Tiener volg in beeldhouer-pa se voetspore

Deel op

‘n Tiener van Nelspruit (15) het duidelik die talent vir beeldhouwerk van sy pa geërf en is reeds besig om van sy werke te verkoop. Hy is vasbeslote om ‘n suksesvolle loopbaan hieruit te maak en wil hom ná skool voltyds hierop toespits.

Armand van Rensburg is ‘n gr. 10-leerling en het reeds van kindsbeen af sy pa, Nic van Rensburg, ‘n voltydse kunstenaar en beeldhouer, dopgehou. Hy was ses jaar oud toe hy driedimensionele beeldjies uit gewone kinderklei gemaak het terwyl Nic besig was met sy beeldhouwerk.

“Ons het hom in 2007 ingeskryf vir die kunste-Eisteddfod waartydens hy ‘n A+-simbool vir skilder en beeldhouwerk behaal het,” vertel sy ma, Ria van Rensburg, trots. “Die passie wat hy vir sy beeldhouwerk het, is duidelik te sien in sy entoesiasme en toegewydheid. As hy eers besig raak met die wasbeeldjie, sal hy vir ure hierop fokus en moet ons help dat hy ‘n balans hou tussen die skool– en beeldhouwerk.”

Ria het verduidelik dat die oorspronklike beeld uit klei gemaak word waarna dit in ‘n rubbervorm gegiet word. “Daar word ‘n hol waskopie van die gietvorm gemaak wat dan in keramiek gedoop word. Dié keramiekvorm word in ‘n oond gebak wat die was laat smelt en uitloop. Die gesmelte brons word dan in dié holte gegiet.

“As die beeld afgekoel het, word die keramiek afgekap en die brons voerpypies wat verhoed het dat lugborrels in die bronsbeeld vorm, word dan netjies afgewerk. Laastens word daar patina – ‘n suur wat met die brons reageer – oorgesit wat aan dié metaal sy kenmerkende kleur gee. Dit kan in verskillende kleure gedoen word. Die beeld word dan op ‘n voetstuk gemonteer.”

Dit is nie ‘n vinnige proses nie en kan tussen ses en agt weke neem, afhangend van hoe groot die beeld is. Armand is versot op die natuur en het op ‘n jagluiperd wat hardloop besluit vir sy eerste bronsbeeld. Twintig van hulle is gegiet en nou by sy pa se studio te koop.

Hy het ook ‘n afbeelding gemaak van ‘n bosbokkie wat deur ‘n jagluiperd gejag word en dit is tans by die bronsgieter. Sodra hy klaar is met die jagluiperd wat op die bokkie jagmaak, wil hy die afbeelding van vlakvarke aanpak en hy is druk besig met navorsing oor dié diere.

Bron: Lowvelder

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.