Karel Combrinck: Gruwelikhede vir Allah

Die afgryslike gebeure in Nice waar ‘n Moslembesetene met ‘n 20-ton-vragmotor tien kilometer ver deur ‘n skare gejaag het terwyl hulle na ‘n vuurwerkvertoning kyk, sal enige regskape mens sprakeloos laat. Dit lyk asof daar steeds meer vrae as antwoorde is. Ons het natuurlik in Suid-Afrika ook hierdie soort barbarisme deurgemaak en in sekere sin is ons nog steeds daaraan onderworpe. Want die plaasaanvalle is inderdaad terrorisme. Die selfone en draagbare radio’s wat in die proses gesteel word, is bloot bonusse op die koop toe. Die hoofdoel is om leed aan te doen. Die afgelope jare het ons veel meer mense verloor in plaasaanvalle as wat Frankryk in terroriste-aanslae verloor het sonder dat ‘n haan daarna kraai. Maar kom ons kyk na Moslemterrorisme aangesien dit vir die oomblik in die nuus is.

Sedert 11 September met die aanslae in New York, om by daardie datum maar te begin, is daar min lande wat Moslemterrorisme vrygespring het. Dit sluit ook Moslemlande self in, want daar word meer gruweldade deur radikale in Moslemlande gepleeg as op enige ander plek.

Die onderwerp van Moslemfanatisme is ‘n omvangryke en komplekse aangeleentheid wat met moeite in so ‘n kort artikel hanteer kan word. Dis egter ‘n lewensbelangrike onderwerp wat vir die ganse mensdom daagliks van groter belang word en daarom probeer ons maar.

Die eerste probleem waarvoor ‘n Westerse waarnemer te staan kom, is dat die wêreldbeskouing van die Moslem nie noodwendig vatbaar is vir tradisionele Westerse rasionaliteit en logika nie. Ons verstaan nie die eienaardige manier waarop hulle godsdiens, ideologie, die reg en politiek vermeng nie, ons verstaan nie die breinlose geweld wat die meer radikale onder hulle op religieuse gronde regverdig nie, dikwels selfs teen ander Moslems en ons verstaan nie waarom vroue in ‘n minderwarige posisie vasgeknel word nie, meesal sonder die minimum van menseregte.

Vir lesers wat mag belangstel, plaas ons ‘n nota oor die samestelling van die Moslemwêreld aan die einde. (Nota 1)

Vir ons as Westerlinge is dit vreemd om ‘n godsdiens tee te kom wat so te sê volledig op haat en wraaksugtigheid gebaseer is – haat vir die Westerse kultuur, haat vir mekaar, haat vir «ongelowiges», (kaffir of kouffar), ongelowiges synde almal wat nie die Moslemgeloof aanhang nie. Ons as Westerlinge se blaadjie is natuurlik ook nie van die skoonste nie, maar sedert ‘n tweehonderd jaar of wat maak ons darem nie meer mekaar dood direk in die naam van Christus nie.

Ons doen dit wel in die naam van imperialisme of demokrasie of politieke ideologie wat in sekere sin ook religiëe is.

Dit bring ons dan by godsdiens en geweld. Waarom lyk die Moslemgeloof by die dag meer na ‘n geweldsgodsiens?

Soos in Nota 2 aangedui word, is die die Ou Testament as’t ware in die Moslemgeloof geïnkorporeer. Nou is dit so dat die Ou Testament van hoek tot kant besaai is met gruwelikhede van allerlei aard met geweld op bykans elke bladsy (stenigings, tentpen deur die kop, ens.) om van hoerery, veediefstal, verkragtings, bloedskande en vele ander onhebbelikhede nie te praat nie. Iemand wat sy handelinge rig op die Ou Testament as ‘n soort morele kode, moet noodwendig waansinnig wees of word. In die ou Testament gee «God» byvoorbeeld opdrag om die vyande van die volk van Israel «met die banvloek te tref». Dit beteken man en vrou en kind en dier moes vermoor en vernietig word. In 1 Samuel 18:27 verskyn die sjarmante brokkie dat Dawid opdrag gegee het aan sy manskappe om 200 Filistyne se voorhuide vir hom te bring wat hy aan Saul kon aanbied as betaling vir die vrou Migal. In sy boek «The God Delusion», beskryf Richard Dawkins die God van die Ou Testament as «a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser» . Hoef ‘n mens veel verder te soek vir ‘n ideologiese en religieuse grondslag vir die manier waarop Moslemekstremiste «ongelowiges» met ‘n vorm van banvloek tref ? Daar is in die Koran 109 Soerate (verse) wat opdrag gee tot geweldpleging teen «ongelowiges». Aan die ander kant het dit weinig sin om die Koran te fynkam vir aanduidings van aanmoediging tot geweld, terwyl die Ou Testament daarvan vol lê.

