Russiese atlete uit Rio

Deel op

Rusland se baan- en veldatlete sal nie aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro kan deelneem nie.

Die paalspringwêreldkampioen, Jelena Isinbajewa (foto hierbo), het die besluit ‘n “begrafnis vir atletiek” genoem en gesê die besluit is ‘n politieke een.

Die atlete het hul appèlsaak deur die Hof vir Arbitrasie in Sport in Switserland verloor nadat die hof die aansoek van die hand gewys het.

Die appèlsaak is gebring deur 68 Russiese atlete wat deur die internasionale atletiekfederasie, die IAAF verbied is om aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Die Russiese atletiekfederasie is deur die IAAF geskors nadat ‘n onafhanklike verslag bewyse van die wydverspreide gebruik van verbode middels gevind het.

Russiese amptenare is daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by pogings om die gebruik van verbode middels te verbloem.

Die Russe het reeds die gedagte verwerp om ‘n oproep aan ander lande te doen om die Olimpiese Spele in Rio te boikot uit solidariteit met hulle penarie.

Vreemd genoeg weet die Russe egter nog steeds nie wat hulle sal moet doen om hertoelating tot die Olimpiese Spele te verkry nie.

Dit wil voorkom asof die verbod eenvoudig op ‘n oop en algemene, langdurige uitsluiting van Rusland neerkom, ongeag van hul optrede nou of in die toekoms.

Na verwagting sal die verbod binnekort op die hele Russiese Olimpiese span van toepassing wees.

Daar is intussen ook ‘n veldtog van stapel gestuur om Rusland uit die sokkerliggaam FIFA te probeer boender.

Rusland het voorheen sy eie alternatief vir die Olimpiese Spele in die vorm van die Spartakiad gehou, want tot en met die Helsinki Spele in 1952, het die Russe in elk geval nie deelgeneem aan die Olimpiese Spele nie.

Dit het hulle nie verhoed om te presteer en miljoene te lok na die Spartakiad nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.