Trump triomfeer as presidentskandidaat

Deel op

Donald Trump is amptelik die presidentskandidaat vir die Republikeinse Party.

Die miljardêr is Dinsdagnag in Cleveland in die Amerikaanse deelstaat Ohio amptelik as dié party se kandidaat aangewys.

Hy het 16 teenstanders uitgestof en moes byna ‘n jaar lank ‘n uiters giftige mediaveldtog, selfs uit Republikeinse geledere, trotseer.

Hoofstroomontleders het ook week na week plegtig verklaar dat Trump nie ‘n kans staan om ooit benoem te word nie.

Kort voor die aankondiging het Rupert Murdoch, eienaar van die gewilde Fox News nog van sy stigter Roger Ailes probeer ontslae raak, om die Trump-golf te keer.

Ailes, wat te “regs” is na Murdoch se smaak, is ‘n Trump-ondersteuner en was voorheen die raadgewer van president Richard Nixon. Hy het Fox van niks af uitgebou tot ‘n magtige en uiters winsgewende media-organsisasie.

Donald Trump jr., Trump se oudste seun, het by die party se nasionale konvensie die deelstaat New York se steun aan die kandidaat toegesê wat aan hom 1 237 afgevaardigdes besorg het.

Die byeenkoms is die eerste dag ontwrig deur ‘n groep wat gedink het hulle kan die benoeming ontspoor, maar die teenstanders is gou uitgeboender en hul pogings het klaaglik misluk.

Die Amerikaanse presidentsverkiesing vind op 8 November plaas.

Mike Pence, goewerneur van Indiana, is reeds voor die benoeming as die Republikeinse Party se visepresidentskandidaat aangewys, in ‘n poging om die onderlinge geskille binne die party by te lê.

Afgevaardigdes het senator Ted Cruz uitgejou nadat hy nie in ‘n toespraak sy amptelike steun aan Trump as die party se presidentskandidaat toegesê het nie.

Cruz het vroeër teen Trump meegeding vir die party se benoeming, en het in die tweede plek geëindig. Hy het Trump gelukgewens, maar die swak verloorder het bygevoeg dat Amerikaners volgens hulle “gewetes” moet stem.

Trump-ondersteuners het ook striemende aanvalle teen Hillary Clinton geloods gedurende die Republikeinse Party se konvensie.

Sy het privaat e-posbedieners gebruik in haar ampstermyn as minister van buitelandse sake, vermoedelik om betalings te ontvang vir gunste, ook van buitelanders. Dit kom basies neer op hoogverraad.

Die federale speurdiens (FBI) het ná ‘n ondersoek bevind dat Clinton gelieg het oor haar hantering van geklassifiseerde inligting. Sy gaan egter nie strafregtelik daaroor vervolg word nie.

Clinton het haar fondsinsameling ongeërg voorgesit ná Trump se benoeming en getwiet: “Donald Trump is pas aangewys as die Republikeine se kandidaat. Begin nou geld bydra sodat hy nooit sy voet in die Ovaalkantoor sit nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.