‘n Paar verdere opmerkings:

Die terroriste-aanslag in Nice het plaasgevind terwyl ‘n noodtoestand in Frankryk van krag is wat net weer die nutteloosheid van «noodtoestande» beklemtoon.

Weereens het die geheime dienste en veiligheidsdienste gefaal daarin om die aanslag te voorsien en af te weer.

Die aanslag was die werk van die soort persoon wat in Frankryk bekend staan as “‘n Fransman van Tunisiese afkoms”. Daar is letterlik miljoene sulke “Franse” van Arabiese of ander Moslemafkoms in Frankryk, waarvan enigeen ‘n potensiële terroris is.

Die Franse is baie lief daarvoor om met trots te verkondig dat die Moslemgeloof die “tweede grootste godsdiens in Frankryk” is. Die belangrike verskil is dat terwyl die Moslems meesal toegewyd en nougeset is, daar van die “grootste” godsdiens in Frankryk, naamlik die Christelike geloof, weinig sprake meer is.

Frankryk het geen landsgrense wat hulle kan bewaak en kontroleer nie en potensiële terroriste kan min of meer na willekeur saam met die vloedgolf Moslem-“vlugtelinge” die land binnestroom. Inderdaad bestaan daar geen grense tussen Europese lande hoegenaamd meer nie en die buitegrense word ten swakste beheer. Kyk bv die artikel Meer as tweemiljoen stroom Duitsland binne (Praag 15 Julie).

So te sê elke terroris wat ‘n aanval in Europa uitvoer, is aan die geheime dienste en veiligheidsmagte bekend, maar weens politieke sensitiwiteite word net niks daaraan gedoen nie. Selfs in ‘n noodtoestand! So die een wat ‘n bom in ‘n nagklub van Parys gestel het, was wel deeglik aan die polisie bekend en so ook sy bewegings. Hy het herhaaldelik oor en weer die grens oorgesteek sonder enige kontrole. Met sy laaste binnekoms voor die aanval het hy met sy wapens en al in ‘n trein vanaf België deur Frankryk gereis.

België, waarskynlik weens sy geografiese ligging, maar ook te wyte aan die matelose laksheid en lamsakkigheid van sy politici is tans die senusentrum van terrorisme in Europa Dit is nou bekend dat duisende Moslemfanatici uit België vertrek om vir die Islamitiese Staat in Sirië te gaan veg., d.w.s. potensiële terroriste wat in die hart van Europa woon. Dat mev Merkel bv nog meer Moslems Europa wil binnebring, laat ‘n mens noodwendig saamstem met mnr Trump dat sy stapelgek moet wees. Inderdaad is daar opsigte waarin die Westerse politieke klas net so min vatbaar is vir rasionaliteit soos die Moslems.

En natuurlik het hierdie aanslag, soos genoem, plaasgevind terwyl ‘n noodtoestand van krag is, asof die afkondiging van ‘n noodtoestand, sonder die politieke wil om tande daaraan te gee, op sigself genoeg is om terrorisme af te weer.

Die oorsprong van die stryd tussen Islam en die Christendom word uiteraard teruggevoer na die profeet Mohammed en die leerstellings soos vervat in die Koran. Uit die staanspoor was die Moslemgeloof onder leiding van Mohammed aggressief en militant en teen 620 het hulle reeds die hele Arabiese skiereiland militêr onderwerp. Mohammed het in 632 gesterf, maar sy uitbreidingstrategie is deur sy opvolgers voortgesit totdat die Moslemgeloof teen die einde van die 7e eeu gestrek het van die Atlantiese Oseaan tot in Indië, ‘n gebied van 15-miljoen vierkante kilometer! Met die uitsondering van Spanje, wat ná agthonderd jaar daarin geslaag het om die Moslemjuk af te werp, het hierdie besette lande almal Moslem gebly.

