euwels wat dié stelsel wêreldwyd sou oplewer” (173). “Onder sy kalm, selfs ongeëergde uiterlike het ‘n ysterwil gelê. Bram het ‘n onwrikbare geloof in kommunisme en die Sowjetunie gehad en verbete daaraan vasgeklou. Niks het hom daarvan weggedryf nie; nie eens die bekendmaking van die erg onderdrukkende fasette van die Stalin-regime het hom laat wankel nie” (205).

Bram is in 1937 met Molly Krige getroud (156). Molly was ingelyks “‘n ywerige aktivis en kommunis” en daarby “heelwat meer aggressief as Bram” (174). Bram was van mening: “Elke Afrikaanse organisasie met ‘n Afrikanermentaliteit verteenwoordig ‘n gevaar” (176). “Dít wat in wese die Afrikaner in daardie jare ‘gevorm’ het,” is deur Bram oorboord gegooi: “sy nasionalisme, sy godsdiens en sy taal” (206). Hy loof “Indië vir sy aanvalle teen Suid-Afrika in die Verenigde Volke-Organisasie” en veroordeel “die Weste se giftige propaganda-oorlog teen Rusland as vredeliewende land” en hy verheug “hom in die uitbreiding van kommunisme in China” (180).

Bram en Molly wou hulle oorverligtheid konkreet bewys en het ‘n swart kind, Nora Mlambo, aangeneem. Dit het “vanselfsprekend sy ouers se wenkbroue laat lig, maar selfs dít het geen werklike duik in hul liefdevolle verhouding gemaak nie” (196). Hierdie ubuntu-sage het ‘n loop geneem wat volgens sommige dalk taamlik voorspelbaar was: “Nora het op skool swanger geraak. Molly sou betaal dat sy haar skoling deur korrespondensie voltooi. Met ‘n babaseun en met ‘n man is Nora weer merendeels in haar eie kultuur opgeneem sodat sy en die Fischers vervreem geraak het” (197).

“In 1953 is die nuwe, hoogs doeltreffende, ondergrondse [dus onwettige] party gestig met die naam Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) in teenstelling met die ou wettige KPSA” (212). Stalin se dood in daardie jaar was vir Bram “‘n geweldige emosionele terugslag” (212). Bram het mettertyd die hoof van die SAKP, “‘n ondergrondse, revolusionêre, kommunistiese beweging” geword en “‘n leidende samesweerder in ‘n komplot om die regering omver te werp. In hierdie tyd [die jare sestig] was die kommuniste inderdaad ver gevorder in hulle voorbereiding vir ‘n gewapende stryd” (236). Bram sou “meehelp om ‘n nuwe opperbevel vir Umkhonto tot stand te bring” (243) met die “vredesikoon” Nelson Mandela as die eerste hoof van hierdie geweldsvleuel van die ANC. As regsgeleerde het Bram ANC-terroriste, soos Nelson Mandela, in die hof verdedig, bv in die Rivonia-verhoor. Mandela het beweer dat hulle “hoofsaaklik deur Bram van die doodstraf gered is” (318). Teen die einde van Bram se lewe het André P Brink (1935-2015) ‘n brief aan hom geskryf. “As die Afrikanerdom oorleef, het die bekende skrywer gesê, sou dit as gevolg van die liberale en ruimdenkende invloed van iemand soos Bram Fischer wees.” Brink het Suid-Afrika “‘n ónredelike en ónmenslike land” genoem (308).