Die grootste twisappel vir baie eeue tussen die Moslems en die Christenbeskawing (ook maar net met tussenposes beskaafd), was die posisie van die heilige stad Jerusalem wat ook in die Arabiese Moslemryk geval het. Vanaf 1096 tot 1291 het konings, ridderordes en pouse agt sogenaamde kruistogte na die Heilige Land onderneem om dit te bevry van wat hulle genoem het, die Sarasene. Die ongeluk is dat hierdie kruistogte snel ontaard het in strooptogte waartydens na hartelus gemoor en geroof en verbrand en verkrag is, wat nou nie juis die harte van die Moslemwêreld gesteel het nie. Een kruistog is selfs onderneem teen die Kathare of Albigensers wie se beginsels veel meer Christelik was as dié van die amptelike kerk. Oor die bloederige geskiedenis van die Christelike kerk het ons reeds elders die een en ander gesê…

Een van die regstreekse uitvloeisels van die kruisvaarte was dat Konstantinopel dermate verswak was dat die Turke (Moslems) geen moeite gehad het om die stad te oorrompel nie en tesame daarmee goot gedeeltes van ‘n eeue oue Christenbeskawing. Die teenwoordigheid en invloed van die kruisvaarders het finaal tot ‘n einde gekom met die val van die kasteel St Jean d’Acre in Mei 1291.

Ná 1291 was daar geen verdere noemenswaardige Westerse teenwoordigheid in die Midde-Ooste, insluitend Israel, nie tot die begin van imperialistiese gekonkel wat gedurende die Eerste Wêredloorlog begin het en uitgeloop het op die beroemde of berugte Balfour-deklarasie van 2 November 1917. Die Balfour-deklarasie was ‘n brief van die Britse minister van buitelandse sake, Lord Balfour, gerig aan Walter Rothschild, bankier en leier van die Joodse gemeenskap in Brittanje.

Die brief het gelui :

“His Majesty’s government view with favour the establishment in Palestine of a national home for the Jewish people, and will use their best endeavours to facilitate the achievement of this object….”

Hierdie verklaring het die saad gesaai vir wat sedertdien die hoofbron is van die Moslemwêreld se wrok jeens die Westerse wêreld. Hierdie vyandiggesindheid word ook van nuuts af aangeblaas telkens wanneer ‘n nuutverkose Amerikaanse president in sy eerste toespraak «onvoorwaardelike steun» aan Israel toesê. Die eensydige simpatie van die Westerse wêreld teenoor Israel is dus ‘n faktor wat in hierdie verband nooit onderskat moet word nie.

George W. Bush en die Saoedi-kroonprins
George W. Bush en die Saoedi-kroonprins

Maar daar is ook faktore wat nader aan ons tyd lê. Die destabilisering van die hele Midde-Ooste deur Amerika, Engeland en ander Westerse lakeie het die weg gebaan vir Moslemterrorisme regdeur die gebied en terseldertyd regstreeks die dood veroorsaak van tienduisende mense, mans, vroue en kinders in Libië, Irak en Sirie, ‘n proses wat trouens met die ondermyning van die Sjah van Iran al begin het. Hierdie aanvalle van Westerse lande kan vanuit ‘n sekere perspektief ook as terreurdade beskryf word. Mnr Tony Blair is trouens juis nou in die spervuur in Engeland oor sy aandeel in die ongeregverdigde en illegitieme inval in Irak. In sy verweer sê mnr Blair dat dit verkeerd was om die aanval te loods, maar dat hy dit weer sal doen. Rasioneel?

Terselfdertyd is die Amerikaners diep in die bed met die weersinswekkende regime in Saoedi-Arabië ten spyte van sterk aanduidings dat Saoedi-Arabië terrorisme wêreldwyd steun en moontlik betrokke was by die 11 September-aanvalle.

pastedImage
George W Bush verwelkom die kroonprins van Saoedi-Arabië «Southern style» tydens ‘n staatsbesoek aan die VSA.

Om ‘n gevolgtrekking te probeer waag uit al hierdie faktore en elemente is bykans onbegonne.

Kom ons stel dit so:

In Islam is politiek, ideologie, die reg en die godsdiens onafskeidbaar van mekaar. Voorts is daar ‘n onmiskenbare verband tussen die Moslemgodsdiens, fanatisme en geweld. Dis duidelik dat alle Moslems nie ewe radikaal en fanaties is nie, maar dis ook duidelik dat min of meer alle Moslems in mindere of meerdere mate simpatiek staan teenoor pogings om die oorhand oor die ongelowiges en wangeskapenes te kry en Islam as ‘n politieke mag te bevorder. Die harde kern van Moslemradikalisme verskuif voortdurend van een wêrelddeel na ‘n ander, maar bevind hom tans in Sirië by die Islamitiese Staat of Daesh. Dit gaan hier om ‘n wêreldstryd wat eenvoudig nie vanself sal weggaan nie en trouens toenemend in felheid gaan toeneem. Vir regerings om bv ‘n noodtoestand af te kondig en dan weer te beëindig en dan weer af te kondig is die toppunt van absurditeit en getuig van die soort lamlendigheid wat die Islamitiese Staat meedoënloos uitbuit. Die taak van Moslemektremisme word vergemaklik deur die onkonsekwentheid van Westerse politici, hulle volstrekte weiering om die bedreiging te sien as Islamities geïnspireerd en hulle onbesonne immigrasiebeleid. En ten slotte is dit so en sal dit waarskynlik so bly dat Islam en die Westerse lewenswyse fundamenteel onversoenbaar is.

Nota 1

Die Moslemwêreld bestaan uit ‘n menigte faksies, sektes, verdelings, stamme. Tot betreklik onlangs is die voetstuk van die Moslemgeloof, nl die Arabiere, geregeer deur ‘n duisternis Emirs en Kalifas en prinse en koninkies van allerlei aard. Die huidige grense van die Arabiese wêreld is kunsmatig getrek deur die Franse en die Engelse, soos ook in baie ander wêrelddele, insluitend Afrika gebeur het. Die grense van Arabiese lande omsluit dus dikwels groepe mense wat met mekaar weinig in gemeen het, en trouens mekaar dodelik vyandiggesind is. Kyk maar Sirië, of Afghanistan of Irak of Libië.

Die vernaamste verdeling is dié tussen die Soenniete en die Sjiïete wat dateer van kort na die dood van Mohammed. Ongeveer 85% van die wêreld se Moslems is Soenniete. Die grootste deel van Noord-Afrika (die Maghreb) behoort tot die Soenniete en so ook Egipte, Saoedi-Arabië, Jordanië, Sirië, Afghanistan, Pakistan, Indonesië, ens. Die Sjiïete vorm die meerderheid in Iran, Libanon, Irak, Jemen en Bahrein, en natuurlik, Soenniete en Sjiïete haat mekaar met hart en siel.

Maar daar is ook nog ander subgroeperinge waarvan die belangrikste:

Die Wahabiete, ‘n ortodokse politiek-religieuse organisasie wat die mag agter die troon in Saoedi-Arabië uitmaak. Daar word wyd aangeneem dat die Wahabisme ‘n skepping is van die Britse geheimediens, wat daarop gemik was om die olieryke Arabiese skiereiland te beheer en wat dateer uit die Eerste Wêreldoolog toe T.E. Lawrence (van Lawrence of Arabia-faam) die strydende vorste van Saoedi-Arabië teen die Turkse besetters saamgesnoer en gemobiliseer het. (Lawrence was ‘n Britse geheime agent).

Nog ‘n belangrike fundamentalistiese politiek-religieuse sekte is die Salafiste wat in Aghanistan ontstaan het. Die Islamitiese Staat of Daech in Sirië is’n ekstremistiese faksie van die Salafiste.