Haasbroek skryf met verwysing na Stephen Clingman se Fischer-biografie: Bram “is die simbool van kommunisme in Suid-Afrika en word beskou as die grootste kampvegter vir hierdie ideologie wat die land nog opgelewer het” (315). Vervolgens gaan ek Bram as ‘n maatstaf gebruik om te bepaal wie hedendaagse verloopte Afrikaners is. André P Brink het in die vorige paragraaf duidelik laat blyk dat hy sodanige betiteling verdien. Dit was die Universiteit Stellenbosch (US), met Chris Brink as rektor, se besluit in 2004 om postuum ‘n eredoktorsgraad aan Fischer toe te ken wat egte en verloopte Afrikaners duidelik onderskei het. In die motivering vir die toekenning van die eregraad staan daar dat “Fischer baie van die ideale vergestalt waartoe die universiteit verbind is” (317). Dat die nuwe US revolusionêr van die US van weleer verskil, behoef dan geen betoog nie. Die huidige voortgesette snelle verswarting en verengelsing van die US dien as bevestiging hiervan. Die doel en gekoesterde ideaal is dat die US en die dorp Stellenbosch net so vervalle soos die res van Suid-Afrika daar moet uitsien. Dit mag nie beter wees nie.

Diegene ten gunste van die Fischer-eregraad, dus verloopte Afrikaners, is “pro-Bram-stoetbulle” genoem (319), bv Max du Preez, Sampie Terreblanche, Lizette Rabe, Ruda Landman en Koos Bekker. Die “anti-Brammers”, dus egte Afrikaners, sluit in Tertius Delport, Ebbe Dommisse, Jan Sadie, Kobus Meiring, Christo Viljoen, Hermann Giliomee, Lina Spies, Dan Roodt en Ampie Coetzee (320).

Tim du Plessis het geskryf dat die polemiek die beeld van die US dermate “verflenter” het “dat ‘n mens wonder of die kool die sous werd was … Baie wittes sal … glo die Maties wil Fischer vereer om te kruip by die ANC en om politiek korrek te wees” (323). Hy sleep dan die naam van Beyers Naudé naas dié van Bram Fischer by die gesprek in.

Die eregraad is in Desember 2004 toegeken. “Volgens die commendatio is Bram vereer vir die groot vormende invloed wat hy, selfs na sy dood, op Suid-Afrika gehad het vanweë die besondere aard van sy onverbiddelike strewe na geregtigheid en politieke gelykberegtiging vir almal in ‘n tyd toe die meeste van sy ‘eie mense’ blind daarvoor was” (324).

Koos Bekker was uitsonderlik spraaksaam ter regverdiging van Fischer se eregraad. Hy het ‘n heildronk op Fischer se nagedagtenis ingestel. Dit gaan glo om die “herrangskikking van helde en demone” (324). Die Fischer-eregraad was nie ‘n geïsoleerde vergryp nie. Die nuwe US het reeds talle van hierdie akademies waardelose sertifikate aan ANC-“vryheidstryders”/terroriste, bv Nelson Mandela en Thabo Mbeki, uitgedeel. Ek moet sê: Die meetsnoere het in bedenklike plekke geval as mense soos Fischer en Mandela as helde beskou word. Daarenteen het Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat (UV) beweer dat Fischer “waarskynlik die grootste seun” van die UV is (327).

Ten slotte verwys ek na Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, 261p) waarin daar ook oor die Fischer-eregraadsage berig word. Die toekenning word gesien in die lig van die US se huidige “politieke gedienstigheid” (p 102). Die Burger het agter Koos Bekker aan gekruip en die toekenning van die eregraad verdedig en Fischer om duistere redes “geloof vir wat hy gedoen het om ‘n nuwe begin ter wille van die Afrikaanse taal moontlik te maak” (103). Die name van twee “pro-Bram-stoetbulle” word by die bogenoemde lys gevoeg: Fanie Cloete en Amanda Gouws. “Twee professore wat nie regsteeks op die toekenning kommentaar gelewer het nie, maar eerder Chris Brink as die groot vernuwer van Stellenbosch beskryf het, was Lizette Rabe en Willie Esterhuyse” (103). Daarmee het ons as’t ware ‘n Wie-is-Wie-lys van verloopte Afrikaners van ‘n dosyn jare gelede. Sedertdien is hierdie lys fluks aangevul; dikwels met die name van opportuniste.

Chris Brink het “die debat beskryf as deel van die geboortepyne van die nuwe Stellenbosch” (104). Deesdae is dit vir enige objektiewe waarnemer duidelik aan watter misbaksel geboorte gegee is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.