Die Moslembroederskap: ‘n Soortgelyke organisasie in Egipte. Die afgesette Egiptiese President Mohamed Morsi was ‘n Moslembroeder.

Maar daar is nog vele, vele meer: Die Soeffiste, die Bahas, die Droese, die Khariïete, ens, ens, ens (na beraming is daar 74 sulke sektes) en almal het die een of ander rede om die ander te haat. Vandaar dan die geweldpleging van Moslem teenoor Moslem wat so algemeen voorkom en waarvoor daar soms met moeite verklarings te vind is.

Nota 2

Islam is ‘n monoteïstiese geloof waar alle oppermag toegesê word aan ‘n een enige God (Allah) en sy laaste profeet is Mohammed, aan wie Hy Homself openbaar het deur die tussenkoms van die Engel Gabriël (Gibril) wat die woorde van die Koran aan hom gedikteer het.

‘n Paar opmerkings hieroor: Die bestaan van Jesus word nie in Islam ontken nie. Talle verse van die Koran (Soerate genoem) verwys na Jesus, maar niks word gesê oor sy leringe nie en boweal niks oor die liefdesgebod nie. Die Godheid van Jesus word ontken, hoewel gesê word dat hy deur die tussenkoms van die Heilige Gees uit die maagd, Maryam, gebore is. Van die Soerate wat op Christus betrekking het, lui:

Jesus is versterk deur die Heilige Gees.

Allah het hom aan Jesus geopenbaar.

Jesus het in die liggaam na die hemel opgevaar.

Jesus se kruisiging word ontken.

Jesus is bloot ‘n boodskapper van Allah.

Jesus het wonderwerke verrig.

Jesus het nie verlang dat hy of Maria aanbid moet word nie.

Allah het die Evangelie aan Jesus openbaar.

Vervloek is hy wat sê Jesus is die seun van God.

Hoewel die Moslems glo dat die finale woord oor die wil van God deur die engel Gabriël aan Mohammed gedikteer is, is hulle geloof so te sê volledig gegrond op die Joodse Ou Testament. Die Ou Testament word nie woordeliks in die Koran gesiteer nie. Daar word eenvoudig aangeneem dat Moslemgelowiges met die Ou Testament vertroud is. Die Moslem en Joodse geloof het dus so te sê identiese grondslae, vreemd soos dit mag klink. Mohammed is die laaste en beslissende profeet in ‘n lang reeks profete wat darem Christus ook insluit.

Volgens die Encyclopedia of Islam leer die Moslemgeloof dat God die Heilige Waarheid deur ‘n reeks profete in die Hebreeuse Bybel geopenbaar het, onder meer Adam, Noag, Abraham, Moses en Dawid. Die profete het hierdie openbarings in heilige geskrifte neergelê. Die Koran verwys na die Hebreeuse Bybel as die Suhuf Ibrahim (perkamentrolle van Abraham), Suhuf Musa (geskrifte van Moses, ens). Die Moslems glo egter dat hierdie ou geskrifte gedeeltelik foutief, onvolledig of selfs deur onsuiwer motiewe van rabbi’s, vertalers, ens., gekorrupteer is en dat God hierdie gebreke in sy openbaring aan Mohammed reggestel het.

Die Allah van die Moslems is gewoon die Joodse JHWH of Jahweh wat in die Christelike tradisie vervorm is tot Jehowa. Meer as vyfhonderd jaar voor Mohammed het die oorgrote meerderheid Jode en Christene in Arabiese lande na God verwys as Allah. Ook die geskiedenis van die Arabiere is identities aan dié van die Jode en so is Abraham (Ibrahim) hulle gemeenskaplike aartsvader en beskou hulle hulself as die afstammelinge van Ismael, die kind wat Abraham gehad het by die diensmeisie Hagar.

Talle daaglikse Moslemgebruike het ‘n eweknie in die Joodse tradisie. Halal is die ekwivalent van die Joodse kosjer, Moslems en Jode beoefen beide die besnydenis, beide eet geen varkvleis en skulpvisse nie, beide eerbiedig ‘n menigte reëls, wette, rituele, feeste, gebiedinge en verbiedinge.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.